.

Haai, my naam is Maree!

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Thursday, October 1, 2020

Jou eie self-help lysie


Oktober (binne 'n paar dae!) is miskien die mooiste, mooiste maand, maar terwyl die lente sy kleure en geure in 'n weerbarstige streep oor die landskap trek, klim die herinnering aan verspoelde dae onder jou gewete in. Die jaar is amper verby en wat het jy nou eintlik gedoen? Bôggeroll! Die boek wat jy wou skryf, die marathon wat jy wou hardloop, die slegte gewoontes wat jy sou afleer – daar het niks van gekom nie. In stede is jy luier, dikker en dommer as 'n jaar gelede.

Maar daar is hulp!

 
Maak Meer tyd ... vir jou!
Het jy al ooit na jou horlosie gekyk en besef dis 15:05 en jy het nog níks van die dinge op jou dag se lysie gedoen nie? Hier is ’n paar eenvoudige stappe om dinge reg te ruk as jou lewe soos ’n mallemeule voel.

Doen niks!
As jy graag uitstel, probeer om niks te doen vir 15 minute nie, stel Ronni Eisenberg (Organise Yourself!) voor. Jy sal so gefrustreerd raak wanneer jy doodstil sit dat jy nie sal kan wag vir die 15 minute om verby te gaan voor jy mag begin nie!

Hou die klok dop
Weet jy hoe lank sekere take neem? Hou jouself vir n paar dae dop. Jy sal verbaas wees hoe min tyd dit vereis om klein werkies te doen, soos om ’n telefoonoproep te maak. Takies, wanneer dit uitgestel word, bou op tot ’n onmoontlike berg, so pas die ‘Doen-dit-nou’ reël toe op enige taak wat minder as 10 minute neem om te voltooi.

Gebruik geheue truuks
Vermy histeriese laaste-minuut soeke na sleutels, skoene of belangrike dokumente deur hierdie items altyd op dieselfde plek te bêre. Sodoende hoef jy nooit te skarrel nie!

Gryp jou kanse aan
Goeie tydsbeplanning gaan oor optimisties wees. Nie alle ooptye is vrye tyd nie, sê Eisenberg. As jou planne verander (byvoorbeeld as iemand ’n afspraak kanselleer), moenie lyf wegsteek nie. Gryp die kans aan om jou ‘om-te-doen’ lysie af te handel!



Friday, March 6, 2020

Neem 'n besluit



Goeie dag vanaf Oorvloed!

Vandag wil ek praat oor 'n paar besluite wat ons moet neem om ons lewe op dreef te kry - dis so maklik om die klein dingetjies wat pla sommer maar net so te los vir môre of 'een of ander tyd', en my pa het altyd gesê  "moenie afstel vir môre wat jy vandag kan doen nie".

Neem 'n besluit om ...

... NOOIT OP TE GEE NIE
Elke dag moet jy n keuse maak: gaan ek n oorwinnaar of n slagoffer wees? Om probleme te bowe te kom begin dus by ’n keuse! Ek moet die besluit neem dat ek wíl wen en gaan volhard om my doel te bereik – ongeag wat my omstandighede mag wees.

... ALLEEN DIE MAS OP TE KOM
Bevind jy jouself in n situasie waar jy alleen voel en nie weet hoe om die eise te hanteer nie? Jy moet verstaan dat niemand jou gaan red nie, en dat jy self beheer sal moet neem. Probeer om jou emosies te verstaan. Is dit eensaamheid, ’n strewe na perfektheid of dalk skuldgevoelens wat jou onderkry? Of is dit ’n konkrete probleem soos onvoldoende finansies, te min tyd of geen ondersteuning nie?

Sodra jy bepaal het wat die probleem is, moet jy jouself afvra hoe jy beheer hieroor kan neem. Probeer wyer kyk as net die voor-die-hand-liggende. Soms, as ons objektief na ’n situasie kyk, vind ons dat die oplossing reg voor ons oë is. Beplan stap-vir-stap hoe jy by ’n beter plek gaan uitkom en moenie moed opgee tot jy dit regkry nie.

Moet ook nie vergeet dat jy nooit alleen is nie selfs in jou moeilikste tye is daar Iemand met oop arms, gereed om jou te vertroos en te dra.

... KRITIEK BETER TE HANTEER
Meeste van ons is skuldig daaraan dat ons ander mense se kritiek kop toe vat. Dit kan so erg raak dat jy al die positiewe uitsif en nét die negatiewe agterhou en daarop fokus. Dit word die maatstaf waarteen eiewaarde gemeet word.

Al is kritiek nooit lekker nie, is daar dinge wat jy kan doen om dit beter te hanteer:

•    Neem n wilsbesluit om nie onmiddelik op die kritiek te reageer nie. Tree terug sodat jy nugterder na die kritiek kan kyk.

