.

Haai, my naam is Maree en ek woon op 'n 8.5ha kleinhoewe, my stukkie Afrika-aarde in Tarlton, Suid Afrika, saam met my wederhelf, verskeie geveerde vriende en Jacko, my Foxterrier x wat nie weet hy's 'n hond nie.

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Monday, December 30, 2013

Die Manifestasie van Vreugde in 2014


Wy jouself daaraan om vreugde te manifesteer in alles wat jy doen in hierdie komende jaar.

Geluk het nie net een definisie nie. Dit is verskillend vir elke individu. En geluk is nie net te vinde in die groot dinge van die lewe nie.

Dit draai nie net om die nuwe motor of die miljoen-rand woning nie. Geluk kan gevind word in 'n oulike grappie wat jou laat lag elke keer as jy daaraan dink. Dit kan gevind word in jou gunsteling rolprent wat jy elke Sondag kyk of 'n wandeling op die strand Dit verbaas jou in die stem van 'n kind wanneer hy of sy jou vertel van hul dag. Geluk is binne jou en al om jou. Jy hoef nie te ver te soek om dit te vind nie.

My wense vir jou 2014 is 'n jaar gevul met VREUGDE, LIEFDE en INSPIRASIE!

Voorspoedige Nuwe Jaar! 

::

Friday, December 20, 2013

Bevry jouself


Partymaal moet jy alles laat gaan - heeltemal skoonmaak en reinig. As jy ongelukkig is met iets - wat ookal dit is wat jou onder kry, raak ontslae daarvan. Want jy sal vind dat, wanneer jy vry is, jou ware kreatiwiteit, jou ware self, na vore tree.

Jou filosofie word nie die beste uitgespreek in woorde nie; dit word uitgespreek in die keuses wat jy maak. Oor 'n tydperk skep ons ons lewens en skep ons onself. Die proses eindig nooit nie. En, die keuses wat ons maak is uiteindelik ons eie verantwoordelikheid.

Binne elk van ons is 'n verborge stoor van energie. Energie wat ons kan gebruik om deel te neem aan die maraton van die lewe.

Binne elk van ons is 'n verborge stoor van moed en dapperheid. Dapperheid om ons die moed te gee om enige uitdaging te aanvaar.

Binne elk van ons is 'n verborge stoor van vasberadenheid. Vasberadenheid wat ons sal ondersteun wanneer alles hopeloos lyk.

Selfs die gelukkigste lewe is nie sonder 'n tiksel donkerte nie en die woord 'gelukkig' sal waardeloos wees as dit nie gebalanseer is deur treurigheid nie. Dit is veel beter om dinge te aanvaar soos dit kom met geduld en gelatenheid.

'Verander dit wat jy kan verander, aanvaar dit wat jy nie kan verander nie en verwyder jouself van dit wat onaanvaarbaar is.'
- Maree

.

Wednesday, December 11, 2013

Jy Hoef Nie slegte Kinderdae-gebeurtenisse te Verwerk Nie


Jy hoef nie terug te gaan om slegte kinderdae-gebeurtenisse te verwerk en uit te sorteer nie, want dit is daardie kinderdae-gebeurtenisse wat 'n vibrasie in jou geskep het wat jy nou nog offer - wat vandag se gebeurtenisse te weeg bring. Jy kan jou vibrasie baie makliker verskuif wanneer jy konsentreer op HUIDIGE gebeurtenisse eerder as om dit te probeer doen deur kinderdae-gebeurtenisse te verwerk. Dis dieselfde vibrasie. Daai vibrasie wat kinderdae-gebeurtenisse geskep het, skep nou vandag se gebeurtenisse.

Verwerk dit in jou huidige NOU.

"Watter gedagte voel beter? Watter gedagte voel beter? Watter gedagte voel beter?"
- Maree

.

Wednesday, December 4, 2013

'n Leseres se suksesverhaal


'n Vriendin en gereëlde besoeker aan my webwerf, ons noem haar "Sannie", het vir my hierdie skryfstuk gestuur nadat ek haar lank gepor het om haar verhaal te vertel. Sy was suksesvol in baie aspekte van haar lewe, maar het deur die jare moeilike tye beleef - 'n ekskeiding wat haar pennieloos gelaat het en van al haar selfvertroue beroof het, het haar laat begin om haar lewe van voor af te evalueer...

"My reistog na selfontdekking na my egskeiding was onafgebroke en ek was besig met die uitbreiding van die beeld van myself en my eie identiteit. In die algemeen dink ek dat ek uiteindelik begin het om suksesvol en gelukkig te voel na my besigheid suksesvol begin word het.

Ek het 'n groeiende gevoel van welwillendheid en tevredenheid gehad en ek is mal oor moeder wees en die versorging van my dogtertjie. Ek het my lewe geniet as 'n enkel-ouer en het baie gehaltetyd gespandeer saam met my dogter. Boonop het ek 'n pragtige vier-slaapkamer huis in 'n wonderlike area gekoop. Ek het 'n goeie bestaan gemaak en het elke jaar meer en meer verdien.

