.

Haai, my naam is Maree!

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Saturday, February 20, 2021

Jy is Altyd Op Pad Na Êrens


Jy is altyd op pad êrens heen. Die sleutel is: vind 'n manier om gelukkig te wees waar ookal jy NOU is op pad na waarheen jy wil wees. Dit maak nie saak waar jy is nie; waar jy is verander aanhoudend—maar jy moet jou aandag vestig op waar jy wil wees.

En dis die verkil tussen die beste maak van iets of die slegste maak daarvan.


Thursday, January 7, 2021

Word 'n dromer!


"Almal wat jou ken
dink jy is maar net ‘n dromer
maar jy glo dat drome waar kan word,
dat dit is soos ‘n boodskap in ‘n bottel
wat jy uitstuur oor ‘n wye oseaan
en dat daar tog iemand sal wees
wat in jou sal glo.


Jou drome is soos ‘n versameling van wense in ‘n wens fontein met beloftes wat jy alleen waar kan maak.

Jy skiet jou drome af soos projektiele vêr in die toekoms in, in ‘n ander atmosfeervêr van skeptiese mense 
in ‘n plek waar dit kan saadskiet vir môre en opkom om te blom in ‘n lente van hoop.

Jou drome is soos sterre wat jy in jou eie oog kan waarneem en tog in jou hart weet jy dat dit net jy alleen is  wat jou drome kan bewaarheid.

Jy is my dromer 
en in jou vervul ek ook my drome
want drome kan die see vol maak
en dit het geen perke
as jy daaraan vashou nie
maar die waarheid bly
dat ‘n dromer in sy droom verlore kan raak."

So, bevry HOOP van vrees en word 'n dromer.


Thursday, October 1, 2020

Jou eie self-help lysie


Oktober (binne 'n paar dae!) is miskien die mooiste, mooiste maand, maar terwyl die lente sy kleure en geure in 'n weerbarstige streep oor die landskap trek, klim die herinnering aan verspoelde dae onder jou gewete in. Die jaar is amper verby en wat het jy nou eintlik gedoen? Bôggeroll! Die boek wat jy wou skryf, die marathon wat jy wou hardloop, die slegte gewoontes wat jy sou afleer – daar het niks van gekom nie. In stede is jy luier, dikker en dommer as 'n jaar gelede.

Maar daar is hulp!

 
Maak Meer tyd ... vir jou!
Het jy al ooit na jou horlosie gekyk en besef dis 15:05 en jy het nog níks van die dinge op jou dag se lysie gedoen nie? Hier is ’n paar eenvoudige stappe om dinge reg te ruk as jou lewe soos ’n mallemeule voel.

Doen niks!
As jy graag uitstel, probeer om niks te doen vir 15 minute nie, stel Ronni Eisenberg (Organise Yourself!) voor. Jy sal so gefrustreerd raak wanneer jy doodstil sit dat jy nie sal kan wag vir die 15 minute om verby te gaan voor jy mag begin nie!

Hou die klok dop
Weet jy hoe lank sekere take neem? Hou jouself vir n paar dae dop. Jy sal verbaas wees hoe min tyd dit vereis om klein werkies te doen, soos om ’n telefoonoproep te maak. Takies, wanneer dit uitgestel word, bou op tot ’n onmoontlike berg, so pas die ‘Doen-dit-nou’ reël toe op enige taak wat minder as 10 minute neem om te voltooi.

Gebruik geheue truuks
Vermy histeriese laaste-minuut soeke na sleutels, skoene of belangrike dokumente deur hierdie items altyd op dieselfde plek te bêre. Sodoende hoef jy nooit te skarrel nie!

Gryp jou kanse aan
Goeie tydsbeplanning gaan oor optimisties wees. Nie alle ooptye is vrye tyd nie, sê Eisenberg. As jou planne verander (byvoorbeeld as iemand ’n afspraak kanselleer), moenie lyf wegsteek nie. Gryp die kans aan om jou ‘om-te-doen’ lysie af te handel!



Friday, March 6, 2020

Neem 'n besluit



Goeie dag vanaf Oorvloed!

Vandag wil ek praat oor 'n paar besluite wat ons moet neem om ons lewe op dreef te kry - dis so maklik om die klein dingetjies wat pla sommer maar net so te los vir môre of 'een of ander tyd', en my pa het altyd gesê  "moenie afstel vir môre wat jy vandag kan doen nie".