•    Kritiek moet op gedrag, nie op n persoon nie, gemik wees. As iemand persoonlik raak, versoek ’n fokus op die gedrag wat onaanvaarbaar is.

•    Onthou dat ervaringe uit jou verlede n rol kan speel in hoe jy kritiek hanteer (byvoorbeeld die invloed van ’n baie kritiese ouer).

•    Skryf die kritiek neer en slaap eers daaroor.

•    Maak seker of die kritiek waar is en neem verantwoordelikheid vir dit waaroor jy beheer het. Vra iemand wat jou goed ken, se mening.

•    Sien dit as n geleentheid om te leer van jou eie “blindekolle” en kwesbaarhede en te groei in jou menswees.

... DAAI SLEGTE GEWOONTES AF TE SKUD
Elkeen van ons het een of ander slegte gewoonte – te veel eet, rook, wat ook al – wat ons wil afskud. Onthou net, gewoontes vorm gewoonlik geleidelik, daarom sal dit tyd neem (drie tot ses weke) om te verander, maar dit is moontlik deur hierdie stappe te volg: Maak ’n keuse om dit te wíl doen. 

* Verander jou “binnepraat”, want solank jy dieselfde goed vir jouself sê, sal jy outomaties dieselfde goed doen. 
* Visualiseer hoe jy dit regkry om die nuwe gedrag uit te leef. Hoe duideliker jy dit kan visualiseer, hoe groter is die kans dat jy sal volhou. 
* Gee vir jouself erkenning elke keer wat jy suksesvol die ou gewoonte oorkom. 
* Dit help baie indien iemand anders weet wat jy probeer bereik en as ’n ondersteuningstelsel kan optree. 
* Sit ’n prentjie, aanhaling of grafiek êrens op waar jy dit elke dag kan sien om jou te herinner aan dit wat jy wil bereik. Dit moet die positiewe nuwe gedrag of gewoonte voorstel.

Onthou, jy kan die ou gewoonte verander as jy dink jy kan!

... N KLA-KOUS OP SY OF HAAR PLEK TE SIT
Die beste manier om van n kla-kous ontslae te raak, is om te begin kla voordat sy die kans kry. Kan jy jou haar skok indink as jy wegtrek met: “Ja jong, die land is besig om in die afgrond te versink. Een van die dae gaan ons soos Zimbabwe opeindig. Die petrolpryse is verskriklik, die voedselpryse is angswekkend ... Ons gaan dit nie maak nie, veral nie met al die klakouse rondom ons nie”.

Ek is seker die persoon sal vir ’n oomblik heeltemal vergeet wat rondom haar aangaan. Jou laaste stelling behoort haar skok in saamstem te verander, en dit behoort haar tot nadenke te bring.

Die waarheid is dat almal maar n geneigdheid het om so nou en dan te kla. Dis geoorloof as jy die volgende reël toepas: Jy mag net drie keer oor dieselfde ding kla. Doen dan iets om die situasie te verander, of besef dat jy niks daaraan kan doen nie en kom oor dit (met ander woorde, hou op kla daaroor!) Wat help dit in elk geval?

... JOU DROOM TE BEWAARHEID
Moenie dat jou drome wensdenkery bly nie ontwikkel ’n duidelike prentjie daarvan. As jy nie weet wat jou droom is nie, sal jy mos nooit daarby uitkom nie. Skryf jou droom neer en sien in jou gedagtes hoe dit stapsgewys ’n realiteit word.

Gaan oor tot aksie, anders sal jou droom doodgebore wees. Iemand het eenmaal gesê die beste manier om jou drome waar te maak is om wakker te word! Min mense het die moed of wil om daardie warm plekkie te verlaat en moue op te rol om te begin werk. Dit gaan beplanning (’n vaste doelwit het ’n spertyd), innerlike motivering en toewyding kos. Maar hou jou oog op die einddoel.

Jy moet uit die staanspoor weet dat daar terugslae gaan wees op pad na die vervulling van jou droom. Glo in jouself en weet dat jy tot alles in staat is deur Christus wat jou krag gee.

... VREDE TE MAAK MET DIE OUDERDOM
Dit voel soos gister toe jy 20 was! Maar die liggaam wat protesteer as jy trappe klim, die wilde grys haar wat uit die niet verskyn en die fyn lagplooitjies om jou oë verklap dat jy definitief nie meer 20 is nie.

