Goeie dag vanaf Oorvloed!
Vandag wil ek praat oor 'n paar
besluite wat ons moet neem om ons lewe op dreef te kry - dis so maklik om die
klein dingetjies wat pla sommer maar net so te los vir môre of 'een of ander
tyd', en my pa het altyd gesê
"moenie afstel vir môre wat jy vandag kan doen nie".
Neem 'n besluit om ...
... NOOIT OP TE GEE NIE
Elke dag moet jy ’n keuse maak: gaan ek ’n oorwinnaar of ’n slagoffer wees? Om probleme te
bowe te kom begin dus by ’n keuse! Ek moet die besluit neem dat ek wÃl wen en
gaan volhard om my doel te bereik – ongeag wat my omstandighede mag wees.
... ALLEEN DIE MAS OP TE KOM
Bevind jy jouself in ’n situasie waar jy alleen voel en nie weet hoe om die
eise te hanteer nie? Jy moet verstaan dat niemand jou gaan red nie, en dat jy
self beheer sal moet neem. Probeer om jou emosies te verstaan. Is dit
eensaamheid, ’n strewe na perfektheid of dalk skuldgevoelens wat jou onderkry?
Of is dit ’n konkrete probleem soos onvoldoende finansies, te min tyd of geen
ondersteuning nie?
Sodra jy bepaal het wat die
probleem is, moet jy jouself afvra hoe jy beheer hieroor kan neem. Probeer wyer
kyk as net die voor-die-hand-liggende. Soms, as ons objektief na ’n situasie
kyk, vind ons dat die oplossing reg voor ons oë is. Beplan stap-vir-stap hoe jy
by ’n beter plek gaan uitkom en moenie moed opgee tot jy dit regkry nie.
Moet ook nie vergeet dat jy
nooit alleen is nie – selfs in jou moeilikste tye is
daar Iemand met oop arms, gereed om jou te vertroos en te dra.
... KRITIEK BETER TE HANTEER
Meeste van ons is skuldig
daaraan dat ons ander mense se kritiek kop toe vat. Dit kan so erg raak dat jy
al die positiewe uitsif en nét die negatiewe agterhou en daarop fokus. Dit word
die maatstaf waarteen eiewaarde gemeet word.
Al is kritiek nooit lekker nie,
is daar dinge wat jy kan doen om dit beter te hanteer:
• Neem ’n wilsbesluit om nie onmiddelik op die kritiek te
reageer nie. Tree terug sodat jy nugterder na die kritiek kan kyk.
• Kritiek moet
op gedrag, nie op ’n persoon nie, gemik wees. As
iemand persoonlik raak, versoek ’n fokus op die gedrag wat onaanvaarbaar is.
• Onthou dat
ervaringe uit jou verlede ’n rol kan speel in
hoe jy kritiek hanteer (byvoorbeeld die invloed van ’n baie kritiese ouer).
• Skryf die
kritiek neer en slaap eers daaroor.
• Maak seker of
die kritiek waar is en neem verantwoordelikheid vir dit waaroor jy beheer het.
Vra iemand wat jou goed ken, se mening.
• Sien dit as ’n geleentheid om te leer van jou eie “blindekolle” en
kwesbaarhede en te groei in jou menswees.
... DAAI SLEGTE GEWOONTES AF TE
SKUD
Elkeen van ons het een of ander
slegte gewoonte – te veel eet, rook, wat ook al – wat ons wil afskud. Onthou
net, gewoontes vorm gewoonlik geleidelik, daarom sal dit tyd neem (drie tot ses
weke) om te verander, maar dit is moontlik deur hierdie stappe te volg: Maak
’n keuse om dit te wÃl doen.
* Verander jou “binnepraat”, want solank jy
dieselfde goed vir jouself sê, sal jy outomaties dieselfde goed doen.
*
Visualiseer hoe jy dit regkry om die nuwe gedrag uit te leef. Hoe duideliker jy
dit kan visualiseer, hoe groter is die kans dat jy sal volhou.
* Gee vir
jouself erkenning elke keer wat jy suksesvol die ou gewoonte oorkom.
* Dit help
baie indien iemand anders weet wat jy probeer bereik en as ’n
ondersteuningstelsel kan optree.
* Sit ’n prentjie, aanhaling of grafiek êrens
op waar jy dit elke dag kan sien om jou te herinner aan dit wat jy wil bereik.
Dit moet die positiewe nuwe gedrag of gewoonte voorstel.
Onthou, jy kan die ou gewoonte
verander as jy dink jy kan!
... ’N KLA-KOUS OP SY OF HAAR PLEK TE SIT
Die beste manier om van ’n kla-kous ontslae te raak, is om te begin kla voordat
sy die kans kry. Kan jy jou haar skok indink as jy wegtrek met: “Ja jong, die
land is besig om in die afgrond te versink. Een van die dae gaan ons soos Zimbabwe
opeindig. Die petrolpryse is verskriklik, die voedselpryse is angswekkend ...
Ons gaan dit nie maak nie, veral nie met al die klakouse rondom ons nie”.
Ek is seker die persoon sal vir
’n oomblik heeltemal vergeet wat rondom haar aangaan. Jou laaste stelling
behoort haar skok in saamstem te verander, en dit behoort haar tot nadenke te
bring.
