.

Haai, my naam is Maree!

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Saturday, June 28, 2014

Brief van 'n leseres


Dis absoluut wonderlik om interaksie met my leseresse te hê. 'n Rukkie terug het ek hierdie e-pos van 'n leseres ontvang : 

Dag Maree 

Ek is beïndruk met jou webwerf. Alles in keurige Afrikaans! Ek vind ook aanklank by wat daar staan. Ek is reeds 9 jaar bewustelik besig om spiritueel te ontwikkel. Ek werk saam met kollegas in trauma genesing wat die eerste stap is om innerlike vrede te vind. Ons leer mense eenvoudige tegnieke in groepe. Ons is nie terapeute nie, maar fasiliteerders. Ek is mal daaroor om mense tegnieke te leer om die innerlike gordyne te verwyder. 

Ek was opsoek na Afrikaans webwerwe wat die dieselfde spirituele taal praat ek. 

Ek lees en hoor van die geworstel van Afrikaners oor wie en wat hulle is. Hul frustrasies en vrese. Die oplossings omhels altyd die tradisionele waar dualiteit seëvier. My intensie (op hierdie oomblik) is om een of nader manier 'n gesprek te voer oor hoe kan ons ons Kollektiewe Wysheid kan gebruik om ons wêreld te verander - in Afrikaans.

Ek woon in die Wes-Kaapse platteland.

groete

mathilda

My antwoord :

Dagsê Mathilda! 

Dit klink soos wonderlike werk wat julle doen! Ek het my webwerf begin 'n paar jaar gelede toe ek self deur iets traumaties gegaan het en gevind het dat daar omtrent GEEN hulp vir vroue in Afrikaans beskikbaar is nie. Deur my eie ondervindings en hoe ek gevind het wat vir my werk, het ek besluit om dit oop te stel aan ander mense wat ook graag genesing wil vind. 

Die frustrasies en vrese van Afrikaners, en veral vroue, neem net 'n bietjie self-ondersoek om te besluit wat vir hulle belangrik is. Vroue stel gewoonlik almal se vereistes altyd voor hul eie, en eindig op om gefrustreerd en minderwaardig te voel, met die geloof dat hulle nie geregtig is op volkome geluk nie. My uitkyk op die lewe is dat self-liefde, sowel as grense wat ons vir onsself stel, 'n belangrike rol speel, en sodra ons dit besef, kry ons al ons eendjies in 'n ry!

Ek woon heel aan die anderkant van die wêreld as jy! In Gauteng - maar deur die internet is niemand te vér van enigiemand nie!

Ek wens jou sukses met jul trauma-genesing-groepe en mag julle van sterkte to sterkte gaan!

Groete

 MAREE

.

Tuesday, June 17, 2014

Hou jy van jou werk?


As jy jou werk haat en jy voel elke oggend so, dan bied jy weerstand teen werk toe gaan. Dus sal dit moeiliker vir jou wees om promosie of 'n beter werk te kry - waarteen jy weerstand bied, hou aan.

Op een of ander stadium moes jy van jou werk gehou het anders sal jy nie nou daar wees nie. Vind weer jou passie en doen jou werk met volle oortuiging en liefde want daarsonder is jou paadjie nie oop vir iets beters nie.

Amper al die mees suksesvolste miljoenêrs lief die werk wat hulle doen - en in meeste gevalle sal hulle dit doen sonder betaling. So, om waarlik gelukkig en suksesvol te wees, moet jy lief wees vir wat jy doen en getrou aan jouself wees.

Jy het vanoggend wakker geword. Wees dankbaar daarvoor. Is jy gesond? Het jy 'n werk of enige ander manier om inkomste te bewerkstellig? Wees ook daarvoor dankbaar.

Daar is 'n oneindige voorraad Mag rondom jou. Al wat jy moet doen is om te leer hoe om dit te gebruik in elke departement van jou daaglikse lewe. Hierdie Mag is die Lewensenergie van die Heelal, die Fondasie en Toppunt van alle Lewe, die Eerste en mees Verhewe Manifestasie van ons Groot Moeder, Natuur haarself. Dit is dít wat altyd was, is en altyd sal wees, onveranderlik as Fundamentele Mag en tog wisselend in Oneindige manifestasies, Ewiglik deur Tyd en Oneindig deur die Ruimte met die Senter altyd daar waar jy dit kan kontak, onderliggend, deurdringend, oorheersend, aanmoedigend en alomvattend.


Hierdie is JOU lewe! Doen waarvoor jy lief is en doen dit gereeld!

.

Friday, June 13, 2014

Laat die wêreld by jou verbygaan...


Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander bestelling. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is.

Hier buite was dit effens toegetrek met 'n ligte en aangename briesie.

Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie.

Hoekom nie?

Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees?

Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons omgaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het.

Wanneer was die laaste maal dat jy net gesit het, net toegekyk het? Hoekom dit nie vandag doen nie?


.


LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...