.

Haai, my naam is Maree en ek woon op 'n 8.5ha kleinhoewe, my stukkie Afrika-aarde in Tarlton, Suid Afrika, saam met my wederhelf, verskeie geveerde vriende en Jacko, my Foxterrier x wat nie weet hy's 'n hond nie.

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Wednesday, February 5, 2014

Begin 'n Dankbaarheids-Joernaal


Joernaal-aantekeninge is maar net die daaglikse skrywe van jou gedagtes en idees op papier. Dit kan 'n grootse ondervinding wees. Hierdie proses kan jou ondersteun in die soektog na byvoorbeeld waaroor jy angstig voel, of waarvoor jy 'n passie het en waaroor jy droom.

Koop vir jouself 'n pragtige notaboek en gebruik 'n pen waarvan jy hou om mee te skryf. Ek gebruik 'n ''Moleskine'' notaboek (wat by enige goeie boekwinkel beskikbaar is in verskeie formate). Vind 20 stil minute of so in jou dag en ek stel voor jy maak dit 'n roetine - ek doen myne net voor bedtyd of vroeg in die oggend - maar enige tyd wat jou sal pas is gaaf.
 
'n Paar van my gunsteling vulpenne :


Parker Sonnet Deep Black Laquer Gold Trim Medium Nib

Parker Sonnet Stainless Steel GoldTrim Medium Point 

Waterman Himisphere StarlightStainless Steel Medium point nib

Antique Waterman with Grey & Gold Laquer body, Thick nib

Skryf asof jy met jouself praat - skryf oor al jou gevoelens, wat jou pla of waaroor jy opgewonde voel, die dag wat voorlĂȘ of belangrike gebeure van die verlede en wat jy graag wil onthou. Ek sit alles in soos datums, plekke, die tyd, ens. Dit hoef nie meesterstukke te wees nie - hierdie is JOU joernaal en vir jou oĂ« alleenlik. Ek plak ook sommer goeters of teken prentjies (sien ook artikel oor 'n Visiebord).

Ondersoek het duidelik bewys dat, om 'n Joernaal te gebruik, stres verminder en die immuunstelsel versterk, sowel as die volgende voordele: 

- dit laat jou beter voel oor die lewe
- dit maak jou meer optimisties oor die toekoms
- dit spoor jou aan om andere te help met hulle probleme
- dit verbeter jou gesondheid
- dit gee rigting en helderheid


Daar is baie dinge waaroor jy 'n joernaal kan hou - my gunsteling is my DANKBAARHEIDS-JOERNAAL. Elke oggend, sodra ek gebad, aangetrek en tande geborsel het, skryf ek my 'gratitudes' neer. Aan die begin gaan dit maar stadig, maar net deur met een klein dingetjie, soos "ek is dankbaar vir die sonskyn" te begin, begin jou lys van dankbaarhede te groei en binnekort het jy sommer 10 op een slag

In dieselfde boekie, aan die agterkant, doen ek my AFFIRMASIES vir die dag, soos byvoorbeeld "Ek is gesond en gelukkig. Daar is geen siekte wat ek nie kan oorwin nie" of "Ek spreek van vreugde vir die lewe! Ek laat myself toe om elke oomblik van elke dag totaal te geniet!" My gunsteling een is "Dankie vir die dag wat voorlĂȘ...".

My Daaglikse Joernaal vir alles en nog wat - hierin doen ek ook sketse saam met my inskrywings.... 

Hier is 'n paar idees vir 'n Joernaal - ek is seker jy kan nog met vele meer vorendag kom :

- Tuin-joernaal
- 'n Natuur-joernaal
- Gebeds-joernaal
- Belangrike gebeurtenisse- en datums-joernaal
- Droom-joernaal (al die dinge wat jy nog die graagste wil vermag)
- Dinge-om-te-doen-joernaal
- Welbekende aanhalings- en inspirasie-joernaal
- 'n Joernaal met jou eie gesegdes, inspirasies en sketse (wie weet, eendag kan jy dit dalk verwerk in 'n eBoek!)
- 'n Joernaal oor jou kinders
- kort liefdesbriefies aan hulle
- Joernaal oor jou alledaagse gedagtes
- dinge wat jou pla, oorwinnings

Ek het 'n paar joernale op my rekenaar ook, maar daar is niks soos om met die hand te skryf nie!

'n Paar van my Moleskine notaboekies :


::

2 comments:

  1. Behalwe vir die feit dat dit my byna onmiddellik in 'n positiewe bui gesit het, is ek ook totaal gek oor die mooi penne wat hier rondlĂȘ!! En ja, dit IS voorwaar 'n uitstekende idee om elke dag so te kan begin. Dankie Maree!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie Liz, daar is NIKS so lekker as 'n mooi vulpen in die hand nie!

      Delete

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...