.

Haai, my naam is Maree!

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Friday, June 13, 2014

Laat die wêreld by jou verbygaan...


Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander bestelling. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is.

Hier buite was dit effens toegetrek met 'n ligte en aangename briesie.

Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie.

Hoekom nie?

Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees?

Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons omgaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het.

Wanneer was die laaste maal dat jy net gesit het, net toegekyk het? Hoekom dit nie vandag doen nie?


.


Saturday, May 10, 2014

Gee om vir jouself


Gee genoeg om vir jouself om mooi te luister na wat jy vir jouself sê.

::

Thursday, May 1, 2014

Seëninge sit in rye op die Eskomdrade...


Seëninge sit in rye op die Eskomdrade...

Tel jou seëninge elke dag en jy sal sien hoe hulle vermeerder.

.

Friday, March 28, 2014

Uithouvermoë


Daar is geen plaasvervanger vir uithouvermoë nie! Dit kannie vervang word deur enige ander eienskap nie! Onthou dit aan die begin en dit sal jou bystaan wanneer dinge moeilik lyk.

Diegene wat uithouvermoë aangekweek het as 'n gewoonte blyk versekering te hê teen toekomstige mislukkings.

Maak nie saak hoeveel maal hulle verslaan word nie, hulle arriveer altyd bo aan die leer. Partymaal lyk dit of daar 'n versteekte gids is wie se plig dit is om mense deur allerhande ontmoedigende ondervindings te toets. Diegene wat hulself optel en weer probeer bereik hul bestemming; en die wêreld skree "Bravo! Ons het geweet jy kan dit doen!" Die versteekte gids laat geeneen toe om groot prestasie te geniet sonder om die uithouvermoë toets te trotseer nie. Diegene wat dit nie kan doen nie behaal net nie die paal nie...

Diegene wat dit wel kan doen word mildelik beloon vir hul uithouvermoë. Hulle ontvang, as hul vergoeding, watter doel ookal hulle nastreef.



.

Friday, February 28, 2014

Jou nalatenskap


Die herinneringe aan my Pa wat my artikel 'Dankbaarheidslied' meegebring het, het my laat besef dat, al waarby mense jou sal onthou, is jou nalatenskap wat jy agter laat. Jou aksies, die dinge wat jy gedoen en gesê het, die reëls waarvolgens jy geleef het. Almal het hul swakhede en dis die erkenning van daardie swakhede en hoe jy dit hanteer wat op die ou end jou karakter bepaal.

 So vra jouself:

  • Het jy die respek van jou gelykes en die admirasie van jou kritikusse verdien?
  • Was jy beskeie in die aansig van sukses en grasievol in die gesig van neerslag?
  • Het jy jou kinderlike verwondering behou en jou verlustig in die skoonheid van die lewe en die klein wonderwerke van elke dag?
  • Sal jy onthou word vir hoeveel jy gelag het en glimlagte na die harte van andere gebring het?
  • Was kinders en ou mense bly om saam met jou te wees?
  • Het andere jou vertrou met hul innerlike geheime?
  • Het jy vergewe en om verskoning gevra?
  • Het jy die beste in ander raak gesien en hulle opgebou?
  • Het jy 'n honger kind gevoer of 'n naakte man geklee of hulp verleen aan 'n vreemdeling in 'n verknorsing?
  • Hoe het jy Moeder Aarde behandel - sal die wêreld 'n beter plek wees deur hoe jy jou lewe gely het?
Watse legaat gaan jy nalaat?

.

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...