.

Haai, my naam is Maree!

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Showing posts with label afrikaans. Show all posts
Showing posts with label afrikaans. Show all posts

Friday, May 20, 2022

My Vier Riglyne vir Welvaart in Jou lewe


Ek het vier riglyne wat ek glo 'n lewe vol oorvloed verseker... vir my werk dit perfek en verseker dat ek nooit iemand onnodiglik seermaak of verkeerd opneem nie... 

Wees onberispelik met jou woord. 
Moenie dinge persoonlik opneem nie. 
Moenie veronderstellings maak nie. 
Doen altyd jou beste. 

::

Uiteensetting :

1. Wees onberispelik met jou woord
Om onberispelik met jou woord te wees, is om te sê wat jy meen en te meen wat jy sê. Die manier waarby mense jou waarneem is deur jou gesproke woord asook jou aksies. As jy 'n belofte maak, kom dit so ver moontlik na. As iemand jou vir iets vra of jou vra om iets te doen, dink versigtig daaroor na, want om ja te sê wanneer jy nie seker is nie of dit nie bedoel nie, is seer sekerlik 'n smet op jou integriteit.

2. Moenie dinge persoonlik opneem nie
Wanneer iemand iets sê of doen wat jou omkrap, moenie onmiddellik aanneem dat dit teen jou gemik is nie - nie alles gaan oor jou nie en min mense gee genoeg om om jou spesifiek die teiken te maak, en dié wat dit wel met kwaadwilligheid doen, is nie die moeite werd om ontsteld oor te raak nie.

3. Moenie veronderstellings maak nie
Wanneer iemand iets sê of doen en jy maak 'n veronderstelling dat hulle 'dit of dat' bedoel het, loop jy die gevaar om vir jou 'n hele rits ongeluk op die hals te haal. Byvoorbeeld, as iemand iets belowe het en dit dan nie te na kom nie, en jy 'veronderstel' dat hulle dit nie gedoen het nie omdat hulle nie vir jou omgee nie, maar intussen lê hulle in die hospitaal met 'n gebreekte been, dan het jy jouself onnodige pyn veroorsaak deur 'n veronderstelling te maak sonder om die ware feite te ken.

4. Doen altyd jou beste
Of dit nou iets kleins of groots is, doen altyd jou beste in wat ookal jy aanpak. Nie alleenlik verhoog dit jou self-beeld nie, maar dit spreek ook van integriteit en wys ook aan ander mense dat jy altyd jou beste lewer en derhalwe ook die beste van almal verwag. Hoe mense jou behandel is direk verwant aan hoe jy jouself behandel.

Wees bewus van jou gedagtes; dit lei na houdings. 
Wees bewus van jou houdings; dit lei na woorde. 
Wees bewus van jou woorde; dit lei na aksies. 
Wees bewus van jou aksies; dit lei na gewoontes. 
Wees bewus van jou gewoontes; dit vorm jou karakter. 
Wees bewus van jou karakter; dit bepaal jou noodlot.

::

Wens jou 'n naweek gevul met sonskyn!

::



Friday, April 1, 2022

Ander se Keuses Hoef Nie 'n Bedreiging te Wees Nie



ANDER MENSE SE KEUSES HOEF JOU NIE TE BEDREIG as jy die magtige wette van die Heelal verstaan nie. As jy dit eers verstaan, sal daar nie die nodigheid wees vir verskansings, leërs, oorloë of tronkselle nie, want jy verstaan dat jy vry is om jou wêreld te skep soos jy dit wil hê terwyl andere hul wêreld skep soos hulle dit wil hê— en dat hulle keuses jou nie bedreig nie...

Daar is daardie dinge waarmee jy in harmonie is en daardie dinge waarmee jy nie in harmonie is nieen alles tussenin.  Jy het nie hierheen gekom om die dinge waarmee jy nie saamstem te onderdruk of te vernietig nie, want daardie dinge verander aanhoudend. Jy is hier om te identifiseer, van oomblik tot oomblik, wat dit is wat jy wil hê en om die mag van jou gedagtes toe te laat dat die Wet van Aantrekkingskrag vir jou werk.

::

Friday, March 6, 2020

Neem 'n besluit



Goeie dag vanaf Oorvloed!

Vandag wil ek praat oor 'n paar besluite wat ons moet neem om ons lewe op dreef te kry - dis so maklik om die klein dingetjies wat pla sommer maar net so te los vir môre of 'een of ander tyd', en my pa het altyd gesê  "moenie afstel vir môre wat jy vandag kan doen nie".

Neem 'n besluit om ...

... NOOIT OP TE GEE NIE
Elke dag moet jy n keuse maak: gaan ek n oorwinnaar of n slagoffer wees? Om probleme te bowe te kom begin dus by ’n keuse! Ek moet die besluit neem dat ek wíl wen en gaan volhard om my doel te bereik – ongeag wat my omstandighede mag wees.

... ALLEEN DIE MAS OP TE KOM
Bevind jy jouself in n situasie waar jy alleen voel en nie weet hoe om die eise te hanteer nie? Jy moet verstaan dat niemand jou gaan red nie, en dat jy self beheer sal moet neem. Probeer om jou emosies te verstaan. Is dit eensaamheid, ’n strewe na perfektheid of dalk skuldgevoelens wat jou onderkry? Of is dit ’n konkrete probleem soos onvoldoende finansies, te min tyd of geen ondersteuning nie?

