As ons soms na onsself of na ander mense luister, is dit opvallend dat een saak vlak in die harte van baie mense lê: die behoefte aan vreugde! Vreugde is nie net 'n emosie nie. Dis 'n geestestoestand wat ons gereeld aan moet werk om aan die lewe te bly.
Hedendaags is dit so maklik om negatief te wees - die tydskrifte, die koerante, die internet - is almal vol van chaos en pyn en negatiewe verslae van moord en doodslag.
'n Vreugdevolle lewe is iets wat jy vir jouself skep deur elke dag dankbaar te wees vir dit wat jy het. Vreugde is 'n geskenk wat jy aan jouself gee deur jou fokus van jou eie pyn en probleme te verskuif na iets anders en dit maak geleenthede oop om die wêreld positief te beïnvloed.
Onthou, dit waaraan jy gereeld dink, word werklikheid. Een manier om vreugdevol te bly is om te aanvaar dat dinge nooit perfek gaan wees nie. Ons dink alles moet eers perfek wees voor ons waarlik kan leef. Nou ja, dinge gaan nooit 100% perfek wees nie. Om tevrede te wees te midde van jou omstandighede is ’n goddelike ding. Om vergenoegd te leef vra dankbaarheid. Raak vandag bewus van al die seëninge in jou lewe.
En moenie dat seer jou vreugde steel nie. Daar's 'n tyd en 'n plek vir alles - daar's 'n tyd om seer te voel en dit dan te oorleef. Daar's 'n tyd om te lag, en selfs net te glimlag, en die oomblik se vreugde diep te voel sodat dit telkens uit jou onderbewustheid opgegrawe kan word om weer te onthou.
So waak teen daai "klein jakkalsies" wat weer en weer probeer om jou vreugdes te steel. Kyk na binne om te sien of daar enige nare klein vreugdediewe rondsluip en sodra jy hulle geïdentifiseer het - dáárdie vriendin wat gereeld kla - verwyder dit uit jou lewe.