.

Haai, my naam is Maree!

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Sunday, September 21, 2025

Hou op omgee


Om op ons eie terme te lewe, moet ons twee dinge doen :

- Ophou om om te gee... en
- Ons limietperke oorskry.

Kom ons begin by hoekom ons moet ophou om om te gee. Dit mag dalk vir jou skokkend klink, maar baie van dit wat in ons pad staan om ons drome te verwesenlik is die feit dat ons te veel omgee oor dinge wat nie saak maak nie.

Ons gee te veel om oor al die besittings wat ons dink ons moet hê. Ons gee te veel om oor wat ander mense dink, wat dan verhinder dat ons om vir hulp te vra as ons dit nodig het of vir iets te vra wat ons kan help om ons drome te verwesenlik. Om te veel om te gee oor die feit dat jy nie weet waar om te begin met iets nie, verlam jou en veroorsaak dat jy nie die nodige stappe neem nie.

Daardie soort omgee is nie gesond nie. Dit staan in die pad van die verwesenliking van jou drome.

So, die eerste stap is: hou op om om te gee. Jy weet nie hoe om op te hou omgee nie? Dis eenvoudig, moenie dinge kompliseer nie. Verbeel jou jy het 'n warm kool in jou hand. Wat sal jy daarmee doen? Dit onmiddellik laat val, natuurlik. Doen dieselfde met dinge wat nie belangrik is nie. Maak dit jou bang? Ja. Is dit die moeite werd? Hel ja!

Die tweede ding wat jy moet doen is om jou gemaksone te oorskry. Ons het almal 'n sekere perk, of drumpel, vir die hoeveelheid onsekerheid wat ons kan hanteer. Vir party is die drumpel baie laag, ons is selfs bang vir die eenvoudige goed soos om met 'n vreemdeling te praat. Vir party is dit iets groter soos om op te hou werk en jou passie te volg. Daar is geen manier waarop jy die uitkoms kan bepaal nie, so dan stop jou onsekerheid jou om aksie te neem.


Wat jou terughou is meesal denkbeeldige vrese. Dis nie gebaseer op feite van wat in die verlede gebeur het of enige werklike inligting nie. Dis alles in jou kop.

So ten einde ons drome na te volg moet ons ophou omgee omtrent dit wat ons nie weet nie. Ons moet ons drumpel van onsekerheid oorskry, ons gemakssone verlaat en dan sal ons groter uitdagings kan aanvaar. Begin klein deur met 'n vreemdeling 'n geselsie aan te knoop of deur iemand te vertel hoe jy werklik voel.

Wanneer jy vrees ondervind omtrent iets wat jy wil doen, vra waar daardie angs vandaan kom. Is dit iets werkliks of is dit jou verbeelding? Is jy in lewensgevaar? Indien nie, doen dit wat jy vrees... Stoot jou onsekerheids-perk. Jou drome hang daarvan af.

Hoe meer jy dit doen, hoe minder bang sal jy wees om groter waagstukke aan te gaan. Jy sal verander van 'n muis na 'n leeu. Jou drome sal wortel skiet en jou hele lewe sal verander!

::


.

Sunday, September 14, 2025

Om ongelukkig te wees is 'n slegte gewoonte



Die lewe is eintlik baie eenvoudig. Dink 'n goeie of slegte gedagte en jy voel 'n goeie of slegte emosie. Sodra jy besluit om jou gedagtes te verander, sal jy sien hoe al jou emosies en nagevolge verander. Ons almal weet dit. Dit spreek vanself dat jy nie gelukkig lyk, of kan wees, as jy die hele dag frons nie.

Nou, as ons dit weet, hoekom doen ons dan nie iets daaromtrent nie? Weereens is die antwoord eenvoudig -- dis soveel makliker om in ons ou gewoontes rond te slons. Dit is alombekend dat gewoontes verskriklik moeilik is om te breek. Maar ek het 'n suksesvolle manier ontdek om stadig maar seker van slegte gewoontes ontslae te raak. 

Die geheim is om nie 'n GROOT gedoente daarvan te maak nie, want verandering kan mens ongemaklik en bang laat voel en die skrik op die lyf jaag. Maak klein besluite en beloftetjies aan jouself. Sê vir jouself, net vir die volgende uur gaan ek nie frons nie. Vir die volgende uur gaan ek aan twee dinge dink waarvoor ek dankbaar is. Vir die volgende uur gaan ek gereeld glimlag -- wie kan ongelukkig voel terwyl hulle glimlag? 😁

::









(Neem meer besluite elke dag.)

.