Sodra jy bepaal het wat die probleem is, moet jy jouself afvra hoe jy beheer hieroor kan neem. Probeer wyer kyk as net die voor-die-hand-liggende. Soms, as ons objektief na ’n situasie kyk, vind ons dat die oplossing reg voor ons oë is. Beplan stap-vir-stap hoe jy by ’n beter plek gaan uitkom en moenie moed opgee tot jy dit regkry nie.

Moet ook nie vergeet dat jy nooit alleen is nie selfs in jou moeilikste tye is daar Iemand met oop arms, gereed om jou te vertroos en te dra.

... KRITIEK BETER TE HANTEER
Meeste van ons is skuldig daaraan dat ons ander mense se kritiek kop toe vat. Dit kan so erg raak dat jy al die positiewe uitsif en nét die negatiewe agterhou en daarop fokus. Dit word die maatstaf waarteen eiewaarde gemeet word.

Al is kritiek nooit lekker nie, is daar dinge wat jy kan doen om dit beter te hanteer:

•    Neem n wilsbesluit om nie onmiddelik op die kritiek te reageer nie. Tree terug sodat jy nugterder na die kritiek kan kyk.

•    Kritiek moet op gedrag, nie op n persoon nie, gemik wees. As iemand persoonlik raak, versoek ’n fokus op die gedrag wat onaanvaarbaar is.

•    Onthou dat ervaringe uit jou verlede n rol kan speel in hoe jy kritiek hanteer (byvoorbeeld die invloed van ’n baie kritiese ouer).

•    Skryf die kritiek neer en slaap eers daaroor.

•    Maak seker of die kritiek waar is en neem verantwoordelikheid vir dit waaroor jy beheer het. Vra iemand wat jou goed ken, se mening.

•    Sien dit as n geleentheid om te leer van jou eie “blindekolle” en kwesbaarhede en te groei in jou menswees.

... DAAI SLEGTE GEWOONTES AF TE SKUD
Elkeen van ons het een of ander slegte gewoonte – te veel eet, rook, wat ook al – wat ons wil afskud. Onthou net, gewoontes vorm gewoonlik geleidelik, daarom sal dit tyd neem (drie tot ses weke) om te verander, maar dit is moontlik deur hierdie stappe te volg: Maak ’n keuse om dit te wíl doen. 

* Verander jou “binnepraat”, want solank jy dieselfde goed vir jouself sê, sal jy outomaties dieselfde goed doen. 
* Visualiseer hoe jy dit regkry om die nuwe gedrag uit te leef. Hoe duideliker jy dit kan visualiseer, hoe groter is die kans dat jy sal volhou. 
* Gee vir jouself erkenning elke keer wat jy suksesvol die ou gewoonte oorkom. 
* Dit help baie indien iemand anders weet wat jy probeer bereik en as ’n ondersteuningstelsel kan optree. 
* Sit ’n prentjie, aanhaling of grafiek êrens op waar jy dit elke dag kan sien om jou te herinner aan dit wat jy wil bereik. Dit moet die positiewe nuwe gedrag of gewoonte voorstel.

Onthou, jy kan die ou gewoonte verander as jy dink jy kan!

... N KLA-KOUS OP SY OF HAAR PLEK TE SIT
Die beste manier om van n kla-kous ontslae te raak, is om te begin kla voordat sy die kans kry. Kan jy jou haar skok indink as jy wegtrek met: “Ja jong, die land is besig om in die afgrond te versink. Een van die dae gaan ons soos Zimbabwe opeindig. Die petrolpryse is verskriklik, die voedselpryse is angswekkend ... Ons gaan dit nie maak nie, veral nie met al die klakouse rondom ons nie”.

Ek is seker die persoon sal vir ’n oomblik heeltemal vergeet wat rondom haar aangaan. Jou laaste stelling behoort haar skok in saamstem te verander, en dit behoort haar tot nadenke te bring.

Die waarheid is dat almal maar n geneigdheid het om so nou en dan te kla. Dis geoorloof as jy die volgende reël toepas: Jy mag net drie keer oor dieselfde ding kla. Doen dan iets om die situasie te verander, of besef dat jy niks daaraan kan doen nie en kom oor dit (met ander woorde, hou op kla daaroor!) Wat help dit in elk geval?

... JOU DROOM TE BEWAARHEID
Moenie dat jou drome wensdenkery bly nie ontwikkel ’n duidelike prentjie daarvan. As jy nie weet wat jou droom is nie, sal jy mos nooit daarby uitkom nie. Skryf jou droom neer en sien in jou gedagtes hoe dit stapsgewys ’n realiteit word.

Gaan oor tot aksie, anders sal jou droom doodgebore wees. Iemand het eenmaal gesê die beste manier om jou drome waar te maak is om wakker te word! Min mense het die moed of wil om daardie warm plekkie te verlaat en moue op te rol om te begin werk. Dit gaan beplanning (’n vaste doelwit het ’n spertyd), innerlike motivering en toewyding kos. Maar hou jou oog op die einddoel.

Jy moet uit die staanspoor weet dat daar terugslae gaan wees op pad na die vervulling van jou droom. Glo in jouself en weet dat jy tot alles in staat is deur Christus wat jou krag gee.

... VREDE TE MAAK MET DIE OUDERDOM
Dit voel soos gister toe jy 20 was! Maar die liggaam wat protesteer as jy trappe klim, die wilde grys haar wat uit die niet verskyn en die fyn lagplooitjies om jou oë verklap dat jy definitief nie meer 20 is nie.