Neem 'n besluit om ...

... NOOIT OP TE GEE NIE
Elke dag moet jy n keuse maak: gaan ek n oorwinnaar of n slagoffer wees? Om probleme te bowe te kom begin dus by ’n keuse! Ek moet die besluit neem dat ek wíl wen en gaan volhard om my doel te bereik – ongeag wat my omstandighede mag wees.

... ALLEEN DIE MAS OP TE KOM
Bevind jy jouself in n situasie waar jy alleen voel en nie weet hoe om die eise te hanteer nie? Jy moet verstaan dat niemand jou gaan red nie, en dat jy self beheer sal moet neem. Probeer om jou emosies te verstaan. Is dit eensaamheid, ’n strewe na perfektheid of dalk skuldgevoelens wat jou onderkry? Of is dit ’n konkrete probleem soos onvoldoende finansies, te min tyd of geen ondersteuning nie?

Sodra jy bepaal het wat die probleem is, moet jy jouself afvra hoe jy beheer hieroor kan neem. Probeer wyer kyk as net die voor-die-hand-liggende. Soms, as ons objektief na ’n situasie kyk, vind ons dat die oplossing reg voor ons oë is. Beplan stap-vir-stap hoe jy by ’n beter plek gaan uitkom en moenie moed opgee tot jy dit regkry nie.

Moet ook nie vergeet dat jy nooit alleen is nie selfs in jou moeilikste tye is daar Iemand met oop arms, gereed om jou te vertroos en te dra.

... KRITIEK BETER TE HANTEER
Meeste van ons is skuldig daaraan dat ons ander mense se kritiek kop toe vat. Dit kan so erg raak dat jy al die positiewe uitsif en nét die negatiewe agterhou en daarop fokus. Dit word die maatstaf waarteen eiewaarde gemeet word.

Al is kritiek nooit lekker nie, is daar dinge wat jy kan doen om dit beter te hanteer:

•    Neem n wilsbesluit om nie onmiddelik op die kritiek te reageer nie. Tree terug sodat jy nugterder na die kritiek kan kyk.

•    Kritiek moet op gedrag, nie op n persoon nie, gemik wees. As iemand persoonlik raak, versoek ’n fokus op die gedrag wat onaanvaarbaar is.

•    Onthou dat ervaringe uit jou verlede n rol kan speel in hoe jy kritiek hanteer (byvoorbeeld die invloed van ’n baie kritiese ouer).

•    Skryf die kritiek neer en slaap eers daaroor.

•    Maak seker of die kritiek waar is en neem verantwoordelikheid vir dit waaroor jy beheer het. Vra iemand wat jou goed ken, se mening.

•    Sien dit as n geleentheid om te leer van jou eie “blindekolle” en kwesbaarhede en te groei in jou menswees.

... DAAI SLEGTE GEWOONTES AF TE SKUD
Elkeen van ons het een of ander slegte gewoonte – te veel eet, rook, wat ook al – wat ons wil afskud. Onthou net, gewoontes vorm gewoonlik geleidelik, daarom sal dit tyd neem (drie tot ses weke) om te verander, maar dit is moontlik deur hierdie stappe te volg: Maak ’n keuse om dit te wíl doen. 

* Verander jou “binnepraat”, want solank jy dieselfde goed vir jouself sê, sal jy outomaties dieselfde goed doen. 
* Visualiseer hoe jy dit regkry om die nuwe gedrag uit te leef. Hoe duideliker jy dit kan visualiseer, hoe groter is die kans dat jy sal volhou. 
* Gee vir jouself erkenning elke keer wat jy suksesvol die ou gewoonte oorkom. 
* Dit help baie indien iemand anders weet wat jy probeer bereik en as ’n ondersteuningstelsel kan optree. 
* Sit ’n prentjie, aanhaling of grafiek êrens op waar jy dit elke dag kan sien om jou te herinner aan dit wat jy wil bereik. Dit moet die positiewe nuwe gedrag of gewoonte voorstel.

Onthou, jy kan die ou gewoonte verander as jy dink jy kan!

... N KLA-KOUS OP SY OF HAAR PLEK TE SIT
Die beste manier om van n kla-kous ontslae te raak, is om te begin kla voordat sy die kans kry. Kan jy jou haar skok indink as jy wegtrek met: “Ja jong, die land is besig om in die afgrond te versink. Een van die dae gaan ons soos Zimbabwe opeindig. Die petrolpryse is verskriklik, die voedselpryse is angswekkend ... Ons gaan dit nie maak nie, veral nie met al die klakouse rondom ons nie”.