Saturday, September 6, 2025

'n Perfekte dag

(Foto vanaf Pinterest)

Party mense floreer op baie aktiwiteit en hou van konstante nuwe dinge en verandering in hul lewe. En terwyl ek daardie mense admireer, is ek van nature nie so nie. Dis nie dat ek nuwe ondervindings nie geniet nie. Dis net dat ek verkies dat my dae stadig en standvastig is. En terwyl dit my partymaal skuldig en lui laat voel, begin ek dit nou te waardeer en te aanvaar. 

My idee van 'n perfekte dag is om rustig in die tuin te werk of in my tuinhuisie te onstpan, 'n koppie koffie op die stoep te sit en drink, 'n skildery of twee te doen en 'n uitstappie in ons Estate, kamera in die hand, te geniet. Dan is ek op my gelukkigste! 

Was is JOU idee van 'n perfekte dag? 

:: 

Saturday, August 30, 2025

Verander jou lewe vir ewig


'n Klompie jare terug was my lewe, om die minste te sê, uiters vaal, onbenullig, ongelukkig en rigtingloos. Ek het almal en alles geblameer vir my ongelukkigheid en nie gesien dat die antwoord reg onder my neus lê nie.

Ek het op 'n artikel afgekom omtrent "Living with Passion", en hierdie woorde, "Living with Passion is about creating and experiencing joy in as many aspects of life as possible" het my na my eie lewe met nuwe oë laat kyk. Wat op aarde het my laat dink dat enige iemand anders behalwe ek self verantwoordelik kan wees vir my geluk? 

'n Passievolle lewe is meer as net 'n filosofie—meer as onbenullige wense vir geluk in jou gedagtes. Dis nie 'n probleem-vry-, feëverhaal-bestaan nie en dit belowe ook nie rykdom en faam nie. Eerder, dis 'n bestaan wat bewustelik gekies is, bewustelik ontwerp is en 'n bestaan wat verantwoordelik gelewe word. Dit is 'n besluit omtrent wat jy wil vermag. Dit is om sonder huiwering deur elke storm van die lewe te beweeg en om wyser en sterker anderkant uit te kom. Dit is om aanhoudend te leer, lief te hê en te groei.

'n Passievolle lewe is 'n vervulde lewe. Dit laat jou toe om te sê, "Hierdie is belangrik. Dit is wat die Heelal my gegee het om na die wêreld te bring en ek gaan dit volstoom doen!"

'n Passievolle lewe bedoel jy neem verantwoordelikheid vir jou keuses, jou aksies en jou ondervindings. Dit bedoel jy beweeg vorentoe van hierdie dag sonder self-opgelegde limitasies, klagtes of spyt. 

Om passievol te lewe is om entoesiasties te lewe. Kombineer aksie en passie en jy sal entoesiasme beleef. En dit is maklik om entoesiasme met andere te deel want entoesiasme is aansteeklik. 

Vind jou passie vandag en deel vandag jou entoesiasme vir die lewe met iemand — 'n vriend, 'n medewerker, familielid of selfs iemand wat jy nog nooit tevore ontmoet het nie. 

'n Passievolle lewe is 'n inspirerende geskenk wat die wêreld vir baie generasies kan verhelder!

::


.

Tuesday, June 7, 2022

Laat jou slaapkamer weer stoom



In een van die boeke wat ek onlangs gelees het, A-Z van Seks, sê Elmari Craig seksuoloog, huweliksberader en skrywer van die boek,

"... seks aan ons gegee om binne die veilige ruimte wat die huwelik skep, te geniet. ʼn Gesonde seksuele verhouding is die diepste vorm van kommunikasie tussen twee mense wat mekaar intens liefhet en trou aan mekaar belowe het. Dit skep geborgenheid, intimiteit en nabyheid. Dit is die sement wat jou huwelik beskerm. ʼn Gesonde seksuele verhouding is as’t ware geestelike oorlogvoering vir jou huwelik. Ek glo dat God juis vir ons die seksuele kant van menswees gegee het – nie net vir prokreasie nie, maar ook vir rekreasie, vir die lekker! – om ons liefde vir mekaar te vier en te versterk.”  

Hoewel baie getroude vroue seks binne die huwelik geniet, is daar tog baie skuldgevoelens en wanopvattings wanneer getroude seks ter sprake is. Ons is as seksuele wesens geskape,” verduidelik Elmari. “Ons word so gebore en bly seksuele wesens tot die dag dat ons sterf. Seks is deel van die lewe. Ons word baie onskuldig gebore en mettertyd leer ons om ons seksuele gevoelens te onderdruk – soveel so dat dit selfs moeilik word om oor seks te praat. Baie mans en vroue het min, geen of ʼn negatiewe seksuele opvoeding gekry. Ons word geïnhibeerd en seksualiteit word ʼn baie private aangeleentheid, veral met ons Afrikaanse, Calvinistiese agtergrond. Vir meer as 2000 jaar word persepsies oor seksualiteit ook deur godsdiens gevorm, soos byvoorbeeld dat seks sonde is, dat dit nie iets is om te geniet nie en dat dit ʼn plig eerder as ʼn plesier moet wees.”  