Vrede met jou ouderdom begin by die vrede wat jy ervaar oor die lewe wat jy tot dusver gelei het en die hoop en drome wat jy vir die toekoms het; die vermoë om in die “nou” te leef en elke oomblik te koester. Jou verantwoordelikheid is om die beste “jy” te wees gegewe dit wat jy ontvang het. Deur na jou liggaam te kyk en reg te eet, genoeg te slaap, te oefen en te ontspan en dikwels met oorgawe te lag, kan jy van binne straal – en dít oorskadu gewoonlik meeste tekens van die ouderdom.

... TE SÊ HOE JY VOEL SONDER OM SEER TE MAAK
Vra jouself hoekom jy seergemaak voel. Dalk het dit nie te doen met dit wat die ander persoon gesê of gedoen het nie, maar met ’n seer uit die verlede waarmee jy nie gedeel het nie.

Solank jy bly by hoe jý voel sonder om die ander persoon te beskuldig, is jy op die regte pad. Vermy uitdrukkings soos “Jy het my gevoelens seergemaak” of  “Jy het my beledig toe jy gesê het ...” Sê eerder: “ Ek het seergemaak gevoel toe jy ...” of “Ek het beledig gevoel toe jy ....” Dit neem onmiddellik die fokus weg van die ander persoon en plaas jou gevoelens op die tafel.

Onthou, ander maak ons nie seer nie; ons kíés om seergemaak te voel.

Soms sê en doen mense dinge uit onkunde. Vind eers kalm uit wat die persoon se bedoeling was, haal diep asem en verduidelik dan presies hoe jy oor dinge voel.
 
... NIE OOR ALLES TE STRES NIE
Vir baie vroue het kommer ’n leefwyse geword. Selfs klein dingetjies veroorsaak dat hulle angstig en gespanne raak. Hulle vra heeltyd die vraag: “Wat as ...”

Die realiteit is dat daar dinge in die lewe is waaroor ons geen beheer het nie. Dit maak nie ’n verskil hoeveel jy daaroor stres nie – dit gaan in elk geval gebeur! Deur chronies bekommerd te wees oor jou man en kinders beperk jy uiteindelik jou eie vermoë om jou emosies te hanteer.

Die hartseer is dat ons onsself moeg maak deur bekommerd te wees oor dinge wat meestal nooit gebeur nie. Ons mors al ons emosionele energie daarop.

Sit terug, haal diep asem, aanvaar die feit dat dinge soms verkeerd loop, hanteer dit soos dit kom en probeer om nie al jou tyd en energie te vermors op bekommernisse waaraan jy in elk geval niks kan doen nie.

... DIE TRAUMA VAN GEWELD TE HANTEER EN TE OORKOM
Jou eerste gewaarwording is verlies. Iemand het jou persoonlike spasie binnegedring, jou lewe bedreig en jou besittings geneem. Die skok het ook ’n groot impak op die chemiese balans in jou brein en kan die funksionering daarvan nadelig beïnvloed.

Dit is belangrik om nie in n negatiewe spiraal vasgevang te word nie. Probeer om nie die groter prentjie mis te kyk nie. Kies om doelbewus te soek na positiewe dinge. Waak daarteen om nie jouself te isoleer nie. Omring jou met mense wat realisties positief is en daar is vir jou. Gee jouself kans om deur die trauma te werk. Moet dit nie onderdruk en aangaan asof niks gebeur het nie, anders gaan jy later, met baie meer moeite, jou emosies moet hanteer.

Dit kan ook help om met n professionele persoon te praat of joernaal te hou van jou emosies.

Kom ons neem daardie besluite VANDAG en mag ons reistog genotvol wees!

Groete,

MAREE

Tuesday, December 31, 2019

Ek wil léwe... 31 Desember 2019


Geniet die lewe, gryp die dag aan! Hoe voel jy vandag? Wat is jou gemoedstoestand? Hoeveel geniet jy die lewe? Weet jy dat NOG 'n jaar nou alweer verby is?

Ek het hierdie oulike ding gelees oor bekommernis:

"Sluit die hekke van die verlede. Moenie aanhou terugkyk na die probleme en foute van die verlede nie. Sluit ook die hekke van die toekoms. Moenie bekommerd wees of vrees vir wat in die toekoms kan gebeur nie. Die toekoms is vandag. Hanteer vandag. Jy kan nie in die verlede leef nie, ook nie in die toekoms nie. Jy kan net vandag leef. Elke dag is 'n nuwe lewe, 'n nuwe begin. Berei jouself voor vir die toekoms deur vandag tot sy volle potensiaal te leef. As jy bekommerd is oor wat dalk more mag verkeerd gaan, was jy verniet bekommerd. En as dit dan wel gebeur, was jy twee keer bekommerd.”

.

Friday, November 6, 2015

Dankverklaring 5 - Ek is dankbaar vir my inkomste (Affirmasie)


Ek is SO dankbaar vir my inkomste.
Ek het 'n werk wat ek geniet,
'n uitstekende loopbaan en ek kan
alles bekostig vir my familie.


Saturday, October 10, 2015

Skuldgevoel Bring Jou Niks in die Sak nie



Skuldgevoel is self-minagting. Jy is liefde van self, liefde van alles, jy is liefde. Jy kannie terselfdertyd  liefde en skuldgevoel wees nie — hulle is twee teenoorgestelde vibrasies.

Jy sê, "Ek het besluit om netjies te wees. Ek gaan my bed elke dag opmaak". En dan dink jy aan al daardie beddens wat jy nie opgemaak het nie, en jy sê "Ek moet seker maar teruggaan en al daardie ander beddens opmaak". Wel, voorspoed met daai een! Jy kan onmoontlik nie iets omtrent daai beddens doen nie. Maak net jou bed vandag op!