Vrede met jou ouderdom begin by die vrede wat jy ervaar oor die lewe wat jy tot dusver gelei het en die hoop en drome wat jy vir die toekoms het; die vermoë om in die “nou” te leef en elke oomblik te koester. Jou verantwoordelikheid is om die beste “jy” te wees gegewe dit wat jy ontvang het. Deur na jou liggaam te kyk en reg te eet, genoeg te slaap, te oefen en te ontspan en dikwels met oorgawe te lag, kan jy van binne straal – en dít oorskadu gewoonlik meeste tekens van die ouderdom.

... TE SÊ HOE JY VOEL SONDER OM SEER TE MAAK
Vra jouself hoekom jy seergemaak voel. Dalk het dit nie te doen met dit wat die ander persoon gesê of gedoen het nie, maar met ’n seer uit die verlede waarmee jy nie gedeel het nie.

Solank jy bly by hoe jý voel sonder om die ander persoon te beskuldig, is jy op die regte pad. Vermy uitdrukkings soos “Jy het my gevoelens seergemaak” of  “Jy het my beledig toe jy gesê het ...” Sê eerder: “ Ek het seergemaak gevoel toe jy ...” of “Ek het beledig gevoel toe jy ....” Dit neem onmiddellik die fokus weg van die ander persoon en plaas jou gevoelens op die tafel.

Onthou, ander maak ons nie seer nie; ons kíés om seergemaak te voel.

Soms sê en doen mense dinge uit onkunde. Vind eers kalm uit wat die persoon se bedoeling was, haal diep asem en verduidelik dan presies hoe jy oor dinge voel.
 
... NIE OOR ALLES TE STRES NIE
Vir baie vroue het kommer ’n leefwyse geword. Selfs klein dingetjies veroorsaak dat hulle angstig en gespanne raak. Hulle vra heeltyd die vraag: “Wat as ...”

Die realiteit is dat daar dinge in die lewe is waaroor ons geen beheer het nie. Dit maak nie ’n verskil hoeveel jy daaroor stres nie – dit gaan in elk geval gebeur! Deur chronies bekommerd te wees oor jou man en kinders beperk jy uiteindelik jou eie vermoë om jou emosies te hanteer.

Die hartseer is dat ons onsself moeg maak deur bekommerd te wees oor dinge wat meestal nooit gebeur nie. Ons mors al ons emosionele energie daarop.

Sit terug, haal diep asem, aanvaar die feit dat dinge soms verkeerd loop, hanteer dit soos dit kom en probeer om nie al jou tyd en energie te vermors op bekommernisse waaraan jy in elk geval niks kan doen nie.

... DIE TRAUMA VAN GEWELD TE HANTEER EN TE OORKOM
Jou eerste gewaarwording is verlies. Iemand het jou persoonlike spasie binnegedring, jou lewe bedreig en jou besittings geneem. Die skok het ook ’n groot impak op die chemiese balans in jou brein en kan die funksionering daarvan nadelig beïnvloed.

Dit is belangrik om nie in n negatiewe spiraal vasgevang te word nie. Probeer om nie die groter prentjie mis te kyk nie. Kies om doelbewus te soek na positiewe dinge. Waak daarteen om nie jouself te isoleer nie. Omring jou met mense wat realisties positief is en daar is vir jou. Gee jouself kans om deur die trauma te werk. Moet dit nie onderdruk en aangaan asof niks gebeur het nie, anders gaan jy later, met baie meer moeite, jou emosies moet hanteer.

Dit kan ook help om met n professionele persoon te praat of joernaal te hou van jou emosies.

Kom ons neem daardie besluite VANDAG en mag ons reistog genotvol wees!

Groete,

MAREE

Friday, January 3, 2020

Laat gaan


Die begin van die jaar is altyd tyd vir 'spring cleaning' (alhoewel baie van ons dit al verlede September gedoen het!) - nie net die motorhuis of stoorkamer nie, maar ook ons innerlike stoorkamer waar ons alles opstoor van onvergifnis, haat en woede tot leed en negatiewe oortuigings. Ons moet leer om te laat gaan en ontslae te raak van al die dinge wat ons terughou van die mildelike OORVLOED in die Heelal. 

Laat Gaan

Laat gaan is nie om op te hou omgee nie—dit bedoel net ek kan dit nie doen vir iemand anders nie
Laat gaan is nie om jouself af te sny nie—dit is die realisasie dat ek nie andere kan beheer nie
Laat gaan is nie om nie te doen nie—maar om te leer van natuurlike gevolge
Laat gaan is nie om op te gee nie—dit bedoel die uitkoms is in my hande
Laat gaan is nie om 'n ander te blameer nie—dit is om die meeste van myself te maak
Laat gaan is nie om reg te maak nie—dit is om te ondersteun
Laat gaan is nie om te veroordeel nie—maar om mense toe te laat om te wees wie hulle wil
Laat gaan is nie om in die middel te wees en die uitkoms te beheer nie—maar om andere toe te laat om in beheer te wees van hulle eie noodlot
Laat gaan is nie om te beskerm nie—dit is om iemand anders toe te laat om realiteit te aanvaar
Laat gaan is nie om te ontken nie—maar om te aanvaar
Laat gaan is nie om te 'nag' en te argumenteer nie—dit is om my eie tekortkominge te ondersoek en reg te maak
Laat gaan is nie om te kritiseer en almal te beheer nie—maar om dít te word waaroor ek droom
Laat gaan is nie om berouvol oor die verlede te wees nie—maar om te groei en te lewe vir die toekoms

Laat gaan is om minder te vrees en meer te lewe!

