.

Haai, my naam is Maree!

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Tuesday, June 7, 2022

Laat jou slaapkamer weer stoom



In een van die boeke wat ek onlangs gelees het, A-Z van Seks, sê Elmari Craig seksuoloog, huweliksberader en skrywer van die boek,

"... seks aan ons gegee om binne die veilige ruimte wat die huwelik skep, te geniet. ʼn Gesonde seksuele verhouding is die diepste vorm van kommunikasie tussen twee mense wat mekaar intens liefhet en trou aan mekaar belowe het. Dit skep geborgenheid, intimiteit en nabyheid. Dit is die sement wat jou huwelik beskerm. ʼn Gesonde seksuele verhouding is as’t ware geestelike oorlogvoering vir jou huwelik. Ek glo dat God juis vir ons die seksuele kant van menswees gegee het – nie net vir prokreasie nie, maar ook vir rekreasie, vir die lekker! – om ons liefde vir mekaar te vier en te versterk.”  

Hoewel baie getroude vroue seks binne die huwelik geniet, is daar tog baie skuldgevoelens en wanopvattings wanneer getroude seks ter sprake is. Ons is as seksuele wesens geskape,” verduidelik Elmari. “Ons word so gebore en bly seksuele wesens tot die dag dat ons sterf. Seks is deel van die lewe. Ons word baie onskuldig gebore en mettertyd leer ons om ons seksuele gevoelens te onderdruk – soveel so dat dit selfs moeilik word om oor seks te praat. Baie mans en vroue het min, geen of ʼn negatiewe seksuele opvoeding gekry. Ons word geïnhibeerd en seksualiteit word ʼn baie private aangeleentheid, veral met ons Afrikaanse, Calvinistiese agtergrond. Vir meer as 2000 jaar word persepsies oor seksualiteit ook deur godsdiens gevorm, soos byvoorbeeld dat seks sonde is, dat dit nie iets is om te geniet nie en dat dit ʼn plig eerder as ʼn plesier moet wees.”  

Elmari ontbloot die drie grootste seksmites wat getroudes steeds glo: “Baie paartjies glo seks is vervelig, dat vrouens nie van seks hou nie – veral nie om te eksperimenteer nie – en dat seks op ʼn sekere ouderdom nie meer belangrik of reg is nie. ʼn Vrou kan selfs ná jare se getroude lewe haar man in die slaapkamer verower as sy met hom WIL seks hê en dit saam met hom GENIET. Wees oop vir nuwe dinge, probeer af en toe iets nuuts – al is dit dieselfde ding op ʼn ander manier – en onthou om te lag. Humor in die slaapkamer is kosbaar en essensieel.”


JOU SEKSUELE SIKLUS
Die goue reël vir die slaapkamer is dat enigiets binne die seksuele verhouding goed en reg is mits albei daartoe instem, gemaklik daarmee is en dit niemand emosioneel of fisiek skade berokken nie,” sê Elmari. Hier is wat jy in die verskillende fases van jou lewe te wagte kan wees:

•    Seks in jou 20s ...

HOE DIT IS: “Jy en jou maat is in die ontdekkingsfase. Seksualiteit is ʼn proses om jou liggaam en behoeftes, sowel as die van jou maat, te leer ken.”

WAT IS NORMAAL: “Mans piek seksueel in hulle vroeë twintigs, maar vroue eers in hulle vroeë dertigs. In hierdie lewensfase waar alles nog opwindend is, het julle dalk meer gereeld seks as in die later jare.”

ALGEMENE PROBLEME: “ʼn Gebrek aan seksuele begeerte is algemeen by vroue aangesien hulle hul seksdrang lank onderdruk het en dit ná die troue weer moet optower. Paartjies kan ook  ʼn verskil in seksdrang ervaar terwyl sommige mans voortydige ejakulasie ondervind. Vaginismes, waar die kringspiere van die vagina só saamtrek dat penetrasie onmoontlik is, word gewoonlik ook in hierdie fase gediagnoseer. Spreek ʼn seksuoloog aangesien al hierdie probleme oplossings het.”

GROOTSTE UITDAGING:  “Omdat seks ʼn nuwe ervaring vir albei van julle is, is die grootste uitdaging om met mekaar te praat en gemaklik te raak met jou eie en jou maat se seksualiteit. Aanvaar seks as ’n Godgegewe gawe.”