Reik vir 'n goeie gevoel NOU, en vergeet van wat voorheen gebeur het, want jy kan buitendien niks daaromtrent doen nie, en jy wil ook nie. Op hierdie oomblik is jy hierdie suiwere, magtige, geseënde, geliefde, al-wetende en wat-alles-verdien mens. En enigiets wat voorheen gebeur het, het niks daarmee te doen nie.

.

Tuesday, September 15, 2015

Selfsorg en Vreugde



Ek hoor so baie vrouens kla oor die feit dat hulle nooit tyd vir hulself het nie en dat 'n ma en vrou se prioriteite altyd laaste kom. Hulle glo dit is maar hoe die lewe werk, en hoe gouer hul dit aanvaar, hoe makliker gaan hul deur die lewe gaan.

Waar stop 'n ma se veranwoordelikheid? Hoekom voel ons so skuldig oor als? Hoekom is ons so perfeksionisties waar dit die familie en ander se behoeftes aangaan, maar nie ons eie nie?

Van al die dinge wat ons lewens beϊnvloed, is ons oortuigings-sisteem seker die mees belangrikste.

Wat ons glo vorm ons uitkyk en gedrag en houding en as ons ons lewens wil verander en transformeer, kan ons dit nie doen sonder om ons oortuigings-stelsel te verander nie.

As ons waarlik ons lewe wil verander, moet ons leer om ons geloofstelsel te verander. Die goeie nuus is dat dit nie so moeilik is as wat dit klink nie! Vasbeslotenheid en dedikasie is al wat dit vat.

Ongelukkig vir meeste van ons, het ons meer self-limitasie oortuigings as konstruktiewe oortuigings. Ons GLO dat almal se behoeftes voor ons eie moet kom - ons kinders, ons eggenote, ons vriende - en dan is dit goed genoeg dat ons kry wat oor is. Dit is die EEN groot rede hoekom ons voel of ons vassit en asof ons 'n slagoffer van die noodlot is, dat ons nie in beheer van ons eie lewe is nie.

Die oomblik wat ons hierdie self-limiterende oortuigings verruil vir meer positiewe oortuigings, sal ons houding en gedrag outomaties verander om in te pas met ons nuwe oortuigings en nuwe en meer bevrydende moontlikhede in ons lewe aantrek.

Onthou toe jy laas op 'n vliegtuig was? Die lugwaardin het verduidelik wat jy moet doen in geval van 'n noodtoestand en het gesê,

"Indien jy saam met ander mense reis wat hulp nodig sal hê, sit asseblief eers jou eie suurstofmasker aan voordat jy die ander mense help."

Eenvoudige konsep, nê?

Jy kannie iemand anders help as jy nie kan asemhaal nie!

Selfsorg is dieselfde.

Selfsorg is die absolute fondasie vir enige suksesvolle onderneming; of dit nou 'n besigheid is, of as 'n ouer, vennoot of vriend - van 'n pure fisiese standpunt, hoe beter jy agter jouself kyk, hoe meer energie het jy om in jou lewe in te sit.

Van 'n energie standpunt, hoe meer gebalanseerd en gelukkig jy voel, hoe makliker kan jy jou lewe genotvol vervul.

Benewens, die manier wat jy jouself behandel, wys aan ander dat jy verwag dat hulle jou goed behandel.

Byvoorbeeld, as jy 'n unieke tipe diens of produk lewer en jy vra nie vir betaling nie, dan stel dit voor dat geld nie vir jou belangrik is nie, en kan jou kliënte dalk dink jou diens is nie waardevol of van belang nie.

Dink vir 'n oomblik aan die week wat verby is :

Het jy tyd gehad vir jouself?
Wie se behoeftes het eerste gekom - joune of almal om jou?
Het jy 'ja' gesê vir dinge waarvoor jy liewers wou 'nee' sê?
Het jy gevoel jou tyd was jou eie?

Stap #1: Skeduleer tyd vir self-sorg
Die wêreld gaan jou nie vra of jy ekstra tyd vir jouself nodig het nie - dis jou werk om die grensperk te stel en tyd vir jouself te maak!

'n Maklike manier om jouself 'n prioriteit te maak en 'n sterk fondasie te lê vir selfsorg is om 'n tyd te skeduleer, dieselfde soos jy tyd skeduleer vir al jou take gedurende die dag, maar sit selfsorg EERSTE in jou beplanner.

Om geld te spaar, sê die deskundiges jy moet 10% van jou inkomste eenkant sit sodat jy dit nie spandeer nie. Dis dieselfde met tyd vir jouself.

Elke week, besluit watter selfsorg dinge is vir jou belangrik en sit dit in jou beplanner. Wil jy yoga doen? Wil jy 5 minute mediteer in die oggend? Wil jy al die familie oorhê vir ete Woensdag aande? Wat van jou haarbestelling? Besluit wat is vir jou belangrik en skryf dit in en beplan die res van jou tyd om dit. Jy sal verbaas wees hoe maklik en bemagtigend dit kan wees!

Stap #2: Soveel moontlik, sê alleenlik JA as jy dit regtig bedoel
Vind jy gereeld dat jy ja sê vir versoeke wanneer jy wens jy kon nee gesê het? Hoe laat dit jou voel? Voel jy gegrief om êrens te wees waar jy nie wou wees nie? Natuurlik sal daar altyd aktiwiteite wees wat jou aandag moet geniet en waarvoor jy nie lus is nie, maar daar is ook gewoonlik altyd keuses rondom hulle.