Ek is seker die persoon sal vir ’n oomblik heeltemal vergeet wat rondom haar aangaan. Jou laaste stelling behoort haar skok in saamstem te verander, en dit behoort haar tot nadenke te bring.

Die waarheid is dat almal maar n geneigdheid het om so nou en dan te kla. Dis geoorloof as jy die volgende reël toepas: Jy mag net drie keer oor dieselfde ding kla. Doen dan iets om die situasie te verander, of besef dat jy niks daaraan kan doen nie en kom oor dit (met ander woorde, hou op kla daaroor!) Wat help dit in elk geval?

... JOU DROOM TE BEWAARHEID
Moenie dat jou drome wensdenkery bly nie ontwikkel ’n duidelike prentjie daarvan. As jy nie weet wat jou droom is nie, sal jy mos nooit daarby uitkom nie. Skryf jou droom neer en sien in jou gedagtes hoe dit stapsgewys ’n realiteit word.

Gaan oor tot aksie, anders sal jou droom doodgebore wees. Iemand het eenmaal gesê die beste manier om jou drome waar te maak is om wakker te word! Min mense het die moed of wil om daardie warm plekkie te verlaat en moue op te rol om te begin werk. Dit gaan beplanning (’n vaste doelwit het ’n spertyd), innerlike motivering en toewyding kos. Maar hou jou oog op die einddoel.

Jy moet uit die staanspoor weet dat daar terugslae gaan wees op pad na die vervulling van jou droom. Glo in jouself en weet dat jy tot alles in staat is deur Christus wat jou krag gee.

... VREDE TE MAAK MET DIE OUDERDOM
Dit voel soos gister toe jy 20 was! Maar die liggaam wat protesteer as jy trappe klim, die wilde grys haar wat uit die niet verskyn en die fyn lagplooitjies om jou oë verklap dat jy definitief nie meer 20 is nie.

Vrede met jou ouderdom begin by die vrede wat jy ervaar oor die lewe wat jy tot dusver gelei het en die hoop en drome wat jy vir die toekoms het; die vermoë om in die “nou” te leef en elke oomblik te koester. Jou verantwoordelikheid is om die beste “jy” te wees gegewe dit wat jy ontvang het. Deur na jou liggaam te kyk en reg te eet, genoeg te slaap, te oefen en te ontspan en dikwels met oorgawe te lag, kan jy van binne straal – en dít oorskadu gewoonlik meeste tekens van die ouderdom.

... TE SÊ HOE JY VOEL SONDER OM SEER TE MAAK
Vra jouself hoekom jy seergemaak voel. Dalk het dit nie te doen met dit wat die ander persoon gesê of gedoen het nie, maar met ’n seer uit die verlede waarmee jy nie gedeel het nie.

Solank jy bly by hoe jý voel sonder om die ander persoon te beskuldig, is jy op die regte pad. Vermy uitdrukkings soos “Jy het my gevoelens seergemaak” of  “Jy het my beledig toe jy gesê het ...” Sê eerder: “ Ek het seergemaak gevoel toe jy ...” of “Ek het beledig gevoel toe jy ....” Dit neem onmiddellik die fokus weg van die ander persoon en plaas jou gevoelens op die tafel.

Onthou, ander maak ons nie seer nie; ons kíés om seergemaak te voel.

Soms sê en doen mense dinge uit onkunde. Vind eers kalm uit wat die persoon se bedoeling was, haal diep asem en verduidelik dan presies hoe jy oor dinge voel.
 
... NIE OOR ALLES TE STRES NIE
Vir baie vroue het kommer ’n leefwyse geword. Selfs klein dingetjies veroorsaak dat hulle angstig en gespanne raak. Hulle vra heeltyd die vraag: “Wat as ...”

Die realiteit is dat daar dinge in die lewe is waaroor ons geen beheer het nie. Dit maak nie ’n verskil hoeveel jy daaroor stres nie – dit gaan in elk geval gebeur! Deur chronies bekommerd te wees oor jou man en kinders beperk jy uiteindelik jou eie vermoë om jou emosies te hanteer.

Die hartseer is dat ons onsself moeg maak deur bekommerd te wees oor dinge wat meestal nooit gebeur nie. Ons mors al ons emosionele energie daarop.

