.

Haai, my naam is Maree en ek woon op 'n 8.5ha kleinhoewe, my stukkie Afrika-aarde in Tarlton, Suid Afrika, saam met my wederhelf, verskeie geveerde vriende en Jacko, my Foxterrier x wat nie weet hy's 'n hond nie.

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Friday, February 28, 2014

Jou nalatenskap


Die herinneringe aan my Pa wat my artikel 'Dankbaarheidslied' meegebring het, het my laat besef dat, al waarby mense jou sal onthou, is jou nalatenskap wat jy agter laat. Jou aksies, die dinge wat jy gedoen en gesê het, die reëls waarvolgens jy geleef het. Almal het hul swakhede en dis die erkenning van daardie swakhede en hoe jy dit hanteer wat op die ou end jou karakter bepaal.

 So vra jouself:

  • Het jy die respek van jou gelykes en die admirasie van jou kritikusse verdien?
  • Was jy beskeie in die aansig van sukses en grasievol in die gesig van neerslag?
  • Het jy jou kinderlike verwondering behou en jou verlustig in die skoonheid van die lewe en die klein wonderwerke van elke dag?
  • Sal jy onthou word vir hoeveel jy gelag het en glimlagte na die harte van andere gebring het?
  • Was kinders en ou mense bly om saam met jou te wees?
  • Het andere jou vertrou met hul innerlike geheime?
  • Het jy vergewe en om verskoning gevra?
  • Het jy die beste in ander raak gesien en hulle opgebou?
  • Het jy 'n honger kind gevoer of 'n naakte man geklee of hulp verleen aan 'n vreemdeling in 'n verknorsing?
  • Hoe het jy Moeder Aarde behandel - sal die wêreld 'n beter plek wees deur hoe jy jou lewe gely het?
Watse legaat gaan jy nalaat?

.

Friday, February 14, 2014

SELFSORG - VAN 0 TOT 100 (in tien stappe)



Selfs die langste reis begin met die eerste tree. As jy sukkel om daardie eerste stap tot aksie te neem, lees hier ...

Met die somer in volle swaai voel jy dalk ook soos n sagtepels diertjie wat uit ’n winterslaap ontwaak het. Nuwe energie en lus vir die lewe wil-wil deur jou are begin bruis. Laat die lentebloeisels en jong, groen blare aan die bome vir jou ’n aansporing wees om self iets gedoen te kry. Dalk is dit ’n ou projek wat jy al sedert die skepping uitstel om te doen of ’n nuwe uitdaging waaroor jy baie onseker voel.

Almal ken die uitdrukking goed begin is half gewin .... Maar dit is juis by die begin waar die knoop lê. Jy weet nie waar en hoe om te begin nie ... Die eetkamermuur wat jy wil verf begin skielik na die muur van China te lyk. Of dalk wéét jy waar om te begin omdat jy dit al tot vervelens toe in jou kop (en op papier) uiteengesit het, maar jy kry jouself net nie so ver om tot aksie oor te gaan nie. Gelukkig is daar raad vir die aksie-benadeeldes, die soutpilare en die uitstellers onder ons ...

Só maak jy n begin ...

1. DEEL DIT OP.
Enige taak, maak nie saak hoe groot dit is nie, kan in kleiner, hanteerbare dele opgebreek word. Gestel ek sou jou vra om ’n boek van 300 bladsye te skryf, sal jy waarskynlik voel dit is ’n te groot hap om af te byt. Maar as ek jou sou vra om net een bladsy elke dag vir die volgende jaar te skryf, lyk die taak al makliker. Selfs al begin jy net vandag met die kleinste stukkie van die grootste taak, het jy ten minste al iets gedoen.

2. DOEN, DUMP OF DELEGEER.
Gebruik hierdie beginsel om die lewe vir jouself makliker te maak. Vra jouself eers af of dit iets is wat hoegenaamd gedoen moet word. Indien wel, is jy werklik die regte een om dit te doen? Waarom sal jy self jou belastingvorm invul as ’n belastingkonsultant dit baie vinniger en slimmer kan doen.

3. STEL SPERDATUMS.
As ’n taak klaar in kleiner dele opgedeel is, kan jy jouself motiveer deur sperdatums vir verskillende take op te stel. Maar wees asseblief realisties en nie te hard op jouself nie. Onrealistiese teikens en ’n sersant-majoor-houding gaan net jou moed breek.

4. BELOON JOUSELF.
’n Beloning was nog altyd ’n baie beter wortel-voor-die-neus as straf. In plaas daarvan om te sê “As ek nie teen môre daardie hoofstuk gelees het nie, moet ek by die huis bly as die ander gaan fliek”, sê eerder “As ek daardie hoofstuk klaar gelees het, kan ek gaan fliek”.