Probeer hierdie :

- Wanneer iemand jou vra om iets te doen, huiwer, haal diep asem en dink regtig na daaroor.
- As dit jou nie genoeg tyd gee nie, sê jy moet eers jou dagboek nagaan.
- Wanneer jy besluit, voel wat jou liggaam en jou verstand jou vertel.
- Wees bewus van die seine vir elke besluit en gee dan jou antwoord.
- Hierdie sal dalk eers baie selfsugtig voel, maar dit is eintlik respekvol, vir jouself en ander.

Byvoorbeeld, as jy na 'n partytjie gaan en jy wou nie eintlik nie, dink jy nie andere kan dit aanvoel nie? Liggaamshouding spreek volumes!

Dit word gesê dit neem 21 dae om 'n nuwe gewoonte te vorm - gedurende die volgende maand, beoefen selfsorg op nuwe maniere, wees bewus van jouself en erken elke manjifieke selfsorg stap wat jy neem.

Wees ekstra gaaf teenoor jouself, en onthou om jou masker op te sit!

- Jy is die enigste een wat in jou behoeftes kan voorsien.
- Dit is jou taak on jouself eerste te stel in jou lewe, wetende dat jy dan voller kan  konnekteer met almal om jou.
- Dit bedoel jy is 'n beter eggenote, vriend, ouer, ens.

Deur meer vrede in jou lewe te bewerkstellig, is daar meer vrede in die wêreld.

Red die wêreld vandag deur uitstekend vir jouself te sorg!

::

Saturday, August 22, 2015

Friday, January 23, 2015

Dankverklaring 3 - Dankbaar vir my familie (Affirmasie)


Ek is dankbaar vir my wonderlike familie; vir 'n wederhelf wat my lief het en vir wonderlike kinders.

::

Thursday, October 23, 2014

Dankverklaring vir wie ek is (Affirmasie)


Dankie, ek is dankbaar vir wie ek is.
Dankie, ek is dankbaar vir al my vermoëns.
Dankie, ek is dankbaar vir alles wat ek ontvang.

::

Sunday, September 28, 2014

Vandag sal ek 'n verskil maak


Ek sal begin deur my gedagtes to kontrolleer. 
'n Persoon is die skepping van sy gedagtes.
Ek wil gelukkig en hoopvol wees. 
Derhalwe saI ek gelukkige en hoopvolle gedagtes dink. 
Ek weier om 'n slagoffer van my omstandighede te wees.
Ek sal nie toelaat dat klein ongemaklikhede soos stopligte, lang staanrye en verkeersopeenhopings my meester word nie.
Optimisme is my kameraad en oorwinning my kenmerk .

Vandag sal ek 'n verskil maak.

Ek sal dankbaar wees vir die volgende vier-en-twintig uur.
Tyd is kosbaar en ek weier dat dit bederf word deur self-bejammering, angs en verveling.
Ek sal hierdie dag beleef met die opgewondenheid van 'n kind en die dapperheid van 'n reus.
Ek sal elke oomblik in asem asof dit my laaste is.
Wanneer môre kom, verdwyn vandag vir ewig.              
Terwyl dit hier is, sal ek dit gebruik vir liefdevolle dade.

Vandag sal ek 'n verskil maak.


Ek sal nie toelaat dat mislukkings in die verlede by my spook nie.
Al het ek baie foute gemaak, weier ek om met hulle te dweep.
Ek sal hulle eien. Ek sal hulle regmaak. Ek sal voortbeur. Seëvierend.             
Mislukking is nie fataal nie. Al strompel ek, sal ek weer opstaan.

Vandag sal ek 'n verskil maak.

Ek sal tyd deurbring saam met my geliefdes.               
'n Mens kan die wêreld besit en armoedig wees sonder liefde.                      
'n Mens kan geen besittings hê nie en ryk wees in verwantskap.
Vandag sal ek tenminste vyf minute spandeer in die geselskap met die belangrike mense in my lewe. Vyf kwaliteit minute  van praat, omhelsing, luister en dankie sê.
Vyf ongewaterde minute saam met my wederhelf, my kinders en vriende.

Vandag sal ek 'n verskil maak.           
- Vertaal deur Maree Clarkson van Max Lucado - From On The Anvil


.

Tuesday, June 17, 2014

Hou jy van jou werk?


As jy jou werk haat en jy voel elke oggend so, dan bied jy weerstand teen werk toe gaan. Dus sal dit moeiliker vir jou wees om promosie of 'n beter werk te kry - waarteen jy weerstand bied, hou aan.

Op een of ander stadium moes jy van jou werk gehou het anders sal jy nie nou daar wees nie. Vind weer jou passie en doen jou werk met volle oortuiging en liefde want daarsonder is jou paadjie nie oop vir iets beters nie.

Amper al die mees suksesvolste miljoenêrs lief die werk wat hulle doen - en in meeste gevalle sal hulle dit doen sonder betaling. So, om waarlik gelukkig en suksesvol te wees, moet jy lief wees vir wat jy doen en getrou aan jouself wees.

Jy het vanoggend wakker geword. Wees dankbaar daarvoor. Is jy gesond? Het jy 'n werk of enige ander manier om inkomste te bewerkstellig? Wees ook daarvoor dankbaar.