Die waarheid is dat almal maar ’n geneigdheid het om so nou en dan te kla. Dis
geoorloof as jy die volgende reël toepas: Jy mag net drie keer oor dieselfde
ding kla. Doen dan iets om die situasie te verander, of besef dat jy niks
daaraan kan doen nie en kom oor dit (met ander woorde, hou op kla daaroor!) Wat
help dit in elk geval?
... JOU DROOM TE BEWAARHEID
Moenie dat jou drome wensdenkery
bly nie – ontwikkel ’n duidelike prentjie daarvan. As jy nie
weet wat jou droom is nie, sal jy mos nooit daarby uitkom nie. Skryf jou droom
neer en sien in jou gedagtes hoe dit stapsgewys ’n realiteit word.
Gaan oor tot aksie, anders sal
jou droom doodgebore wees. Iemand het eenmaal gesê die beste manier om jou
drome waar te maak is om wakker te word! Min mense het die moed of wil om
daardie warm plekkie te verlaat en moue op te rol om te begin werk. Dit gaan
beplanning (’n vaste doelwit het ’n spertyd), innerlike motivering en toewyding
kos. Maar hou jou oog op die einddoel.
Jy moet uit die staanspoor weet
dat daar terugslae gaan wees op pad na die vervulling van jou droom. Glo in
jouself en weet dat jy tot alles in staat is deur Christus wat jou krag gee.
... VREDE TE MAAK MET DIE OUDERDOM
Dit voel soos gister toe jy 20
was! Maar die liggaam wat protesteer as jy trappe klim, die wilde grys haar wat
uit die niet verskyn en die fyn lagplooitjies om jou oë verklap dat jy
definitief nie meer 20 is nie.
Vrede met jou ouderdom begin by
die vrede wat jy ervaar oor die lewe wat jy tot dusver gelei het en die hoop en
drome wat jy vir die toekoms het; die vermoë om in die “nou” te leef en elke
oomblik te koester. Jou verantwoordelikheid is om die beste “jy” te wees gegewe
dit wat jy ontvang het. Deur na jou liggaam te kyk en reg te eet,
genoeg te slaap, te oefen en te ontspan en dikwels met oorgawe te lag, kan jy
van binne straal – en dÃt oorskadu gewoonlik meeste tekens van die ouderdom.
... TE SÊ HOE JY VOEL SONDER
OM SEER TE MAAK
Vra jouself hoekom jy seergemaak
voel. Dalk het dit nie te doen met dit wat die ander persoon gesê of gedoen het
nie, maar met ’n seer uit die verlede waarmee jy nie gedeel het nie.
Solank jy bly by hoe jý voel sonder om die ander persoon te beskuldig, is jy
op die regte pad. Vermy uitdrukkings soos “Jy het my gevoelens seergemaak”
of “Jy het my beledig toe jy gesê
het ...” Sê eerder: “ Ek het seergemaak gevoel toe jy ...” of “Ek het beledig
gevoel toe jy ....” Dit neem onmiddellik die fokus weg van die ander persoon en
plaas jou gevoelens op die tafel.
Onthou, ander maak ons nie seer
nie; ons kÃés om seergemaak te voel.
Soms sê en doen mense dinge uit onkunde. Vind eers kalm uit
wat die persoon se bedoeling was, haal diep asem en verduidelik dan presies hoe
jy oor dinge voel.
... NIE OOR ALLES TE STRES NIE
Vir baie vroue het kommer ’n
leefwyse geword. Selfs klein dingetjies veroorsaak dat hulle angstig en
gespanne raak. Hulle vra heeltyd die vraag: “Wat as ...”
Die realiteit is dat daar dinge
in die lewe is waaroor ons geen beheer het nie. Dit maak nie ’n verskil hoeveel
jy daaroor stres nie – dit gaan in elk geval gebeur! Deur chronies bekommerd te
wees oor jou man en kinders beperk jy uiteindelik jou eie vermoë om jou emosies
te hanteer.
Die hartseer is dat ons onsself
moeg maak deur bekommerd te wees oor dinge wat meestal nooit gebeur nie. Ons
mors al ons emosionele energie daarop.
Sit terug, haal diep asem,
aanvaar die feit dat dinge soms verkeerd loop, hanteer dit soos dit kom en
probeer om nie al jou tyd en energie te vermors op bekommernisse waaraan jy in
elk geval niks kan doen nie.
... DIE TRAUMA VAN GEWELD TE HANTEER EN
TE OORKOM
Jou eerste gewaarwording is
verlies. Iemand het jou persoonlike spasie binnegedring, jou lewe bedreig en
jou besittings geneem. Die skok het ook ’n groot impak op die chemiese balans
in jou brein en kan die funksionering daarvan nadelig beïnvloed.
Dit is belangrik om nie in ’n negatiewe spiraal vasgevang te word nie. Probeer om
nie die groter prentjie mis te kyk nie. Kies om doelbewus te soek na positiewe
dinge. Waak daarteen om nie jouself te isoleer nie. Omring jou met mense wat
realisties positief is en daar is vir jou. Gee jouself kans om deur die trauma
te werk. Moet dit nie onderdruk en aangaan asof niks gebeur het nie, anders
gaan jy later, met baie meer moeite, jou emosies moet hanteer.
Dit kan ook help om met ’n professionele persoon te praat of joernaal te hou
van jou emosies.
Kom ons neem daardie besluite
VANDAG en mag ons reistog genotvol wees!
Groete,
MAREE