5. VERANDER EK MOET IN EK WIL.
Al ooit agtergekom hoeveel makliker dit is om iets te begin doen waarvan jy hou (soos geskenke toedraai) teenoor iets waarvan jy nie hou nie (soos kaste regpak). Ongelukkig vereis te lewe van ons om soms goed te doen waarvoor ons geen natuurlike aantrekkingskrag het nie. Die geheim is dan om verby die onmiddellike taak te kyk en te fokus op die voordele wat dit vir jou kan inhou as jy dit afhandel. Dink net hoeveel beter jy gaan voel as jy klaar is.

6. BENUT JOU ENERGIE OPTIMAAL.
Van nature is ons geneig om dit waarvan ons hou eerste te doen. Maar doen eerder die ding waarvan jy die minste hou (of wat die moeilikste lyk) wanneer jy die meeste energie het. As jy weet dat jy ’n oggend-mens is, staan vroeg op en handel daardie regpak projek af terwyl jy nog vars en vrolik is.

7. HERDOOP JOUSELF.
Jou reputasie as ’n uitsteller loop jou al vooruit. “Ag nee wat, sy sal dit nooit doen nie,” is wat jou familie gewoonlik sê as hulle van jou planne hoor. En in jou eie gedagtes dink jy aan jouself as “lui, onbetroubaar en ’n mislukking”. Selfs al sien jy dit nog nie in die praktyk nie, moet jy anders oor jouself begin dink en praat. Visualiseer jouself as ’n doener en iemand wat ’n sukses maak van dit wat sy aanpak.

8. HANTEER BLOKKASIES.
Wanneer jy regtig negatief en nie lus voel nie, vra jouself: “Is daar enigiets, maak nie saak hoe klein nie, wat ek bereid is om te doen?” As jy daardie een klein dingetjie gedoen het, voel jy ten minste nie soos ’n totale mislukking nie.

9. VERBIND JOUSELF.
As iemand jou vra wanneer jy met ’n sekere taak gaan begin en jy gee wollerige antwoorde soos “miskien volgende week” moet jy weet dat jy dit waarskynlik nooit gaan doen nie. Kry iemand teenoor wie jy verantwoording kan doen en wat jou kan help om teikens te stel en jou vordering dop te hou. As jy wil begin oefen, vertel soveel mense as moontlik. Want dit gaan baie moeiliker wees om uiteindelik kop uit te trek as tien mense weet wat jy beplan het om te doen.

10. KYK VORENTOE.
Jy kan nie vorentoe ry as jy aanhou terugkyk in jou truspieel nie. Fokus op waarheen jy op pad is, eerder as op waar jy vandaan kom en verbeel jou al hoe goed jy gaan voel wanneer jy slaag.
En as jy eers wil wag vir die weerligstraal om te kom vóór jy wegspring, hou Frank Tibolt se woorde in gedagte:

“Ons behoort geleer te word om nooit vir inspirasie te wag om iets te begin nie. Aksie skep inspirasie.”

En wat is jou verskoning?

Die studeerhoekie is in n toestand. Belangrike rekeninge word verlê, daar is geen ruimte om te werk nie en al die opgegaarde tydskrifte is al ’n brandgevaar! “Vandag is die dag waarop ek ’n beter stelsel uitdink en hierdie plek regpak,” sê jy vir jouself. Maar jy doen dit nooit nie. Klink een van die volgende redes wat jy as verskoning aanvoer dalk bekend?

Ek weet nie waar om te begin nie. Alles voel so oorweldigend.” Jy is waarskynlik hopeloos ongeorganiseerd en het nog nie geleer om ’n groot taak in kleiner, meer beheerbare dele op te breek nie.

Daar val altyd iets voor. Sodra ek wil begin, het die kinders iets nodig of wil ’n vriendin kom kuier.” Hierdie verduideliking spreek boekdele oor die grense wat jy stel. Ander (jou kinders, man of vriende) se behoeftes kom altyd eerste en daarom sal jy nooit uitkom by dit wat werklik vir jou belangrik is nie.

Ek is bang ek kry dit nie reg nie. Jou vrees vir mislukking kan jou soos ’n soutpilaar laat vassteek. Vra jouself af waarom jy nie vertroue in jou eie vermoëns het nie.

Voor elke element nie presies in plek is nie, kan ek nie begin nie.” Dit is ’n perfeksionis wat hier praat. Wat jy eintlik sê is: “My standaarde is te hoog vir hierdie wêreld.” Dalk is dit tyd om jou standaarde te verlaag sodat jou goeie bedoelings nie net leë woorde bly nie.