Daar is 'n oneindige voorraad Mag rondom jou. Al wat jy moet doen is om te leer hoe om dit te gebruik in elke departement van jou daaglikse lewe. Hierdie Mag is die Lewensenergie van die Heelal, die Fondasie en Toppunt van alle Lewe, die Eerste en mees Verhewe Manifestasie van ons Groot Moeder, Natuur haarself. Dit is dít wat altyd was, is en altyd sal wees, onveranderlik as Fundamentele Mag en tog wisselend in Oneindige manifestasies, Ewiglik deur Tyd en Oneindig deur die Ruimte met die Senter altyd daar waar jy dit kan kontak, onderliggend, deurdringend, oorheersend, aanmoedigend en alomvattend.


Hierdie is JOU lewe! Doen waarvoor jy lief is en doen dit gereeld!

.

Friday, June 13, 2014

Laat die wêreld by jou verbygaan...


Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander bestelling. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is.

Hier buite was dit effens toegetrek met 'n ligte en aangename briesie.

Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie.

Hoekom nie?

Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees?

Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons omgaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het.

Wanneer was die laaste maal dat jy net gesit het, net toegekyk het? Hoekom dit nie vandag doen nie?


.


Saturday, May 10, 2014

Gee om vir jouself


Gee genoeg om vir jouself om mooi te luister na wat jy vir jouself sê.

::

Friday, March 28, 2014

Uithouvermoë


Daar is geen plaasvervanger vir uithouvermoë nie! Dit kannie vervang word deur enige ander eienskap nie! Onthou dit aan die begin en dit sal jou bystaan wanneer dinge moeilik lyk.

Diegene wat uithouvermoë aangekweek het as 'n gewoonte blyk versekering te hê teen toekomstige mislukkings.

Maak nie saak hoeveel maal hulle verslaan word nie, hulle arriveer altyd bo aan die leer. Partymaal lyk dit of daar 'n versteekte gids is wie se plig dit is om mense deur allerhande ontmoedigende ondervindings te toets. Diegene wat hulself optel en weer probeer bereik hul bestemming; en die wêreld skree "Bravo! Ons het geweet jy kan dit doen!" Die versteekte gids laat geeneen toe om groot prestasie te geniet sonder om die uithouvermoë toets te trotseer nie. Diegene wat dit nie kan doen nie behaal net nie die paal nie...

Diegene wat dit wel kan doen word mildelik beloon vir hul uithouvermoë. Hulle ontvang, as hul vergoeding, watter doel ookal hulle nastreef.



.

Saturday, January 25, 2014

Begin Vandag om 'n opwindende lewe te lei!


Vir diegene van ons wat al oor die 50 trek is daar baie veranderings wat in ons lewens plaasvind. Meestal is al die kinders uit die huis, jy staan up die punt om af te tree, en deesdae beteken aftree iets baie anders as wat ons ouers gedoen het. 'Aftree' beteken nou om heeltemal 'n nuwe, interessante, opwekkende en opwindende lewe te betree – een van bemagtiging en hernuwing. Dis nie vir ons beskore om net op die stoep te sit en koffie drink nie – ONS gaan nuwe uitdagings aanneem en hierdie derde fase van ons lewe omskep in iets wonderliks!

Maar vir baie mense is hul identiteit gekoppel aan wie hulle is in hulle werk - Rekenmeester, Veiligheidswag, Direkteur, Ingenieur of wat ookal. Meeste mense maak voorsiening vir die geldelike kant van aftreding - genoeg om van te lewe, genoeg om 'n bietjie te reis en vir die kinders te kan gaan kuier - maar min mense maak niks of geen voorsiening vir die geestelike sy van aftreding nie. Vir meeste mense kom dit as 'n skok as hulle skielik besef dat hulle nou "niemand" is nie - hulle kan nie meer sê "Hallo, ek is Ben, die Direkteur van XXX Maatskappy" nie, en vir menige mense lei dit tot 'n gevoel van nutteloosheid en asof hulle rigtingloos is, 'n gevoel dat hulle maar net so wel op die stoep kan bly sit.

Maar dit hoef nie so te wees nie. Die wêreld het verander en daar is verskillende keuses beskikbaar vir ons. En die een keuse is om jouself geestelik voor te berei vir 'n lewensstyl wat heeltemal anders is as waaraan jy gewoond is, maar een wat ook wonderlik en bemagtigend gaan wees. En dit beteken ons moet "self-doelgerig" wees.


Self-doelgerigtheid bedoel jy moet diep binne jouself delf om te ontdek wie jy eintlik is, vir dít wat vir jou belangrik is - jou mees geliefde belangstellings en aktiwiteite, jou verhoudings met familie en vriende en doelpunte wat jy nog wil bereik. Sodra jy hierdie dinge kan identifiseer, kan jy waarlik 'n poging aanwend om hierdie belangrike aktiwiteite in jou aftredingsplan in te sluit en as sulks jou eie 'lewensverhaal vir die toekoms' te skryf.

So dit maak nie saak hoe oud jy is nie - jy is gelukkig as jy nou nog 20 jaar oud is, want dit beteken dat jy tyd het - JY KAN VANDAG BEGIN - om 'n lewe vol Oorvloed te skep!


Hierdie is JOU lewe - leef elke dag voluit tot jou laaste!

. 

Friday, December 20, 2013

Bevry jouself


Partymaal moet jy alles laat gaan - heeltemal skoonmaak en reinig. As jy ongelukkig is met iets - wat ookal dit is wat jou onder kry, raak ontslae daarvan. Want jy sal vind dat, wanneer jy vry is, jou ware kreatiwiteit, jou ware self, na vore sal tree.

