Het jy al moedeloos gevoel en
lus gehad om tou op te gooi? Dan kom iemand by jou en sê: “Jy moet net positief
wees.” Ja, die meeste van ons het al so ‘n boodskap van iemand gekry.
Miskien het jy ook al vir ‘n
vriend of familielid dieselfde gesê: “Moenie so negatief wees nie, bly net
positief en dinge sal sommer beter gaan.”
7 Stappe om Positief te dink
Ons kan ons sekerlik hiermee
vereenselwig: dink positief!! Maar nou sal
jy saamstem dis somtyds ‘n cliché wat ‘n mens gebruik sonder om na te dink oor
hoe doen jy dit nou eintlik. Hoe moet ‘n mens nou maak om positief te dink?
Hier volg sewe stappe vir ‘n positiewe uitkyk:
1. Leef
dankbaarheid elke oomblik: Leer om elke oomblik te waardeer vir wat dit is.
Byvoorbeeld jy gaan strand toe om ‘n heerlike dag van sonskyn, blou see,
sambrele en roomys te geniet. Daar aangekom, begin die wind opkom en reën sif
neer. Plaas van ongelukkig te voel, geniet eerder oomblik. Geniet die wind,
sing in die reën, lag vir almal wat skarrel om ‘n skuiling te vind. Leef die
intensiteit van die oomblik. Nog ‘n voorbeeld: jy ry deur die Karoo en kry ‘n
papwiel. Eerder om dikbek te wees oor die ongerief wat jou tref, klim uit en
gaan sit langs die pad. Luister na die groot stilte van die Karoo en trek
jou vingers deur die warm sand. Wees bly jy vir so ‘n besondere oomblik wat
jy in die Karoo ervaar. Ek dink hier onwillekeurig aan die woorde van Henri
Matisse: “Daar is altyd blomme vir diegene wat dit graag wil sien.”
2. Leef
met humor: Jy moet elke dag kan lag. Lag is helend. Lag maak gesond.
Leer om humor in situasies in te sien. Oefen om iets komies te sê. Vind iets
snaaks in ‘n spanningvolle moment en sê dit vir die mense rondom jou. Humor
vereis kreatiwiteit. Dit maak jou denke oop. Soek humor in iets en dit
dwing jou om anders te dink. Dit stimuleer jou brein, dit gee lewe.
3. Leef
jou droom voluit: Instede
daarvan om te kla oor wat gebeur het, skep vir jou vorentoe-kyk denke. Moenie
vaskyk oor die onreg teenoor jou gedoen nie, maar fokus op jou toekoms. “Dit
neem slegs een positiewe gedagte om ‘n kans te kry om te oorleef en te groei,
om ‘n hele krygsmag van negatiewe gedagtes te oorrompel.” (Robert H. Schuller).
Moenie neul oor verspilte kanse nie, maar ywer aan geleenthede wat nou rondom
jou is. Werk onverpoosd en kreatief aan jou drome en leef jou lewe met passie.
4. Kry
jou plek agtermekaar en netjies: Kry jou huis, lessenaar, leefomgewing, en
jou werksruimte georden en sorteer alles uit. Wanneer dinge op hul plek is, dis
netjies en jou ruimte is sistematies en goed gerangskik, voel jy sommer beter.
Dit skep ‘n atmosfeer en energie om daadwerklik iets aan jou probleme te doen
en om nuwe geleenthede beter te benut.
5. Omring
jouself met positiewe mense: Positiewe mense stimuleer jou tot
positiewe denke, terwyl die negatiwiteit van mense afbrekend op jou gestel
inwerk. Wanneer jy met mense praat en handel, moenie op swartgallige en
negatiewe aspekte fokus nie. Waag eerder met humor en positiwiteit en jy sal
sien hoe jy die regte tipe mense nader aan jou trek.
6. Vergeet
vrees, voluit vorentoe: Vrees vir allerhande dinge maak jou depressief,
gespanne, bang en negatief. Dit kan vrees wees vir finansiële probleme, ‘n
knorrige baas, ‘n slegte situasie of ‘n oorlading van werk. Maar weier om te
fokus op vrees. Analiseer die vrees, deurdink oplossings en doen aksiestappe om
die probleem te hanteer. Konsentreer dan met alles wat jy het op jou doelwitte
en die pad waarlangs jy vorentoe stap. Skuif twyfel en vrees gedagtes doelbewus
uit, en gee al jou energie en denke vir jou drome. Neem een dag op ‘n keer, en
hanteer daardie dag voluit en positief. Swami Vivekananda het gesê: “Wanneer jy
dink oor rampspoed, dan sal jy dit kry. Broei oor die dood en jy verhaas jou
afsterwe. Dink positief en meesterlik met vertroue en geloof, en die lewe word
meer beskut, voller met aksie, ryker in prestasie en ondervinding.”
7. Leef
met geloof: Jy het hierdie een lewe.
Glo in jouself en waag met alles wat jy het om voluit te lewe.
Glo dat jy suksesvol sal wees.
Glo dat jy jou probleme en struikelblokke in geleenthede sal
omskep.
Aanvaar die uitdagings van die lewe en bou jou toekoms. Om te
glo in jouself is om ‘n werklikheid te skep waarin jy met selfvertroue en
positiwiteit kan funksioneer. En jy kan maar glo in jouself, want jy is mens
geskape na die beeld van God. Iemand het eenkeer gesê: “Wanneer die son opkom,
kom dit op vir iedereen.”
Ja, die son kom elke
oggend ook vir jou op, sodat jy met positiwiteit en vreugde kan leef en werk.
Groete,
MAREE
.