.

Haai, my naam is Maree!

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Sunday, September 21, 2025

Hou op omgee


Om op ons eie terme te lewe, moet ons twee dinge doen :

- Ophou om om te gee... en
- Ons limietperke oorskry.

Kom ons begin by hoekom ons moet ophou om om te gee. Dit mag dalk vir jou skokkend klink, maar baie van dit wat in ons pad staan om ons drome te verwesenlik is die feit dat ons te veel omgee oor dinge wat nie saak maak nie.

Ons gee te veel om oor al die besittings wat ons dink ons moet hê. Ons gee te veel om oor wat ander mense dink, wat dan verhinder dat ons om vir hulp te vra as ons dit nodig het of vir iets te vra wat ons kan help om ons drome te verwesenlik. Om te veel om te gee oor die feit dat jy nie weet waar om te begin met iets nie, verlam jou en veroorsaak dat jy nie die nodige stappe neem nie.

Daardie soort omgee is nie gesond nie. Dit staan in die pad van die verwesenliking van jou drome.

So, die eerste stap is: hou op om om te gee. Jy weet nie hoe om op te hou omgee nie? Dis eenvoudig, moenie dinge kompliseer nie. Verbeel jou jy het 'n warm kool in jou hand. Wat sal jy daarmee doen? Dit onmiddellik laat val, natuurlik. Doen dieselfde met dinge wat nie belangrik is nie. Maak dit jou bang? Ja. Is dit die moeite werd? Hel ja!

Die tweede ding wat jy moet doen is om jou gemaksone te oorskry. Ons het almal 'n sekere perk, of drumpel, vir die hoeveelheid onsekerheid wat ons kan hanteer. Vir party is die drumpel baie laag, ons is selfs bang vir die eenvoudige goed soos om met 'n vreemdeling te praat. Vir party is dit iets groter soos om op te hou werk en jou passie te volg. Daar is geen manier waarop jy die uitkoms kan bepaal nie, so dan stop jou onsekerheid jou om aksie te neem.


Wat jou terughou is meesal denkbeeldige vrese. Dis nie gebaseer op feite van wat in die verlede gebeur het of enige werklike inligting nie. Dis alles in jou kop.

So ten einde ons drome na te volg moet ons ophou omgee omtrent dit wat ons nie weet nie. Ons moet ons drumpel van onsekerheid oorskry, ons gemakssone verlaat en dan sal ons groter uitdagings kan aanvaar. Begin klein deur met 'n vreemdeling 'n geselsie aan te knoop of deur iemand te vertel hoe jy werklik voel.

Wanneer jy vrees ondervind omtrent iets wat jy wil doen, vra waar daardie angs vandaan kom. Is dit iets werkliks of is dit jou verbeelding? Is jy in lewensgevaar? Indien nie, doen dit wat jy vrees... Stoot jou onsekerheids-perk. Jou drome hang daarvan af.

Hoe meer jy dit doen, hoe minder bang sal jy wees om groter waagstukke aan te gaan. Jy sal verander van 'n muis na 'n leeu. Jou drome sal wortel skiet en jou hele lewe sal verander!

::


.

Sunday, September 14, 2025

Om ongelukkig te wees is 'n slegte gewoonte



Die lewe is eintlik baie eenvoudig. Dink 'n goeie of slegte gedagte en jy voel 'n goeie of slegte emosie. Sodra jy besluit om jou gedagtes te verander, sal jy sien hoe al jou emosies en nagevolge verander. Ons almal weet dit. Dit spreek vanself dat jy nie gelukkig lyk, of kan wees, as jy die hele dag frons nie.

Nou, as ons dit weet, hoekom doen ons dan nie iets daaromtrent nie? Weereens is die antwoord eenvoudig -- dis soveel makliker om in ons ou gewoontes rond te slons. Dit is alombekend dat gewoontes verskriklik moeilik is om te breek. Maar ek het 'n suksesvolle manier ontdek om stadig maar seker van slegte gewoontes ontslae te raak. 

Die geheim is om nie 'n GROOT gedoente daarvan te maak nie, want verandering kan mens ongemaklik en bang laat voel en die skrik op die lyf jaag. Maak klein besluite en beloftetjies aan jouself. Sê vir jouself, net vir die volgende uur gaan ek nie frons nie. Vir die volgende uur gaan ek aan twee dinge dink waarvoor ek dankbaar is. Vir die volgende uur gaan ek gereeld glimlag -- wie kan ongelukkig voel terwyl hulle glimlag? 😁

::









(Neem meer besluite elke dag.)

.

Saturday, September 6, 2025

'n Perfekte dag

(Foto vanaf Pinterest)

Party mense floreer op baie aktiwiteit en hou van konstante nuwe dinge en verandering in hul lewe. En terwyl ek daardie mense admireer, is ek van nature nie so nie. Dis nie dat ek nuwe ondervindings nie geniet nie. Dis net dat ek verkies dat my dae stadig en standvastig is. En terwyl dit my partymaal skuldig en lui laat voel, begin ek dit nou te waardeer en te aanvaar. 

My idee van 'n perfekte dag is om rustig in die tuin te werk of in my tuinhuisie te onstpan, 'n koppie koffie op die stoep te sit en drink, 'n skildery of twee te doen en 'n uitstappie in ons Estate, kamera in die hand, te geniet. Dan is ek op my gelukkigste! 

Was is JOU idee van 'n perfekte dag? 

:: 

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...