Jou filosofie word nie die beste uitgespreek in woorde nie; dit word uitgespreek in die keuses wat jy maak. Oor 'n tydperk skep ons ons lewens en skep ons onself. Die proses eindig nooit nie. En, die keuses wat ons maak is uiteindelik ons eie verantwoordelikheid.

Binne elk van ons is 'n verborge stoor van energie. Energie wat ons kan gebruik om deel te neem aan die maraton van die lewe.

Binne elk van ons is 'n verborge stoor van moed en dapperheid. Dapperheid om ons die moed te gee om enige uitdaging te aanvaar.

Binne elk van ons is 'n verborge stoor van vasberadenheid. Vasberadenheid wat ons sal ondersteun wanneer alles hopeloos lyk.

Selfs die gelukkigste lewe is nie sonder 'n tiksel donkerte nie en die woord 'gelukkig' sal waardeloos wees as dit nie gebalanseer is deur treurigheid nie. Dit is veel beter om dinge te aanvaar soos dit kom met geduld en gelatenheid.

'Verander dit wat jy kan verander, aanvaar dit wat jy nie kan verander nie en verwyder jouself van dit wat onaanvaarbaar is.'
- Maree


.

Thursday, October 31, 2013

Selfsorg en Meditasie


Meditasie kan jou gesondheid verbeter, jou energievlakke verhoog en jou vreugde vir die lewe verhoog.

Hoewel baie mense meditasie vereenselwig met Oosterse gelowe, beoefen amper elke geloof in die wêreld 'n vorm daarvan. In die Christelike geloof is daar selfs teksverse in die Ou Testament wat mense aanmoedig om te mediteer. Meditasie is ook goed vir jou gesondheid.

Meditasie is vir die gees wat asemhaal is vir die liggaam. Dis ‘n doodnatuurlike proses wat ons die ruimte gee waarbinne ons onsself kan wees, waar ons nie verskoning hoef te maak vir onsself nie; nie regverdiging te soek vir onsself nie, waar ons geen ingewikkelde teorie hoef te begryp of geen tegniek hoef te bemeester nie. Ons hoef net te wees en in ons diepste wese te ervaar hoe goed die lewe is, watter ontsaglike waardevolle geskenk dit is. Elke meditasie is ‘n nuwe begin wat ons deur middel van groot eenvoud leer om minder versteurbaar te word, minder afhanklik van eksterne stimuli en goedkeuring vir ‘n gevoel van tevredenheid en balans.

Sonder twyfel sal baie mense baat deur meditasie en deur die tyd te neem om die eenvoudige oefeninge te doen wat gebruik word om die gedagtes te kalmeer, stres te verminder en energievlakke te verhoog.

Daar is geen een-dimensionele woordeboekdefinisie van meditasie nie, en geen metafoor verhelder dit ten volle nie. Maar dit kan vergelyk word met ‘n pêrel van onskatbare waarde; die een ding wat meer “nodig” (essensieel) as alle ander dinge is.



Ongeag wat ons beskouing is oor wat die essensie of doel van die lewe is, ons opdrag bly dieselfde: Ons moet onsself ken indien ons geken wil word. Onsself liefhê, versorg, ons gesondheid respekteer. Hierdie is nie kennis van die Vals Self wat berus op fassinasie met die self of deur ‘n preokkupasie met die self verkry word nie. Dis nie die soort liefde wat die ego in die middelpunt plaas en ander dinge daaraan ondergeskik wil stel nie. Dis kennis van die Ware Self wat ons in staat stel om met groter gemak te sê wie die Ander is.

SO WAT IS MEDITASIE?
Meditasie is 'n manier om ons self te transformeer en te heel. Wanneer ons mediteer, dan laat ons toe dat die draaikolk van gedagtes en idees verstadig tot by die punt waar ons kalm en positief met onsself kan konnekteer. Alhoewel daar baie verskillende maniere is om te mediteer, leer alle style ons om ons aandag te verskuif en te her-konnekteer met dié gedeelte van jouself wat waar en eg is.

HOEKOM DIT NODIG IS OM TE MEDITEER
Ongelukkig gaan ons nie deur die lewe soos kinders nie. Ons almal kom moeilike en stresvolle situasies teë gedurende ons lewe. En in plaas van om elke dag vars te begin, neig ons om die wêreld en negatiewe dinge van die verlede saam te sleep. Die gelukkige tevrede persoon wat jy was word oorweldig deur hierdie emosies en skielik voel jy ongelukkig en ontevrede en omdat die proses so subtiel is, weet jy nie hoekom nie.


Meditasie is 'n manier om deur daardie lae van emosies van die verlede en oordrewe gedagtes te breek. In plaas daarvan dat ons gedagtes en liggame oorgelaat is aan die genade van die lewe, neem ons beheer. Ons fokus ons aandag op 'n bewustelike manier en sien dan stadig hoe die valse lae van onsself begin te verdwyn soos ons weereens terugkeer na die oorsprong van ons geluk.

Alhoewel meditasie oeroud is en terug dateer na duisende jare, bevestig moderne wetenskaplike ondersoek nou wat ou wysheid lank terug ontdek het. Studie na studie bewys dat meditasie persepsie verbeter asook fokus, geheue en kreatiwiteit. Mense wat gereeld mediteer is gesonder, gelukkiger, meer ontspanne en meer produktief.

DIE WARE DOEL VAN MEDITASIE
Die doel van meditasie is om die toestand van ons hart en gemoed te transformeer en ons terug te bring na onsself. Soos ons gesonder en gelukkiger word en meer selfbewus raak, begin meer voordele natuurlik te vloei — verbeterde verstandelike funksionering, verbeterde intuïsie asook beter toegang tot onbewustelike hulpmiddels en bekwaamhede.