Elmari ontbloot die drie grootste seksmites wat getroudes steeds glo: “Baie paartjies glo seks is vervelig, dat vrouens nie van seks hou nie – veral nie om te eksperimenteer nie – en dat seks op ʼn sekere ouderdom nie meer belangrik of reg is nie. ʼn Vrou kan selfs ná jare se getroude lewe haar man in die slaapkamer verower as sy met hom WIL seks hê en dit saam met hom GENIET. Wees oop vir nuwe dinge, probeer af en toe iets nuuts – al is dit dieselfde ding op ʼn ander manier – en onthou om te lag. Humor in die slaapkamer is kosbaar en essensieel.”


JOU SEKSUELE SIKLUS
Die goue reël vir die slaapkamer is dat enigiets binne die seksuele verhouding goed en reg is mits albei daartoe instem, gemaklik daarmee is en dit niemand emosioneel of fisiek skade berokken nie,” sê Elmari. Hier is wat jy in die verskillende fases van jou lewe te wagte kan wees:

•    Seks in jou 20s ...

HOE DIT IS: “Jy en jou maat is in die ontdekkingsfase. Seksualiteit is ʼn proses om jou liggaam en behoeftes, sowel as die van jou maat, te leer ken.”

WAT IS NORMAAL: “Mans piek seksueel in hulle vroeë twintigs, maar vroue eers in hulle vroeë dertigs. In hierdie lewensfase waar alles nog opwindend is, het julle dalk meer gereeld seks as in die later jare.”

ALGEMENE PROBLEME: “ʼn Gebrek aan seksuele begeerte is algemeen by vroue aangesien hulle hul seksdrang lank onderdruk het en dit ná die troue weer moet optower. Paartjies kan ook  ʼn verskil in seksdrang ervaar terwyl sommige mans voortydige ejakulasie ondervind. Vaginismes, waar die kringspiere van die vagina só saamtrek dat penetrasie onmoontlik is, word gewoonlik ook in hierdie fase gediagnoseer. Spreek ʼn seksuoloog aangesien al hierdie probleme oplossings het.”

GROOTSTE UITDAGING:  “Omdat seks ʼn nuwe ervaring vir albei van julle is, is die grootste uitdaging om met mekaar te praat en gemaklik te raak met jou eie en jou maat se seksualiteit. Aanvaar seks as ’n Godgegewe gawe.”

DIE PLUSPUNT: “Julle is jonk en jeukerig en het krag vir allerhande nuwe dinge. Maak die beste van hierdie lewensfase waartydens julle net op mekaar ingestel hoef te wees.”


•    Seks in jou 30s ...

HOE DIT IS: Gewoonlik het dié lewensfase baie uitdagings soos loopbaaneise, swangerskap en pienkvoete. Slapelose nagte en borsvoeding is dikwels nie bevorderlik vir erotiese gedagtes nie. Dit is egter ook in hierdie fase waar die vrou gewoonlik haar seksuele piek bereik en sy uiteindelik met haarself en haar behoeftes kan vrede maak.”

WAT IS NORMAAL: “ʼn Fokus op die kwaliteit van die seksuele aktiwiteit eerder as die kwantiteit van seks is hier baie belangrik. In hierdie fase is die fokuspunt wedersydse behoeftebevrediging.”

ALGEMENE PROBLEME: “Soms kan ʼn gebrek aan seksuele begeerte in hierdie fase ontwikkel weens die eise van die lewe, ʼn gebrek aan emosionele intimiteit in die huwelik of onopgeloste konflik of gevoelens wat oor tyd opgebou het. Al hoe meer mans in hulle dertigerjare begin ook erektiele disfunksie ervaar weens hulle besige lewenstyle of erge spanning.”

GROOTSTE UITDAGING: “Stres en tydsbestuur vir emosionele en fisieke intimiteit is in hierdie fase die groot sondebok. Bly fokus op jou huwelik en jou huweliksmaat as eerste prioriteit, dan julle kinders en dan jou werk.”

DIE PLUSPUNT: “Jy het die insig om met jouself vrede te maak. Jy en jou maat ken julle seksuele behoeftes en kan nou openlik daaroor kommunikeer. Geniet dit!”

•    Seks in jou 40’s ...

HOE DIT IS: “Jy en jou maat kan nou net julleself wees. Jy het die wysheid om te weet dat niks perfek is nie. Jy kan gemaklik wees en van al jou inhibisies ontslae raak. Jou seksualiteit kan blom aangesien julle waarskynlik nou meer tyd het en die kinders meer onafhanklik is.”