DIE PLUSPUNT: “Julle is jonk en jeukerig en het krag vir allerhande nuwe dinge. Maak die beste van hierdie lewensfase waartydens julle net op mekaar ingestel hoef te wees.”


•    Seks in jou 30s ...

HOE DIT IS: Gewoonlik het dié lewensfase baie uitdagings soos loopbaaneise, swangerskap en pienkvoete. Slapelose nagte en borsvoeding is dikwels nie bevorderlik vir erotiese gedagtes nie. Dit is egter ook in hierdie fase waar die vrou gewoonlik haar seksuele piek bereik en sy uiteindelik met haarself en haar behoeftes kan vrede maak.”

WAT IS NORMAAL: “ʼn Fokus op die kwaliteit van die seksuele aktiwiteit eerder as die kwantiteit van seks is hier baie belangrik. In hierdie fase is die fokuspunt wedersydse behoeftebevrediging.”

ALGEMENE PROBLEME: “Soms kan ʼn gebrek aan seksuele begeerte in hierdie fase ontwikkel weens die eise van die lewe, ʼn gebrek aan emosionele intimiteit in die huwelik of onopgeloste konflik of gevoelens wat oor tyd opgebou het. Al hoe meer mans in hulle dertigerjare begin ook erektiele disfunksie ervaar weens hulle besige lewenstyle of erge spanning.”

GROOTSTE UITDAGING: “Stres en tydsbestuur vir emosionele en fisieke intimiteit is in hierdie fase die groot sondebok. Bly fokus op jou huwelik en jou huweliksmaat as eerste prioriteit, dan julle kinders en dan jou werk.”

DIE PLUSPUNT: “Jy het die insig om met jouself vrede te maak. Jy en jou maat ken julle seksuele behoeftes en kan nou openlik daaroor kommunikeer. Geniet dit!”

•    Seks in jou 40’s ...

HOE DIT IS: “Jy en jou maat kan nou net julleself wees. Jy het die wysheid om te weet dat niks perfek is nie. Jy kan gemaklik wees en van al jou inhibisies ontslae raak. Jou seksualiteit kan blom aangesien julle waarskynlik nou meer tyd het en die kinders meer onafhanklik is.”


WAT IS NORMAAL: “Jou estrogeenvlak mag begin daal en jy kan peri-menopousale simptome soos warm gloede, ongereelde maandstondes of vaginale droogheid begin ervaar. Hou dus altyd ʼn smeermiddel byderhand. Jou man het waarskynlik langer en meer direkte stimulasie van sy penis nodig en het ook ʼn langer refraktoriese fase (die tyd wat dit neem om weer ʼn ereksie te kry).”

ALGEMENE PROBLEME: “Vaginale droogheid is in hierdie fase ʼn algemene probleem en mans kan ook met erektiele disfunksie begin sukkel.”

GROOTSTE UITDAGING: “Dis baie belangrik om met jou veranderende lyf vrede te maak en mekaar op ʼn nuwe vlak seksueel te ontdek. Al speel julle reeds jare lank die spel van die liefde, moet julle probeer om dit opwindend, vars en nuut te hou.”

DIE PLUSPUNT: “Julle ken julle eie en mekaar se liggame en behoort nou gemaklik oor die seksuele te kan kommunikeer. Geniet die voordeel van tyd!” - Elmari Craig

(Ek wonder nou eintlik net wat het geword van seks in die 60's...)

TIEN KENMERKE VAN ’N SEKSGODIN

’n Seksgodin …

1.    is altyd smeulend en sexy, al pas sy nie in ʼn nommer 32 nie! Sy het selfvertroue, is gemaklik met haar eie liggaam en vrygewig met haar seksualiteit.

2.    is die cheerleader wat haar man soos ’n kampioen-minnaar laat voel.

3.    weet hoe om vir wonderlike seks te beplan en daarvoor tyd te maak.

4.    laat haar man weet hoe baie sy hom en sy lyf geniet.

5.    weet hoe om haarself, die kamer en die oomblik soos ʼn persent ‘toe te draai’.

6.    maak die slaapkamer ʼn sensuele koninkryk – dit is nie die plek vir vuil wasgoed en   kinderspeelgoed nie!