Jy is waar jy is vandag oor wat jy aanhoudend doen. Meeste mense klassifiseer nie die "klein dingetjies" as slegte gewoontes nie - soos om elke oggend 'n bietjie laat by die werk op te daag, of om al jou klere te laat rondlê vir iemand anders om te tel, of om altyd te kla en argumenteer oor alles - maar dit sê beslis iets omtrent jouself.


Werk daaraan om hierdie klein 'gewoontes' te verander wat jou terughou - maak alles waarmee jy besig is vandag klaar, moenie dit los vir iemand anders om te doen nie.

Maak 'n lys van dit wat jy weet jy gereeld doen wat jy nie moet nie - en begin hierdie gewoontes te verander in goeie gewoontes.

Niemand kan keer waarheen jy jou gedagtes lei nie. Daar is geen einde aan die vreugdevolle reise wat jy kan ondervind nie. Op die paadjie na jou geluk sal jy alles wat jy wil doen, wees of verlang, ontvang.

(Deur ander hul eie reistog toe te laat, laat jy joune toe!)

.

Thursday, January 2, 2020

Iets vir Vrydag



Ons keuses is nie reg of verkeerd nie, dis net 'n keuse. Maar alle keuses lei tot 'n gevolg en dié gevolg bepaal hoe jy jou lewe lei. Ek weet nie of daar 'n volgende leeftyd is om weer te probeer nie, maar wat ek wél weet is dat, in die aangesig van die onsekerheid daarvan, maak dit sin om nou, in hierdie leeftyd, hierdie oomblik, jou lewe te lei vol passie en met oorgawe, en om dít te doen waarvoor jy lief is.

Kom ons begin die nuwe jaar op 'n passievolle manier, vol hoop en verwagting vir alles wat nog voor ons uitgestrek lê.

Tuesday, December 31, 2019

Ek wil léwe... 31 Desember 2019


Geniet die lewe, gryp die dag aan! Hoe voel jy vandag? Wat is jou gemoedstoestand? Hoeveel geniet jy die lewe? Weet jy dat NOG 'n jaar nou alweer verby is?

Ek het hierdie oulike ding gelees oor bekommernis:

"Sluit die hekke van die verlede. Moenie aanhou terugkyk na die probleme en foute van die verlede nie. Sluit ook die hekke van die toekoms. Moenie bekommerd wees of vrees vir wat in die toekoms kan gebeur nie. Die toekoms is vandag. Hanteer vandag. Jy kan nie in die verlede leef nie, ook nie in die toekoms nie. Jy kan net vandag leef. Elke dag is 'n nuwe lewe, 'n nuwe begin. Berei jouself voor vir die toekoms deur vandag tot sy volle potensiaal te leef. As jy bekommerd is oor wat dalk more mag verkeerd gaan, was jy verniet bekommerd. En as dit dan wel gebeur, was jy twee keer bekommerd.”

.

Friday, September 6, 2019

Maak vere die voël?


Hoeveel maal het jy al gevoel dat mense jou nie sien soos jy werklik ís nie? Ons almal weet jy word na jou klere en voorkoms geoordeel en dieselfde gaan vir hoe jy jouself gedra en ook vir wat jy sê, en hoe jy dit sê. 

Maar ons ken ook almal die Engelse gesegde, “Don’t judge a book by its cover”, en ons almal weet hoe waar dít is. Hoeveel maal al het ek ‘n boek gekoop omdat die voorblad so pragtig was, net om uit te vind dit dit die grootste lees-snert is wat ek al ooit teëgekom het. En ‘n boek met die aakligste voorblad het ek al oor en oor gelees. 

Jy is dus vry om jouself te gedra soos jy wil en ook te sê wat en hoe jy wil, maar onthou dat jy dan daarvolgens geoordeel sal word en baie wonderlike geleenthede sal misloop as gevolg van jou “lelike voorblad”, en dus dan nie moet kla dat niemand jou ‘verstaan’ nie. Maar indien iemand wel verder kyk as jou “lelike voorblad” en die ware jy ontdek, sal jy ‘n vriend of vriendin hê wat jou waarlik lief het vir jouself, vir wie jy werklik is. 