WAT IS NORMAAL: “Jou estrogeenvlak mag begin daal en jy kan peri-menopousale simptome soos warm gloede, ongereelde maandstondes of vaginale droogheid begin ervaar. Hou dus altyd ʼn smeermiddel byderhand. Jou man het waarskynlik langer en meer direkte stimulasie van sy penis nodig en het ook ʼn langer refraktoriese fase (die tyd wat dit neem om weer ʼn ereksie te kry).”

ALGEMENE PROBLEME: “Vaginale droogheid is in hierdie fase ʼn algemene probleem en mans kan ook met erektiele disfunksie begin sukkel.”

GROOTSTE UITDAGING: “Dis baie belangrik om met jou veranderende lyf vrede te maak en mekaar op ʼn nuwe vlak seksueel te ontdek. Al speel julle reeds jare lank die spel van die liefde, moet julle probeer om dit opwindend, vars en nuut te hou.”

DIE PLUSPUNT: “Julle ken julle eie en mekaar se liggame en behoort nou gemaklik oor die seksuele te kan kommunikeer. Geniet die voordeel van tyd!” - Elmari Craig

(Ek wonder nou eintlik net wat het geword van seks in die 60's...)

TIEN KENMERKE VAN ’N SEKSGODIN

’n Seksgodin …

1.    is altyd smeulend en sexy, al pas sy nie in ʼn nommer 32 nie! Sy het selfvertroue, is gemaklik met haar eie liggaam en vrygewig met haar seksualiteit.

2.    is die cheerleader wat haar man soos ’n kampioen-minnaar laat voel.

3.    weet hoe om vir wonderlike seks te beplan en daarvoor tyd te maak.

4.    laat haar man weet hoe baie sy hom en sy lyf geniet.

5.    weet hoe om haarself, die kamer en die oomblik soos ʼn persent ‘toe te draai’.

6.    maak die slaapkamer ʼn sensuele koninkryk – dit is nie die plek vir vuil wasgoed en   kinderspeelgoed nie!

7.    is bereid om nuwe dinge te probeer en soms te eksperimenteer. Sy is altyd opwindend, vol verrassings en bereid om van haar inhibisies te vergeet.

8.    weet hoe om haar man seksueel te bevredig. Sy sorg dat sy die regte inligting kry om haar seksuele vaardighede te verbeter en luister na haar man se behoeftes.

9.    gee soms net aan haar sensuele behoeftes oor en oorrompel haar man op ʼn tyd en plek waar hy dit die minste verwag.

10.weet hoe om die beste te maak van die feit dat mans visueel ingestel is. Sy doen moeite met higiëne, sensuele onderklere en klere en is soms onvoorspelbaar – ook in hoe sy lyk en aantrek.


WENKE VIR VA-VA-WOEMA!

·       Bedien allerhande verleidelike eetgoed in die slaapkamer en voer dit vir jou minnaar - ʼn sjokoladefontein of vrugte werk baie goed.

·       Loop ʼn bietjie braloos met net ʼn dun T-hempie aan rond wanneer julle weer alleen by die huis is.  

·       Hou ʼn modeparade vir jou man en modelleer ʼn paar nuwe sexy items vir hom (al is die kanse goed dat jy dit net vir ʼn klein rukkie gaan aanhê!).

·       Verander julle bad in ʼn luukse spa met allerhande bederfgoed soos olies, smeermiddels en kerse. Wees ook kreatief met die ‘dienste’ wat by die spa jy aan jou man lewer.

·       Gee ʼn gewone romantiese afspraak nuwe oemf deur ʼn spesiale tema daaraan te koppel. Hou ʼn Franse aand en bedien net Franse cuisine. Vir poeding oefen julle dan French kissing.

·       Gebruik die ontmoet-my-tegniek. Los ʼn boodskap op jou man se foon of nooi hom per e-pos om jou iewers te ontmoet. Los vir hom verleidelike instruksies soos: “Ontmoet my om 18:00 by die Sheraton-hotel se ingangsportaal. Onthou jou tandeborsel.”

·       Gebruik jou rooiste lipstiffie om vir hom ʼn boodskap op die spieël te skryf, byvoorbeeld: “Môre mnr. Sexy! Kom ons gaan laai die kinders vanaand vroeg by jou ouers af … ek het ʼn opwindende plan vir die aand. xxx”

·       Gee hom die oggend ʼn energiestafie saam werk toe. Sit ʼn nota daarby om hom in te lig dat hy die energie vir vanaand gaan nodig kry.  

·       Sê vir jou man jy het iewers parfuum aan jou gespuit en dat hy jou moet help om dit op te spoor.  

·       Begroot om elke maand ʼn sekere bedrag op julle sekslewe te spandeer. Koop items soos luukse lakens, lingerie of gebruik dit vir ʼn aandjie of naweke saam weg. 

Ek wens almal 'n vreugdevolle en seksie naweek toe!
  
Groete,

MAREE

.

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...