Soos ek bewustelik gewerk het aan 'n gevoel van waarde en waardigheid, het ek ook optimisties gevoel omtrent die lewe en was meer standvastig as ooit tevore. Ek het moedig gewerk aan moeilike negatiewe emosies, geleer wat ek kon van hulle en verkies om hulle te vervang met meer positiewe gevoelens.

Nietemin, daar het nog iets geskort. Alhoewel ek vorentoe beweeg, het ek aangevoel dat ek soveel meer in die lewe kon roep.

Finansiële kwellings en vrese dat ek nooit weer liefde sal vind nie het aan my geknaag. Ek het nie geweet hoekom ek so rusteloos was nie en het 'n gewaarwording van ontbering ondergaan.

Ek het nooit besef dat my emosies besig was om my vaagweg ontevrede te laat voel nie, aangesien dit so subtiel was dat ek dit baie maal nie raakgesien het nie. My positiewe gevoelens was daar, maar dit was asof baie van hulle skaars hoorbaar was sodat ek 'n sterk poging moes aanwend om hulle te hoor.

Ek het gevoel dat, as ek harder probeer, ek sukses kon "forseer" en my lewe tot 'n hele nuwe vlak lig, maar ek het vinnig gevind dat ek na nêrens op pad was, maak nie saak hoé hard ek probeer het nie.

Gevolglik het ek so styf vasgehou aan alles wat ek behaal het, en was nou oorweldig deur negatiewe gedagtes en gevoelens omtrent alles wat ek nie gehad het nie. Die sukses wat ek geniet het, het gelei na 'n hunkering vir nog meer. Ek het geglo dat, as ek net meer kan verdien, ek minder angstig sou voel en meer vrede sou ondervind. Maar hoe méér en harder ek gewerk het om te hou wat ek het en om meer in te palm, hoe groter was my vrees.

Toe my inkomste skielik begin val, het ek wanhopig probeer vasstel wat ek besig was om professioneel verkeerd te doen. Ek het die nodige risikos geneem om besigheid op te stoot, maar wat ek nie besef het nie was dat, die feit dat ek besig was om te fokus op wat ek NIE wil hê nie (naamlik vrees, angs en ontbering), besig was om my terug te hou van die bereiking van dít wat ek wel wou hê - tevredenheid, kalmte en oorvloed. Ek het probeer om die spirituele onderrigters en selfontwikkelingsdeskundiges, wie gesê het weelde en oorvloed sal myne wees as ek dit net aanvaar, te glo, maar ek het gevoel asof ek geen beheer het oor hoe om meer geld te maak nie.

Ek was vreesagtig ek sou my besigheid en huis verloor, en was besig om ingesuig te word in 'n draaikolk van negatiwiteit. Ek het my self-waarde betwyfel en gewonder hoe ek kon durf om ander te

Gelukkig het ek hierdie slagspreuk onthou :

"Om alles te besit, moet jy gewillig wees om alles te verbeur."

Dit was nodig vir my om myself te bevry van die vrees dat ek myself sou verloor as ek al my 'besittings' sou verloor. Ek het besef dat, indien ek dit kon doen, ek werklik sou ophou om vreesagtig te wees. Maar het ek die moed gehad om van alles afstand te doen?

Die werklikheid is dat ek nie régtig van alles sou moes afstand doen nie (ek sou bv. nie van my huis moes ontslae raak nie), maar ek het verstaan dat ek gewillig moes wees om van alles afstand te doen. Ek moes bereid wees om myself los te maak en af te sonder van my besittings - maak nie saak wát ek sou verloor nie - ek besit die mag om my vrees en angstigheid te beheer en geluk vir myself te skep.

Ek het besef daar is geen rede om besitlik te wees oor aardse besittings nie as ek net geloof kon hê dat alles in my lewe weer geskep kon word, want ek het dit geskep in die eerste plek. As jy die mag het om te bou, het jy die mag om te her-bou.

As ek vol vertroue wil wees, moet ek vertroue skep en die Heelal sal reageer deur my te help om te slaag.

As ek ryk wil wees, moet ek 'n gevoel van rykdom en oorvloed skep en die Heelal sal Voorspoed bewerkstellig.

Ek het verstaan dat dít wat ek probeer skep nie noodwendig sal verskyn in die vorm wat ek verwag nie, bv. miskien sal ek nuwe kliënte kry, of die geld sal kom uit 'n ander onverwagte oord. Natuurlik sou ek die beste moes maak van al die geleenthede wat die Heelal voor my deur lê, maar ek het nou gewéét dat dit nie nodig was om angstiglik te sukkel om my doelpunt te bereik nie. Ek kan die situasies aantrek wat die ewebeeld is van my geluk, oorvloed en vertroue.

Die oomblik wat ek opreg begin glo het dat ek meer is as wat ek besit - dat ek nie gedefinieer is by wat ek behaal het of besit nie - het my lewe dramaties begin verander.

Ek het die emosies geskep wat ek wou beleef en die nuutgevonde krag binne myself laat toe dat ek groei en floreer soos nog nooit tevore!"

.

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...