::

Wednesday, May 15, 2019

'n Tyd om aan te vul


'n Week sonder kreatiwiteit - nee, langer as 'n week... en die snaakse ding is dat ek eintlik verbaas is dat ek nie skuldig voel daaroor nie. Met 'kreatiwiteit' bedoel ek skets en skilder. Gewoonlik voel ek ongemaklik, al asof iets kortkom, as ek vir 'n paar dae nie geskilder of geteken het nie. Hierdie keer is dit anders - 'n stilte het sommer net neer gedaal... 

Ek het vir die afgelope twee jaar elke dag van my lewe iets geskilder, al was dit net 'n klein sketsie in een van my skets-joernale. Dit was soos tande borsel en iets wat ek verskriklik geniet. Maar oor die afgelope paar weke het my gedagtes, en hande, in ander rigtings begin beweeg - bietjie aandag gegee aan my huis se dekor; die tuin, wat 'n hele winter verwaarloos was, begin opgeknap; klein instandhoudingstakies wat lank verwaarloos was, weer aangepak en van my te-doen-lysie afgeskraap.


Ek maak ook gebruik van hierdie 'stil' gevoel wat oor my gedaal het om weer my yoga te beoefen, ook iets wat in die slag gebly het die afgelope twee jaar. 'n Jaar of twee terug het ek gereeld elke oggend gemediteer en ek het onlangs besef hoe baie ek dit mis. So, vyf-uur in die oggend is my spesiale stil tyd, wanneer ek siel en liggaam bymekaar skraap en ontslae raak van enige lastige pla-gevoelens. 


'n Ander voorliefde van myne was om te skryf. Briewe te skryf. In my Joernale te skryf. Deurdat ek so baie tyd voor die rekenaar en op die internet deurbring, het hierdie genotjie my begin ontglip. Mens praat met al jou vriende en familie op FaceBook en op Skype, gesels met almal in hul blogs en stuur boodskappe met jou Smartfoon. Oor die afgelope paar weke het ek weer begin om briewe te skryf, meesal aan my klein kinders, en hulle dink seker hul ouma is van haar sinne beroof! Maar ek kannie vir jou sê watse heerlike genot dit is om weer 'n vulpen vas te hou en toe voel hoe dit oor die papier gly nie! 


Maar eintllik is al hierdie dinge ook maar 'n tipe van kreatiwiteit - enige iets wat die siel streel is gaaf met my! 

::



Saturday, March 2, 2019

Daar is genoeg van Alles, vir Almal!


Baie van die besprekings oor aardverwarming gaan oor die feit dat die mens besig is om al die hulpbronne van ons Moeder Aarde uit te put. 

Ek wil graag hê dat mense moet besef dat hulle siening dat daar nie "genoeg" vir almal is nie, verkeerd is en nie gevalideer of geldig is nie. Julle konklusie dat daar nie genoeg van iets is nie—of dit nou grond is of geld of helderheid of hulpbronne is—jou gevoel dat daar nie genoeg van iets is nie, is afkomstig van die feit dat jy 'n vibrasie geleer het, sonder opset, wat jou apart hou van dit wat jy begeer. 

Jy impliseer dat daar nie genoeg in die emmer is nie, dat daar nie genoeg in die hoop is nie, dat daar nie genoeg in die Bron is nie—dat die Bron van waar jy alles moet kry 'n limiet het. En aangesien die Bron gelimiteer is, is dit al daardie boggers wat dit reg gekry het om alles vir hulle self te vat, se skuld dat daar niks oor is vir jou nie. 

En ek sê, o wee, julle kannie verder van die waarheid wees omtrent die oorvloed van die Bron nie! 

Daar is nie 'n tekort nie. As jy kan identifiseer wat jy begeer, dan herken Bron Energie jou begeerte en begin dit onmiddellik aan jou uit te lewer—en dit sal manifesteer in jou ondervinding, in die volheid, op 'n manier wat jy, en alleenlik jy, kan leer om dit toe te laat. 

En soos jy die dinge herken wat jy nie het nie, en hoe meer jy daarop fokus en sê, ek het nie dit of dat nie en dat ek regtig dit of dat wat ek nie het nie wil hê, en ek wil regtig hê wat ek NIE het nie, wil ek vir jou sê dat jy nie terselfdertyd kan FOKUS op iets wat jy nie het nie en dit dan na jou toe AANTREK nie, want in jou fokus op dit wat jy nie het nie, offer jy 'n vibrasie aan die Heelal wat sê, "Ek is die een wat dit nie het nie." 

