Dis September en vakansietyd
en die einde van die jaar lê voor. Met 'n besige jaar agter die rug, kan dit voel jy asof jy gesag
oor jou kinders verloor het en dit nie kan terugkry nie. Dis nie te laat nie –
jy kan jou gesag herwin en jou kinders op 'n gesonde manier dissiplineer.
Gesonde gesag bestaan
uit verskeie boustene:
Onvoorwaardelike
liefde
'n Belangrike vraag om
te vra: “Hoe kan ek my kind
beter liefhê?” Dit moet ons eerste doel wees. Ons moet glo in die krag van
liefde om nie net ’n kind daarmee te kan toevou nie maar om werklik ’n kind
daarmee te kan vorm. Ons moet liefde ook nooit as ’n teenpool van dissipline of
gesag sien nie.
Eer (respek)
Dis ons reg om te
verwag dat ons kinders ons met respek behandel, ordentlik met ons praat en op
ons oudag sekere verantwoordelikhede teenoor ons nakom. Maar dit beteken ook
dat ons ook ordentlik met ons kinders moet praat en hulle met die nodige respek
moet behandel.
Hou by dit wat
jy gesê het
Ons het die reg om
aksie te verwag wanneer ons praat. Hierdie reg word weggegooi wanneer ons drie
en vier maal praat, al harder praat en bang is om te praat as ons weet ons kind
gaan sleg op ons woorde reageer. As ’n kind egter leer dat ons net een keer
kalm en ordentlik praat en dan optree, geniet ons die voordeel van ware
seggenskap.
Aanspreeklikheid
Een sinoniem vir
aanspreeklikheid is verantwoordelikheid, en albei woorde verklap waaroor
hierdie aspek van gesag handel. Neem aanspreeklikheid vir jou kinders se gedrag
en besef ons leer mense hoe om ons te behandel.
Die reg om
grense vas te stel
Ouers verwaarloos
hierdie aspek van gesag wanneer hulle net op kinders se stoutigheid en
ongehoorsaamheid reageer. Ons leer nie ons kinders vooraf waar die grense is
nie en wanneer hulle dan in ons oë die grense oorsteek, straf ons hulle. Dis
nogal onregverdig, nie waar nie? Ons weet tog die meeste kinders word nie met
’n goed ontwikkelde aanvoeling vir grense gebore nie!
Die vermoë om vreugde en sekuriteit te gee
Ons as ouers het die
mag om ons gesin veilig te laat voel en ons huise met vreugde te vul. Die gesin
’n kind se hawe. Wanneer die kind tuis gelukkig en geborge voel, word dit
soveel makliker om die ouers se gesag te aanvaar.
Erkenning van
die bevelsorde
As ons teen die regering
uitvaar, of as ons die sondes uit ons dominee se verlede met smaak oorvertel,
doen ons verkeerd. Ons leer ons kinders om gesagsfigure net te respekteer
wanneer hulle doen waarvan ons hou. Voor ons weet, spoel die minagting vir
gesag ook in ons eie huis in, en met al ons kritiek teen ander, sal ons self
nie kritiek vryspring wanneer ons nie na ons kinders se pype dans nie.
Regspraak en
regverdigheid
Hou op om van alles ’n grys area te maak deur nie vir jou kinders reg en
verkeerd te leer onderskei nie. ’n Gewete ontwikkel met tyd en deurdat ons
geleer word wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. Dis onnodig om in sewe sinne
aan ’n kleuter te verduidelik waarom ’n mens nie jou pa mag spoeg of jou ma se
hare mag trek nie. Dis verkeerd. Eenvoudig.
Invloed en
inspirasie
Ouers het ongelooflik
baie mag om hulle kinders se lewens vir altyd te beïnvloed – baie meer as wat
ons besef. Die positiewe invloed is onskatbaar en dit is die deel van ons universiele
“mag” wat ons moet leer uitbou as ons die soort gesag wil hê wat ons wil
verdien. Intussen moet ons die vermoë om dit vernietigend teen ons kinders te
gebruik in onsself raaksien en beveg.
Nederigheid
Wat ouerskap betref,
is nederigheid ’n voorwaarde vir
gesag. Ons kinders is eerste daar om te sien wanneer ons fouteer! Hulle het dus
ook die reg om eerste te hoor dat ons jammer is.
.