.

Haai, my naam is Maree!

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Tuesday, November 29, 2016

Prioriteite en keuses

Vandag wil ek praat oor die keuses wat ons almal in ons lewens maak.


Ek is mal oor ons Suid-Afrikaanse dierelewe en sal definitief in 'n volgende leeftyd sorg dat ek 'n loopbaan in daardie rigting kies. Intussen leef ek my liefde vir die dierelewe uit deur hulle te skilder!

Maar alles kom neer op prioriteite, en keuses, en klaarblyklik was dit nie vir my 'n prioriteit hierdie keer rond nie, want ek glo vas dat 'n mens volgens jou prioriteite lewe, wat vir jou belangrik is, of partymaal wat jy dink belangrik is.

Soveel mense lei 'n onvervulde lewe, met hul passies op die agtergrond geskuif deur omstandighede of omdat hulle doen wat hulle dink hulle móét doen om huis en haard bymekaar te hou. Ek weet party sal sê, "Ek sal graag 'n wildbewaarder wil wees, maar ek moet werk as 'n 'Boekhouer' want dis waarvoor ek gekwalifiseerd is en dit betaal die meeste", maar dis waar prioriteit inkom. Jy stel jou familie eerste, dus werk jy as 'n boekhouer. Dis jou prioriteit. En dis jou keuse.

Ons keuses is nie reg of verkeerd nie, dis net 'n keuse. Maar alle keuses lei tot 'n gevolg en dié gevolg bepaal hoe jy jou lewe lei. Ek weet nie of daar 'n volgende leeftyd is om weer te probeer nie, maar wat ek wél weet is dat, in die aangesig van die onsekerheid daarvan, maak dit sin om nou, in hierdie leeftyd, hierdie oomblik, jou lewe te lei vol passie en met oorgawe, en om dít te doen waarvoor jy lief is.

En onthou, "nothing is set in stone". Jy kan altyd jou keuse verander, veral as jy 'n vrou is!

Tuesday, May 10, 2016

Begeerte Maak die Ekonomie Groei


DIT IS INDIVIDUELE BEGEERTES WAT TOELAAT DAT DIE EKONOMIE GROEI — ons selfsugte natuur (wat 'n goeie ding is), die begeertes wat deur ons pols, is wat Bron-Energie byeen roep en dit is ook die kern van alle ekonomieë.

Die basis van elke ekonomie is individue met individuele begeertes. Maatskappye (strukture waardeur rykdom vloei) word dan geskep ten einde daardie begeertes te vervul. Met ander woorde, wanneer jy vra, word dit gegee... Maar as diegene in beheer van hierdie maatskappye nie vlytig is met die profyte nie, sal daar nie 'n voortsetting wees van die vervulling van die begeertes van die individue nie.

Derhalwe, om 'n organisasie te veroordeel vir sy vlytige optrede en winsgewing, veroorsaak dat jy nie in lyn is met die welsyn wat na jou sou gevloei het deur hulle nie.

Sunday, January 31, 2016

Verander jou lewe vir ewig


'n Klompie jare terug was my lewe, om die minste te sê, uiters vaal, onbenullig, ongelukkig en rigtingloos. Ek het almal en alles geblameer vir my ongelukkigheid en nie gesien dat die antwoord reg onder my neus lê nie.

Ek het op 'n artikel afgekom omtrent "Living with Passion", en hierdie woorde, "Living with Passion is about creating and experiencing joy in as many aspects of life as possible" het my na my eie lewe met nuwe oë laat kyk. Wat op aarde het my laat dink dat enige iemand anders behalwe ek self verantwoordelik kan wees vir my geluk? 

'n Passievolle lewe is meer as net 'n filosofie—meer as onbenullige wense vir geluk in jou gedagtes. Dis nie 'n probleem-vry-, feëverhaal-bestaan nie en dit belowe ook nie rykdom en faam nie. Eerder, dis 'n bestaan wat bewustelik gekies is, bewustelik ontwerp is en 'n bestaan wat verantwoordelik gelewe word. Dit is 'n besluit omtrent wat jy wil vermag. Dit is om sonder huiwering deur elke storm van die lewe te beweeg en om wyser en sterker anderkant uit te kom. Dit is om aanhoudend te leer, lief te hê en te groei.

'n Passievolle lewe is 'n vervulde lewe. Dit laat jou toe om te sê, "Hierdie is belangrik. Dit is wat die Heelal my gegee het om na die wêreld te bring en ek gaan dit volstoom doen!"

'n Passievolle lewe bedoel jy neem verantwoordelikheid vir jou keuses, jou aksies en jou ondervindings. Dit bedoel jy beweeg vorentoe van hierdie dag sonder self-opgelegde limitasies, klagtes of spyt. 

Om passievol te lewe is om entoesiasties te lewe. Kombineer aksie en passie en jy sal entoesiasme beleef. En dit is maklik om entoesiasme met andere te deel want entoesiasme is aansteeklik. 

Vind jou passie vandag en deel vandag jou entoesiasme vir die lewe met iemand — 'n vriend, 'n medewerker, familielid of selfs iemand wat jy nog nooit tevore ontmoet het nie. 

'n Passievolle lewe is 'n inspirerende geskenk wat die wêreld vir baie generasies kan verhelder!

.

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...