.

Wednesday, October 9, 2013

Kies jouself - Selfsorg

If you have never been called a defiant, incorrigible, impossible woman… have faith. 
There is yet time. 
--Clarissa Pinkola Estes


’n Mens is so geneig om te dink dat dit selfsugtig is om op jouself en jou eie behoeftes te fokus. Maar as jyself nie vir jou sorg nie, gaan niemand anders dit vír jou doen nie! Ons is immers verantwoordelik vir ons eie lewe. Die meeste van ons voel skuldig as ons onsself die weelde van niksdoen of ten minste lekker dinge doen gun. Dag na dag word ons deur die ellelange doenlysies in ons lewe voorgesê. Maar soms is die produktiefste aktiwiteit wat jy kan doen om in ’n hangmat te lê en na die wolke te kyk. Dit voed jou menswees en is goed vir jou gesondheid! Ek glo in myself. 
Ander mense se opinies omtrent my is hulle verantwoordelikheid.
.
Ek word aangedryf deur passie.
Ek is presies waar ek moet wees.
Ek glo in my eie vermoë.
Ek glo aan leef en laat leef.
Ek is in beheer van my gedagtes.
Ek leef ongebonde en sonder vrees.
Ek vra nie om verskoning vir wie ek is nie.
Om myself eerste te stel is nie selfsugtig nie, dit gaan oor selfsorg.
Ek is 'n kind van die Heelal.

Vandag kies ek myself. 

::

Tuesday, September 10, 2013

Selfsorg - Emosionele Hulp


Wanneer jy die dag voor ’n probleem groter as jy self te staan kom, is dit tyd om vir hulp aan te klop. Die vraag is net, aan wie se deur?

Ek weet nie of dit 'n onlangse ding is nie of was dit nog altyd so en is dit nou net meer sigbaar oor die tegnologie van die internet... Ek praat van die feit dat driekwart, of nee, ek gaan sê 'n baie hoë persentasie, van ons vrouens sit met emosionele probleme - en die feit dat daar net nie hulp daar buite is nie.

Met 'hulp' bedoel ek psigoloë en hospitale wat net pille wil voorskryf en gladnie wil of kan uitkom by die oorsaak van die probleem nie. Hulle behandel net die simptome, maar om by die eintlike oorsaak uit te kom, blyk buite hulle veld van ekspertise te wees (en hiermee daag ek enige psigoloog uit om my van anders te oortuig!)

'n Vriendin se persoonlike ondervinding - 'n psigoloog se raad - "jy MOET DEFINITEIF SKEI" - ek dog hulle is veronderstel om nie eensydig te wees nie; dat 'n mens deur leiding en self-ondersoek self tot 'n besluit moet kom.


 'n Ma met 'n verslaafde 15-jarige se dilemma - geen hospitaal of inrigting sal die kind opneem vir behandeling sonder die kind se toestemming nie (wat hulle weining min bereid is om te doen) - en die ouer se hande is gebind.

'n Ander voorbeeld is waar 'n psigoloog reguit aan 'n vriendin erken het "ek kan jou nie help nie". Na 4 jaar het hy (die psigoloog) egter tot die besluit gekom dat sy Bipolar is en 'n jaar daarna dat sy nié Bipolar is nie ...

So waar kan ons emosionele hulp vandaan kom? Behalwe ons geloof los dit net vriendinne en die vele internet self-help programme wat deesdae beskikbaar is. En ook dan moet 'n mens maar versigtig wees en nie net alles vir die waarheid aanneem nie. Maar daar is wel hulp aan-lyn as mens gewillig is om jou kop te gebruik en net toe te pas wat vir jou goed voel.

Dan is daar ook die alternatiewe genesingshulp soos Reiki, meditasie en Sacro-Cranial-terapie. Sacro-Cranial-terapie word as sulks beskryf deur die Departement van Gesondheid van Australia :

'Sacrocranial is a non-invasive therapy, using light touch to assess the quality of your Cranial Rhythm. This can be compared to a normal rhythm, to assess the state of your body and determine how well it is functioning. Light contact is made with the cranial and spinal bones in order to restore the cranial rhythm, boost blood circulation and drain lymph and sinus fluids in the head. As the appropriate bones are held and gentle contact is made with the soft tissue, you may be asked to concentrate on releasing tension and breathing.

Benefits of Sacrocranial Therapy include:


• Resolution of trauma and head injuries from accidents
• Healing of childhood injuries relating to spine and head
• Helping with learning difficulties in children 
• Healing of sports and other injuries
• Healing of birthing trauma. e.g. forceps delivery
• Help break down scar tissue
• Relaxation of the mind and body
• Reduction of stress
• Relief of headaches and migraines

Ek vind ook dat die gewildheid van "Dagboek Netwerke" aansienlik gestyg het oor die afgelope tyd - 'n bewys dat een van die self-help terapieë wat baie goed werk, is die emosionele hulp, raad en bystand wat vriendinne kan voorsien en ook om sommer maar net te skryf en te praat.

Om jouself te help is bemagtiging op sy beste. Wees net eerlik met jouself. Soms verkry ons onbewustelik voordeel uit ’n probleem en dis wat maak dat probleme voort duur. Vra jouself: ‘Hoe graag wil ek hierdie probleem oplos?’ en ‘Wat kry ek uit die probleem?’

Met ander woorde, wat is jou 'pay-off?' Die oplossing moet groter en beter wees as jou huidige 'pay-off'.



LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...