7.    is bereid om nuwe dinge te probeer en soms te eksperimenteer. Sy is altyd opwindend, vol verrassings en bereid om van haar inhibisies te vergeet.

8.    weet hoe om haar man seksueel te bevredig. Sy sorg dat sy die regte inligting kry om haar seksuele vaardighede te verbeter en luister na haar man se behoeftes.

9.    gee soms net aan haar sensuele behoeftes oor en oorrompel haar man op ʼn tyd en plek waar hy dit die minste verwag.

10.weet hoe om die beste te maak van die feit dat mans visueel ingestel is. Sy doen moeite met higiëne, sensuele onderklere en klere en is soms onvoorspelbaar – ook in hoe sy lyk en aantrek.


WENKE VIR VA-VA-WOEMA!

·       Bedien allerhande verleidelike eetgoed in die slaapkamer en voer dit vir jou minnaar - ʼn sjokoladefontein of vrugte werk baie goed.

·       Loop ʼn bietjie braloos met net ʼn dun T-hempie aan rond wanneer julle weer alleen by die huis is.  

·       Hou ʼn modeparade vir jou man en modelleer ʼn paar nuwe sexy items vir hom (al is die kanse goed dat jy dit net vir ʼn klein rukkie gaan aanhê!).

·       Verander julle bad in ʼn luukse spa met allerhande bederfgoed soos olies, smeermiddels en kerse. Wees ook kreatief met die ‘dienste’ wat by die spa jy aan jou man lewer.

·       Gee ʼn gewone romantiese afspraak nuwe oemf deur ʼn spesiale tema daaraan te koppel. Hou ʼn Franse aand en bedien net Franse cuisine. Vir poeding oefen julle dan French kissing.

·       Gebruik die ontmoet-my-tegniek. Los ʼn boodskap op jou man se foon of nooi hom per e-pos om jou iewers te ontmoet. Los vir hom verleidelike instruksies soos: “Ontmoet my om 18:00 by die Sheraton-hotel se ingangsportaal. Onthou jou tandeborsel.”

·       Gebruik jou rooiste lipstiffie om vir hom ʼn boodskap op die spieël te skryf, byvoorbeeld: “Môre mnr. Sexy! Kom ons gaan laai die kinders vanaand vroeg by jou ouers af … ek het ʼn opwindende plan vir die aand. xxx”

·       Gee hom die oggend ʼn energiestafie saam werk toe. Sit ʼn nota daarby om hom in te lig dat hy die energie vir vanaand gaan nodig kry.  

·       Sê vir jou man jy het iewers parfuum aan jou gespuit en dat hy jou moet help om dit op te spoor.  

·       Begroot om elke maand ʼn sekere bedrag op julle sekslewe te spandeer. Koop items soos luukse lakens, lingerie of gebruik dit vir ʼn aandjie of naweke saam weg. 

Ek wens almal 'n vreugdevolle en seksie naweek toe!
  
Groete,

MAREE

.

Friday, May 20, 2022

My Vier Riglyne vir Welvaart in Jou lewe


Ek het vier riglyne wat ek glo 'n lewe vol oorvloed verseker... vir my werk dit perfek en verseker dat ek nooit iemand onnodiglik seermaak of verkeerd opneem nie... 

Wees onberispelik met jou woord. 
Moenie dinge persoonlik opneem nie. 
Moenie veronderstellings maak nie. 
Doen altyd jou beste. 

::

Uiteensetting :

1. Wees onberispelik met jou woord
Om onberispelik met jou woord te wees, is om te sê wat jy meen en te meen wat jy sê. Die manier waarby mense jou waarneem is deur jou gesproke woord asook jou aksies. As jy 'n belofte maak, kom dit so ver moontlik na. As iemand jou vir iets vra of jou vra om iets te doen, dink versigtig daaroor na, want om ja te sê wanneer jy nie seker is nie of dit nie bedoel nie, is seer sekerlik 'n smet op jou integriteit.

2. Moenie dinge persoonlik opneem nie
Wanneer iemand iets sê of doen wat jou omkrap, moenie onmiddellik aanneem dat dit teen jou gemik is nie - nie alles gaan oor jou nie en min mense gee genoeg om om jou spesifiek die teiken te maak, en dié wat dit wel met kwaadwilligheid doen, is nie die moeite werd om ontsteld oor te raak nie.

