.

Haai, my naam is Maree en ek woon op 'n 8.5ha kleinhoewe, my stukkie Afrika-aarde in Tarlton, Suid Afrika, saam met my wederhelf, verskeie geveerde vriende en Jacko, my Foxterrier x wat nie weet hy's 'n hond nie.

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Monday, February 20, 2017

Januarie tot Desember

Wat beteken elke maand van die jaar vir jou? Hier's 'n glimlaggende kykie na elke maand van die jaar! 


Vat nou maar vir Januarie 'n maand sonder enige identiteit. 'n Klomp hou vakansie, terwyl die ander sotte sukkel om hul werk gedoen te kry, want die spul wat die tjeks moet teken, lê nog op Margate se strand. Dan jaag almal huis toe met 'n moerse spoed, terwyl pa sit en vloek oor sy overdraft wat in sy kanon is en ma die nuwe rolle om haar middellyf blou knyp. Die res van die maand eet almal viennas en droë Krismiskoek, want die kinders se skoolklere kos 'n plaas se geld.

Arme, stomme Februarie... Nie eens genoeg dae om 'n ware maand te wees nie en kry toe maar Valentynsdag sodat hy nie sleg moet voel nie. In Februarie gooi die meeste mense hul voornemens vir die nuwe jaar oorboord, begin weer rook/drink/vreet en verval in diepe depressie,want die hond is pregnant en die vrou kla sy's moeg om almal se slaaf te wees.

Maart - nou ja, foei tog. Nog vis, nog vlees. Dis te koud vir somersklere en te warm vir wintersklere. Jy kry 'n vieslike griep en vergeet jou selfoon op die apteek se toonbank. Die rentekoers gaan op en Breggie dreig om universiteit op te skop en haarself te gaan soek op 'n pelgrimsreis deur Indië. Graeme Smith bedank as die Proteas se kaptein, want hy wil meer tyd saam met Herschelle Gibbs deurbring.

Dan is dit April. Immers is daar 'n paar vakansiedae wat die gemoedere opkikker. Die Kaap is te duur en Durban te warm. Dan maar Oudtshoorn toe vir die KKNK waar jy jou beursie in die biertuin, jou geduld by die kaartjieskantoor en jou balans by die brandewynstalletjie verloor.

Mei-wêreld. Die Suid-Afrikaanse spanne beklee die onderste vyf plekke op die Super 14 punteleer en die minister van sport sê dinge lyk belowend. 'n Skoolhoof van Pretoria word gevang vir dronkbestuur en sy vrou bieg oor haar dobbelprobleem, wat weer op sy beurt tot haar man s'n gelei het. 'n Bekende gay modeontwerper bevestig dat hy eintlik heteroseksueel is en raak verloof aan oud-mej. SA, Suzette van der Merwe. Die Creepy Crawly sluk 'n oordosis herfsblare in.

Junie is nes Julie, jy spel hom net verskillend. Die verwarmer brand uit, die kaggel verstop en die warmwatersak lek. Robert Mugabe koop vir hom 'n woonstel in Kampsbaai en George Bush verklaar oorlog teen Switserland. Skoonma kom kuier en die boerboel vreet haar nuwe paar Hush Puppies op.

Julie het nog nooit die son gesien nie. Hy dra 'n grys mus, 'n langpyponderbroek en stewels wat sy voete laat stink. Dis nat in die Kaap, droog in Gauteng en koud in die Vrystaat. In die hoofstraat van Benoni – vroeër herdoop na Charlize Theron Boulevard – open 'n Charlize Theron-droogskoonmaker, 'n Charlize Theron-skoonheidsalon en 'n Charlize Theron-drankwinkel.

Eintlik wou Augustus nog altyd September gewees het. Nou steel hy maar 'n paar bloeisels en 'n bietjie son om sy vaal gesig in te kleur. Almal karring net aan, behalwe ons adjunkpresident, wat die wêreld vol rits in haar eie Gulfstream-jet. Sy sê gerugte dat sy haar vliegtuig teen 'n onbekende bedrag by 'n kontak van Schabir Shaik gekoop het, is ongegrond.

September is net 'n ander woord vir sinus. Meeste mense stik, stotter en snuif die maand deur. Patricia Lewis en Amor Vittone skryf saam 'n boek: "Skoonheid Vergaan, Maar Silikoon Bly Staan". Pa val van die leer af terwyl hy die geute verf en ma sluit by Weight Watchers aan, want die vakansie is net om die draai.

Oktober is miskien die mooiste, mooiste maand, maar terwyl die lente sy kleure en geure in 'n weerbarstige streep oor die landskap trek, klim die herinnering aan verspeelde dae onder jou gewete in. Die jaar is amper verby en wat het jy nou eintlik gedoen? Bôgeroll! Die boek wat jy wou skryf, die marathon wat jy wou hardloop, die slegte gewoontes wat jy sou afleer – daar het niks van gekom nie. In stede is jy luier, dikker en dommer as 'n jaar gelede.

November begroet jou met 'n kakofonie van voortydige Krismisklanke. Ná drie doppe op die office party beledig jy jou baas, lê aan by die ontvangsdame en brand 'n gat in die duur, gehuurde tafeldoek. Op Guy Fawkes raak die hond, die huishulp en die tuinslang weg. Sussie word naar op haar matriekafskeidrok en boetie kleur sy hare pers.

Desember is die begin van die einde. Steve Hofmeyr stig sy eie kerk, F*k*ofpolisiekar stel hulle gospel-CD vry en Leon Schuster se nuwe fliek, "Daar's 'n Xhosa in my Kooi", is 'n wegholsukses. Op Oukersaand gee Pappa vir Mamma 'n bottel "You're the Fire" en Mamma maak vir Pappa so warm dat hy Kersdag nog vonke doodslaan.
Hierdie is per ePos na my gestuur, skrywer onbekend

Hoop julle het almal 'n fantastiese Februarie en ons gesels later!

 

No comments:

Post a Comment

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...