Die Heelal is gebaseer op die wet van aantrekkingskrag, wat sê, "Die vibrasie wat jy uitstuur is die vibrasie wat jy ontvang." Jy kannie jou radio op 98.6 stel en dan verwag om 101 FM te ontvang nie—dit verstaan jy. Jy kan dus nie jou vibrasie stel op "ek het dit of dat nie" en dan in die plek wees om dit wat jy wil hê te ontvang nie, want die seine stem nie ooreen nie—en die wet van aantrekkingskrag reageer op die vibrasie van jou begeertes. Lekker, is dit nie? Lekker om te weet. So konstant—altyd konstant. 

Niemand affekteer jouself behalwe jy self nie. O ja, jy kan andere dop hou en opgewerk raak oor wat hulle doen. En dan voel die Heelal daardie vibrasie. Maar jou vibrasie is joune. Jy het beheer oor jou vibrasie. En wanneer jy leer om opsetlik 'n spesifieke vibrasie uit te stuur, dan is jy die opsetlike skepper van jou eie ondervinding. 

En voordat jy leer om opsetlik 'n vibrasie uit te stuur, is jy maar net 'n skepper van jou ondervinding—'n soort van skepper by verstek (default).

As jy die vermoë het om dit te begeer, het die Heelal die vermoë om dit te voorsien.

::




Friday, January 4, 2019

Massa-bewustheid en Ons Aarde



Baie min mense is bewus van die konsep van "massa-bewustheid" en hoe dit ons en ons moeder aarde affekteer. Ons geestestoestand en aksies word grootliks bepaal deur dit wat ons hoor en wat om ons aangaan. 'n Tipe van indoktrinasie wat plaasvind deur waaroor mense praat en wat daar in die media gesê word.

En hoe meer slegte nuus die media adverteer (ons kan hulle nie blameer daarvoor nie, dit is wat koerante en TV programme laat verkoop), hoe meer praat die mense daaroor, en hoe meer die mense daaroor praat, hoe meer spits ons onself toe op al die negatiewe punte wat uitgebasuin word oor moord en roof en aardverwarming en onheil.

Die ding is om nie onsself toe te laat om geaffekteer te word deur al die stories en voorspellings van onheil nie - ons weet mos dat, deur ons gedagtes toe te spits op die positiewe aspekte van die lewe, ons meer van dieselfde sal aantrek na ons toe.

OORVLOED en gesondheid vir ons Moeder Aarde kan in werking gestel word deur almal van ons; ons is almal mede-werkers en kan, deur die lewens wat ons lei, die gedagtes wat ons dink en die aksies wat ons neem, bydra tot die skepping van oorvloed. En dit moet 'n prioriteit vir ons almal wees.


Monday, December 31, 2018

En dis oujaarsdag wat amper verby is


Om afskeid te neem is altyd hartseer. Selfs om afskeid te neem van die ou jaar. Al was dit gevul met seerkry of dalk verlies, is my wens vir jou dat jy alles wat goed en mooi is uit die ou jaar kan saambondel en saamneem die nuwe jaar in. Mag die nuwe jaar vir julle almal die geleentheid gee om op te styg – waarmee julle ook al besig is!

Daar was reën vroeër op hierdie donker nag,
buite sis, vlieg en donder vuurpyle,
die kat spring by die oop venster in,
daar was reën vroeër op hierdie donker nag,

Buite sis, vlieg en donder vuurpyle
klappers maak doem, doem, ka-boem en ka-boem,
honde blaf van vrees, tjank histeries buite my kamer,
buite sis, vlieg en donder vuurpyle.

Klappers maak doem, doem, ka-boem en ka-boem
en dis oujaarsdag wat amper verby is
teen half twaalf vier die bure fees,
‘n nuwe boodskap word deur my selfoon vertoon
en dis oujaarsdag wat amper verby is,

as hulle jolig hard sing en dans
asof daar iets groots in die nuwe jaar is
en hulle nie ‘n oomblik langer kan wag nie,
as hulle jolig hard sing en dans

... en baie later word dit veel stiller...
-Uittreksel vanaf

Tuesday, November 29, 2016

Prioriteite en keuses

Vandag wil ek praat oor die keuses wat ons almal in ons lewens maak.


Ek is mal oor ons Suid-Afrikaanse dierelewe en sal definitief in 'n volgende leeftyd sorg dat ek 'n loopbaan in daardie rigting kies. Intussen leef ek my liefde vir die dierelewe uit deur hulle te skilder!

Maar alles kom neer op prioriteite, en keuses, en klaarblyklik was dit nie vir my 'n prioriteit hierdie keer rond nie, want ek glo vas dat 'n mens volgens jou prioriteite lewe, wat vir jou belangrik is, of partymaal wat jy dink belangrik is.

