.

Haai, my naam is Maree en ek woon op 'n 8.5ha kleinhoewe, my stukkie Afrika-aarde in Tarlton, Suid Afrika, saam met my wederhelf, verskeie geveerde vriende en Jacko, my Foxterrier x wat nie weet hy's 'n hond nie.

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Monday, September 26, 2016

Jou eie self-help lysie


Oktober (binne 'n paar dae!) is miskien die mooiste, mooiste maand, maar terwyl die lente sy kleure en geure in 'n weerbarstige streep oor die landskap trek, klim die herinnering aan verspoelde dae onder jou gewete in. Die jaar is amper verby en wat het jy nou eintlik gedoen? Bôggeroll! Die boek wat jy wou skryf, die marathon wat jy wou hardloop, die slegte gewoontes wat jy sou afleer – daar het niks van gekom nie. In stede is jy luier, dikker en dommer as 'n jaar gelede.

Maar daar is hulp!

 
Maak Meer tyd ... vir jou!
Het jy al ooit na jou horlosie gekyk en besef dis 15:05 en jy het nog níks van die dinge op jou dag se lysie gedoen nie? Hier is ’n paar eenvoudige stappe om dinge reg te ruk as jou lewe soos ’n mallemeule voel.

Doen niks!
As jy graag uitstel, probeer om niks te doen vir 15 minute nie, stel Ronni Eisenberg (Organise Yourself!) voor. Jy sal so gefrustreerd raak wanneer jy doodstil sit dat jy nie sal kan wag vir die 15 minute om verby te gaan voor jy mag begin nie!

Hou die klok dop
Weet jy hoe lank sekere take neem? Hou jouself vir n paar dae dop. Jy sal verbaas wees hoe min tyd dit vereis om klein werkies te doen, soos om ’n telefoonoproep te maak. Takies, wanneer dit uitgestel word, bou op tot ’n onmoontlike berg, so pas die ‘Doen-dit-nou’ reël toe op enige taak wat minder as 10 minute neem om te voltooi.

Gebruik geheue truuks
Vermy histeriese laaste-minuut soeke na sleutels, skoene of belangrike dokumente deur hierdie items altyd op dieselfde plek te bêre. Sodoende hoef jy nooit te skarrel nie!

Gryp jou kanse aan
Goeie tydsbeplanning gaan oor optimisties wees. Nie alle ooptye is vrye tyd nie, sê Eisenberg. As jou planne verander (byvoorbeeld as iemand ’n afspraak kanselleer), moenie lyf wegsteek nie. Gryp die kans aan om jou ‘om-te-doen’ lysie af te handel!



Friday, September 16, 2016

Iets vir Vrydag



Ons keuses is nie reg of verkeerd nie, dis net 'n keuse. Maar alle keuses lei tot 'n gevolg en dié gevolg bepaal hoe jy jou lewe lei. Ek weet nie of daar 'n volgende leeftyd is om weer te probeer nie, maar wat ek wél weet is dat, in die aangesig van die onsekerheid daarvan, maak dit sin om nou, in hierdie leeftyd, hierdie oomblik, jou lewe te lei vol passie en met oorgawe, en om dít te doen waarvoor jy lief is.

Friday, September 9, 2016

Kry weer gesag oor jou kinders


Dis September en vakansietyd en die einde van die jaar lê voor. Met 'n besige jaar agter die rug, kan dit voel jy asof jy gesag oor jou kinders verloor het en dit nie kan terugkry nie. Dis nie te laat nie – jy kan jou gesag herwin en jou kinders op 'n gesonde manier dissiplineer.


Gesonde gesag bestaan uit verskeie boustene:


Onvoorwaardelike liefde
'n Belangrike vraag om te vra: Hoe kan ek my kind beter liefhê?” Dit moet ons eerste doel wees. Ons moet glo in die krag van liefde om nie net ’n kind daarmee te kan toevou nie maar om werklik ’n kind daarmee te kan vorm. Ons moet liefde ook nooit as ’n teenpool van dissipline of gesag sien nie.

Eer (respek)
Dis ons reg om te verwag dat ons kinders ons met respek behandel, ordentlik met ons praat en op ons oudag sekere verantwoordelikhede teenoor ons nakom. Maar dit beteken ook dat ons ook ordentlik met ons kinders moet praat en hulle met die nodige respek moet behandel.

Hou by dit wat jy gesê het
Ons het die reg om aksie te verwag wanneer ons praat. Hierdie reg word weggegooi wanneer ons drie en vier maal praat, al harder praat en bang is om te praat as ons weet ons kind gaan sleg op ons woorde reageer. As ’n kind egter leer dat ons net een keer kalm en ordentlik praat en dan optree, geniet ons die voordeel van ware seggenskap.

Aanspreeklikheid
Een sinoniem vir aanspreeklikheid is verantwoordelikheid, en albei woorde verklap waaroor hierdie aspek van gesag handel. Neem aanspreeklikheid vir jou kinders se gedrag en besef ons leer mense hoe om ons te behandel.

Die reg om grense vas te stel
Ouers verwaarloos hierdie aspek van gesag wanneer hulle net op kinders se stoutigheid en ongehoorsaamheid reageer. Ons leer nie ons kinders vooraf waar die grense is nie en wanneer hulle dan in ons oë die grense oorsteek, straf ons hulle. Dis nogal onregverdig, nie waar nie? Ons weet tog die meeste kinders word nie met ’n goed ontwikkelde aanvoeling vir grense gebore nie!

Die vermoë om vreugde en sekuriteit te gee
Ons as ouers het die mag om ons gesin veilig te laat voel en ons huise met vreugde te vul. Die gesin ’n kind se hawe. Wanneer die kind tuis gelukkig en geborge voel, word dit soveel makliker om die ouers se gesag te aanvaar.

Erkenning van die bevelsorde
As ons teen die regering uitvaar, of as ons die sondes uit ons dominee se verlede met smaak oorvertel, doen ons verkeerd. Ons leer ons kinders om gesagsfigure net te respekteer wanneer hulle doen waarvan ons hou. Voor ons weet, spoel die minagting vir gesag ook in ons eie huis in, en met al ons kritiek teen ander, sal ons self nie kritiek vryspring wanneer ons nie na ons kinders se pype dans nie.

Regspraak en regverdigheid
Hou op om van alles n grys area te maak deur nie vir jou kinders reg en verkeerd te leer onderskei nie. ’n Gewete ontwikkel met tyd en deurdat ons geleer word wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. Dis onnodig om in sewe sinne aan ’n kleuter te verduidelik waarom ’n mens nie jou pa mag spoeg of jou ma se hare mag trek nie. Dis verkeerd. Eenvoudig.

Invloed en inspirasie
Ouers het ongelooflik baie mag om hulle kinders se lewens vir altyd te beïnvloed – baie meer as wat ons besef. Die positiewe invloed is onskatbaar en dit is die deel van ons universiele “mag” wat ons moet leer uitbou as ons die soort gesag wil hê wat ons wil verdien. Intussen moet ons die vermoë om dit vernietigend teen ons kinders te gebruik in onsself raaksien en beveg.

Nederigheid
Wat ouerskap betref, is nederigheid  ’n voorwaarde vir gesag. Ons kinders is eerste daar om te sien wanneer ons fouteer! Hulle het dus ook die reg om eerste te hoor dat ons jammer is.
 



.


 

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...