Ek is nie vandag in die bui hiervoor nie.” ’n Bui is nie soos ’n verkoue wat jou skielik oorval nie. Diep binnekant het jy vir jouself gesê jy is nie vandag lus om die studeerhoekie reg te pak nie. Jy behoort in beheer van jou emosies te wees en nie andersom nie!
(Uittreksel uit Finesse Tydskrif)

.

Wednesday, February 5, 2014

Begin 'n Dankbaarheids-Joernaal


Joernaal-aantekeninge is maar net die daaglikse skrywe van jou gedagtes en idees op papier. Dit kan 'n grootse ondervinding wees. Hierdie proses kan jou ondersteun in die soektog na byvoorbeeld waaroor jy angstig voel, of waarvoor jy 'n passie het en waaroor jy droom.

Koop vir jouself 'n pragtige notaboek en gebruik 'n pen waarvan jy hou om mee te skryf. Ek gebruik 'n ''Moleskine'' notaboek (wat by enige goeie boekwinkel beskikbaar is in verskeie formate). Vind 20 stil minute of so in jou dag en ek stel voor jy maak dit 'n roetine - ek doen myne net voor bedtyd of vroeg in die oggend - maar enige tyd wat jou sal pas is gaaf.
 
'n Paar van my gunsteling vulpenne :


Parker Sonnet Deep Black Laquer Gold Trim Medium Nib

Parker Sonnet Stainless Steel GoldTrim Medium Point 

Waterman Himisphere StarlightStainless Steel Medium point nib

Antique Waterman with Grey & Gold Laquer body, Thick nib

Skryf asof jy met jouself praat - skryf oor al jou gevoelens, wat jou pla of waaroor jy opgewonde voel, die dag wat voorlê of belangrike gebeure van die verlede en wat jy graag wil onthou. Ek sit alles in soos datums, plekke, die tyd, ens. Dit hoef nie meesterstukke te wees nie - hierdie is JOU joernaal en vir jou oë alleenlik. Ek plak ook sommer goeters of teken prentjies (sien ook artikel oor 'n Visiebord).

Ondersoek het duidelik bewys dat, om 'n Joernaal te gebruik, stres verminder en die immuunstelsel versterk, sowel as die volgende voordele: 

- dit laat jou beter voel oor die lewe
- dit maak jou meer optimisties oor die toekoms
- dit spoor jou aan om andere te help met hulle probleme
- dit verbeter jou gesondheid
- dit gee rigting en helderheid


Daar is baie dinge waaroor jy 'n joernaal kan hou - my gunsteling is my DANKBAARHEIDS-JOERNAAL. Elke oggend, sodra ek gebad, aangetrek en tande geborsel het, skryf ek my 'gratitudes' neer. Aan die begin gaan dit maar stadig, maar net deur met een klein dingetjie, soos "ek is dankbaar vir die sonskyn" te begin, begin jou lys van dankbaarhede te groei en binnekort het jy sommer 10 op een slag

In dieselfde boekie, aan die agterkant, doen ek my AFFIRMASIES vir die dag, soos byvoorbeeld "Ek is gesond en gelukkig. Daar is geen siekte wat ek nie kan oorwin nie" of "Ek spreek van vreugde vir die lewe! Ek laat myself toe om elke oomblik van elke dag totaal te geniet!" My gunsteling een is "Dankie vir die dag wat voorlê...".

My Daaglikse Joernaal vir alles en nog wat - hierin doen ek ook sketse saam met my inskrywings.... 

Hier is 'n paar idees vir 'n Joernaal - ek is seker jy kan nog met vele meer vorendag kom :

- Tuin-joernaal
- 'n Natuur-joernaal
- Gebeds-joernaal
- Belangrike gebeurtenisse- en datums-joernaal
- Droom-joernaal (al die dinge wat jy nog die graagste wil vermag)
- Dinge-om-te-doen-joernaal
- Welbekende aanhalings- en inspirasie-joernaal
- 'n Joernaal met jou eie gesegdes, inspirasies en sketse (wie weet, eendag kan jy dit dalk verwerk in 'n eBoek!)
- 'n Joernaal oor jou kinders
- kort liefdesbriefies aan hulle
- Joernaal oor jou alledaagse gedagtes
- dinge wat jou pla, oorwinnings

Ek het 'n paar joernale op my rekenaar ook, maar daar is niks soos om met die hand te skryf nie!

'n Paar van my Moleskine notaboekies :


::

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...