Sit terug, haal diep asem, aanvaar die feit dat dinge soms verkeerd loop, hanteer dit soos dit kom en probeer om nie al jou tyd en energie te vermors op bekommernisse waaraan jy in elk geval niks kan doen nie.

... DIE TRAUMA VAN GEWELD TE HANTEER EN TE OORKOM
Jou eerste gewaarwording is verlies. Iemand het jou persoonlike spasie binnegedring, jou lewe bedreig en jou besittings geneem. Die skok het ook ’n groot impak op die chemiese balans in jou brein en kan die funksionering daarvan nadelig beïnvloed.

Dit is belangrik om nie in n negatiewe spiraal vasgevang te word nie. Probeer om nie die groter prentjie mis te kyk nie. Kies om doelbewus te soek na positiewe dinge. Waak daarteen om nie jouself te isoleer nie. Omring jou met mense wat realisties positief is en daar is vir jou. Gee jouself kans om deur die trauma te werk. Moet dit nie onderdruk en aangaan asof niks gebeur het nie, anders gaan jy later, met baie meer moeite, jou emosies moet hanteer.

Dit kan ook help om met n professionele persoon te praat of joernaal te hou van jou emosies.

Kom ons neem daardie besluite VANDAG en mag ons reistog genotvol wees!

Groete,

MAREE

Friday, January 3, 2020

Laat gaan


Die begin van die jaar is altyd tyd vir 'spring cleaning' (alhoewel baie van ons dit al verlede September gedoen het!) - nie net die motorhuis of stoorkamer nie, maar ook ons innerlike stoorkamer waar ons alles opstoor van onvergifnis, haat en woede tot leed en negatiewe oortuigings. Ons moet leer om te laat gaan en ontslae te raak van al die dinge wat ons terughou van die mildelike OORVLOED in die Heelal. 

Laat Gaan

Laat gaan is nie om op te hou omgee nie—dit bedoel net ek kan dit nie doen vir iemand anders nie
Laat gaan is nie om jouself af te sny nie—dit is die realisasie dat ek nie andere kan beheer nie
Laat gaan is nie om nie te doen nie—maar om te leer van natuurlike gevolge
Laat gaan is nie om op te gee nie—dit bedoel die uitkoms is in my hande
Laat gaan is nie om 'n ander te blameer nie—dit is om die meeste van myself te maak
Laat gaan is nie om reg te maak nie—dit is om te ondersteun
Laat gaan is nie om te veroordeel nie—maar om mense toe te laat om te wees wie hulle wil
Laat gaan is nie om in die middel te wees en die uitkoms te beheer nie—maar om andere toe te laat om in beheer te wees van hulle eie noodlot
Laat gaan is nie om te beskerm nie—dit is om iemand anders toe te laat om realiteit te aanvaar
Laat gaan is nie om te ontken nie—maar om te aanvaar
Laat gaan is nie om te 'nag' en te argumenteer nie—dit is om my eie tekortkominge te ondersoek en reg te maak
Laat gaan is nie om te kritiseer en almal te beheer nie—maar om dít te word waaroor ek droom
Laat gaan is nie om berouvol oor die verlede te wees nie—maar om te groei en te lewe vir die toekoms

Laat gaan is om minder te vrees en meer te lewe!

Jy is waar jy is vandag oor wat jy aanhoudend doen. Meeste mense klassifiseer nie die "klein dingetjies" as slegte gewoontes nie - soos om elke oggend 'n bietjie laat by die werk op te daag, of om al jou klere te laat rondlê vir iemand anders om te tel, of om altyd te kla en argumenteer oor alles - maar dit sê beslis iets omtrent jouself.


Werk daaraan om hierdie klein 'gewoontes' te verander wat jou terughou - maak alles waarmee jy besig is vandag klaar, moenie dit los vir iemand anders om te doen nie.

Maak 'n lys van dit wat jy weet jy gereeld doen wat jy nie moet nie - en begin hierdie gewoontes te verander in goeie gewoontes.

Niemand kan keer waarheen jy jou gedagtes lei nie. Daar is geen einde aan die vreugdevolle reise wat jy kan ondervind nie. Op die paadjie na jou geluk sal jy alles wat jy wil doen, wees of verlang, ontvang.

(Deur ander hul eie reistog toe te laat, laat jy joune toe!)

.

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...