Soveel mense lei 'n onvervulde lewe, met hul passies op die agtergrond geskuif deur omstandighede of omdat hulle doen wat hulle dink hulle móét doen om huis en haard bymekaar te hou. Ek weet party sal sê, "Ek sal graag 'n wildbewaarder wil wees, maar ek moet werk as 'n 'Boekhouer' want dis waarvoor ek gekwalifiseerd is en dit betaal die meeste", maar dis waar prioriteit inkom. Jy stel jou familie eerste, dus werk jy as 'n boekhouer. Dis jou prioriteit. En dis jou keuse.

Ons keuses is nie reg of verkeerd nie, dis net 'n keuse. Maar alle keuses lei tot 'n gevolg en dié gevolg bepaal hoe jy jou lewe lei. Ek weet nie of daar 'n volgende leeftyd is om weer te probeer nie, maar wat ek wél weet is dat, in die aangesig van die onsekerheid daarvan, maak dit sin om nou, in hierdie leeftyd, hierdie oomblik, jou lewe te lei vol passie en met oorgawe, en om dít te doen waarvoor jy lief is.

En onthou, "nothing is set in stone". Jy kan altyd jou keuse verander, veral as jy 'n vrou is!

Thursday, December 24, 2015

Soetgoed vir die siel



Sekere eienskappe is soetgoed vir die siel –
as ’n mens hulle in jou lewe het,
maak dit jou aanvaarbaar vir jouself en vir ander.

Almal hou van mense in wie se lewens hulle eienskappe soos liefde, geloof, hoop, entoesiasme en vrolikheid raaksien. Jou dag is sommer lekkerder as jy een van hierdie mense raakloop. Indien jy bereid is om hierdie eienskappe in jou eie lewe in te weef, sal jou teenwoordigheid vir ander mense vreugde verskaf.

"Jou siel het altyd met jou gevoelswêreld te doen. As ons baie lekker voel, sê ons ons is sielsgelukkig of sielsalig. Jou siel is die ware jy — die som-totaal van daardie dinge wat vir jou werklik belangrik is. Jou siel bevat jou verlangens, jou begeertes, jou passies. Dit is die setel van jou individualiteit. En jyself is die enigste persoon wat jou siel kan verryk — of verarm. 'n Siel, soos 'n huis, word deur sy eienaar gemeubileer. As mense se lewe dus koud en leeg is, kan hulle net hulleself blameer."
— Louis L'Amour

Mag die komende jare net vir jou VREUGDE, LIEFDE en INSPIRASIE inhou!



Friday, November 6, 2015

Dankverklaring 5 - Ek is dankbaar vir my inkomste (Affirmasie)


Ek is SO dankbaar vir my inkomste.
Ek het 'n werk wat ek geniet,
'n uitstekende loopbaan en ek kan
alles bekostig vir my familie.


Saturday, October 10, 2015

Skuldgevoel Bring Jou Niks in die Sak nie



Skuldgevoel is self-minagting. Jy is liefde van self, liefde van alles, jy is liefde. Jy kannie terselfdertyd  liefde en skuldgevoel wees nie — hulle is twee teenoorgestelde vibrasies.

Jy sê, "Ek het besluit om netjies te wees. Ek gaan my bed elke dag opmaak". En dan dink jy aan al daardie beddens wat jy nie opgemaak het nie, en jy sê "Ek moet seker maar teruggaan en al daardie ander beddens opmaak". Wel, voorspoed met daai een! Jy kan onmoontlik nie iets omtrent daai beddens doen nie. Maak net jou bed vandag op!

Reik vir 'n goeie gevoel NOU, en vergeet van wat voorheen gebeur het, want jy kan buitendien niks daaromtrent doen nie, en jy wil ook nie. Op hierdie oomblik is jy hierdie suiwere, magtige, geseënde, geliefde, al-wetende en wat-alles-verdien mens. En enigiets wat voorheen gebeur het, het niks daarmee te doen nie.

.

Tuesday, September 15, 2015

Selfsorg en Vreugde



Ek hoor so baie vrouens kla oor die feit dat hulle nooit tyd vir hulself het nie en dat 'n ma en vrou se prioriteite altyd laaste kom. Hulle glo dit is maar hoe die lewe werk, en hoe gouer hul dit aanvaar, hoe makliker gaan hul deur die lewe gaan.

Waar stop 'n ma se veranwoordelikheid? Hoekom voel ons so skuldig oor als? Hoekom is ons so perfeksionisties waar dit die familie en ander se behoeftes aangaan, maar nie ons eie nie?

Van al die dinge wat ons lewens beÏŠnvloed, is ons oortuigings-sisteem seker die mees belangrikste.