3. Moenie veronderstellings maak nie
Wanneer iemand iets sê of doen en jy maak 'n veronderstelling dat hulle 'dit of dat' bedoel het, loop jy die gevaar om vir jou 'n hele rits ongeluk op die hals te haal. Byvoorbeeld, as iemand iets belowe het en dit dan nie te na kom nie, en jy 'veronderstel' dat hulle dit nie gedoen het nie omdat hulle nie vir jou omgee nie, maar intussen lê hulle in die hospitaal met 'n gebreekte been, dan het jy jouself onnodige pyn veroorsaak deur 'n veronderstelling te maak sonder om die ware feite te ken.

4. Doen altyd jou beste
Of dit nou iets kleins of groots is, doen altyd jou beste in wat ookal jy aanpak. Nie alleenlik verhoog dit jou self-beeld nie, maar dit spreek ook van integriteit en wys ook aan ander mense dat jy altyd jou beste lewer en derhalwe ook die beste van almal verwag. Hoe mense jou behandel is direk verwant aan hoe jy jouself behandel.

Wees bewus van jou gedagtes; dit lei na houdings. 
Wees bewus van jou houdings; dit lei na woorde. 
Wees bewus van jou woorde; dit lei na aksies. 
Wees bewus van jou aksies; dit lei na gewoontes. 
Wees bewus van jou gewoontes; dit vorm jou karakter. 
Wees bewus van jou karakter; dit bepaal jou noodlot.

::

Wens jou 'n naweek gevul met sonskyn!

::



Die manifestasie van Vreugde

(Foto vanaf Pinterest) 

Wy jouself daaraan om vreugde te manifesteer in alles wat jy doen. 

Geluk het nie net een definisie nie. Dit is verskillend vir elke individu. En geluk is nie net te vinde in die groot dinge van die lewe nie. 

Dit draai nie net om die nuwe motor of die miljoen-rand woning nie. Geluk kan gevind word in 'n oulike grappie wat jou laat lag elke keer as jy daaraan dink. Dit kan gevind word in jou gunsteling rolprent wat jy elke Sondag kyk. Dit verbaas jou in die stem van 'n kind wanneer hy of sy jou vertel van hul dag. Geluk is binne jou en al om jou. Jy hoef nie te ver te soek om dit te vind nie.

Lig deurdring altyd donkerte. 

::
 

Friday, May 6, 2022

'n Voorspoedige en Voldane lewe


Om volkome te lewe is om elke oomblik bewustelik te lewe. Dit is om self-gemaakte lyding te verruil vir vrede deur aanvaarding en om toe te laat dat liefde angs vervang deur stilte en vrede.

Die lewe word nie bepaal deur wat met ons gebeur nie; dit word bepaal deur hoe ons hierdie ondervindings gebruik om hierdie 'n beter wêreld te maak. Ons bestemming word nie bepaal deur die paadjies wat ons ge-erf het nie, maar deur die paadjies wat ons self uittrap.

Binne elke storm van die lewe is 'n sleutel wat nog 'n deur sal oopsluit waardeur jy moet loop.

Om rustig te lewe bedoel nie dat ons wegskram van probleme of die verpligting om hulle op te los nie. Net die teenoorgestelde -- ons vind die helderheid en teenwoordigheid van gees om die daaglikse dinge meer konstruktief en positief te hanteer.

As jy 'n begeerte het wat jy nie kan versaak nie, dan het jy die eerste bestanddeel vir prestasie: 'n droom. Jou droom is al wat jy nodig het om te begin; dit is die bloudruk vir die toekoms.

Voorspoedige mense is in lyn met die lewe op 'n manier wat oorvloed aantrek. Hulle is in lyn met visie en begeerte, en hulle gooi nie tou op nie. Om aan te hou is om in die rigting van harmonie met die lewe te beweeg.

Ons kan kies om in die verlede te bly of ons kan die lewe deur die oë van 'n kind sien -- met nuutheid, vreugde en die opwinding van avontuur. As ons fokus op wat ons dink is 'n toekomstige eindlyn, dan mis ons iets spesiaals: vandag se klein oorwinnings.

Om hierdie oomblikke van vreugde te ontdek is een van die lewe se mees belonende avonture!

.

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...