Wat ons glo vorm ons uitkyk en gedrag en houding en as ons ons lewens wil verander en transformeer, kan ons dit nie doen sonder om ons oortuigings-stelsel te verander nie.

As ons waarlik ons lewe wil verander, moet ons leer om ons geloofstelsel te verander. Die goeie nuus is dat dit nie so moeilik is as wat dit klink nie! Vasbeslotenheid en dedikasie is al wat dit vat.

Ongelukkig vir meeste van ons, het ons meer self-limitasie oortuigings as konstruktiewe oortuigings. Ons GLO dat almal se behoeftes voor ons eie moet kom - ons kinders, ons eggenote, ons vriende - en dan is dit goed genoeg dat ons kry wat oor is. Dit is die EEN groot rede hoekom ons voel of ons vassit en asof ons 'n slagoffer van die noodlot is, dat ons nie in beheer van ons eie lewe is nie.

Die oomblik wat ons hierdie self-limiterende oortuigings verruil vir meer positiewe oortuigings, sal ons houding en gedrag outomaties verander om in te pas met ons nuwe oortuigings en nuwe en meer bevrydende moontlikhede in ons lewe aantrek.

Onthou toe jy laas op 'n vliegtuig was? Die lugwaardin het verduidelik wat jy moet doen in geval van 'n noodtoestand en het gesê,

"Indien jy saam met ander mense reis wat hulp nodig sal hê, sit asseblief eers jou eie suurstofmasker aan voordat jy die ander mense help."

Eenvoudige konsep, nê?

Jy kannie iemand anders help as jy nie kan asemhaal nie!

Selfsorg is dieselfde.

Selfsorg is die absolute fondasie vir enige suksesvolle onderneming; of dit nou 'n besigheid is, of as 'n ouer, vennoot of vriend - van 'n pure fisiese standpunt, hoe beter jy agter jouself kyk, hoe meer energie het jy om in jou lewe in te sit.

Van 'n energie standpunt, hoe meer gebalanseerd en gelukkig jy voel, hoe makliker kan jy jou lewe genotvol vervul.

Benewens, die manier wat jy jouself behandel, wys aan ander dat jy verwag dat hulle jou goed behandel.

Byvoorbeeld, as jy 'n unieke tipe diens of produk lewer en jy vra nie vir betaling nie, dan stel dit voor dat geld nie vir jou belangrik is nie, en kan jou kliënte dalk dink jou diens is nie waardevol of van belang nie.

Dink vir 'n oomblik aan die week wat verby is :

Het jy tyd gehad vir jouself?
Wie se behoeftes het eerste gekom - joune of almal om jou?
Het jy 'ja' gesê vir dinge waarvoor jy liewers wou 'nee' sê?
Het jy gevoel jou tyd was jou eie?

Stap #1: Skeduleer tyd vir self-sorg
Die wêreld gaan jou nie vra of jy ekstra tyd vir jouself nodig het nie - dis jou werk om die grensperk te stel en tyd vir jouself te maak!

'n Maklike manier om jouself 'n prioriteit te maak en 'n sterk fondasie te lê vir selfsorg is om 'n tyd te skeduleer, dieselfde soos jy tyd skeduleer vir al jou take gedurende die dag, maar sit selfsorg EERSTE in jou beplanner.

Om geld te spaar, sê die deskundiges jy moet 10% van jou inkomste eenkant sit sodat jy dit nie spandeer nie. Dis dieselfde met tyd vir jouself.

Elke week, besluit watter selfsorg dinge is vir jou belangrik en sit dit in jou beplanner. Wil jy yoga doen? Wil jy 5 minute mediteer in die oggend? Wil jy al die familie oorhê vir ete Woensdag aande? Wat van jou haarbestelling? Besluit wat is vir jou belangrik en skryf dit in en beplan die res van jou tyd om dit. Jy sal verbaas wees hoe maklik en bemagtigend dit kan wees!

Stap #2: Soveel moontlik, sê alleenlik JA as jy dit regtig bedoel
Vind jy gereeld dat jy ja sê vir versoeke wanneer jy wens jy kon nee gesê het? Hoe laat dit jou voel? Voel jy gegrief om êrens te wees waar jy nie wou wees nie? Natuurlik sal daar altyd aktiwiteite wees wat jou aandag moet geniet en waarvoor jy nie lus is nie, maar daar is ook gewoonlik altyd keuses rondom hulle.

Probeer hierdie :

- Wanneer iemand jou vra om iets te doen, huiwer, haal diep asem en dink regtig na daaroor.
- As dit jou nie genoeg tyd gee nie, sê jy moet eers jou dagboek nagaan.
- Wanneer jy besluit, voel wat jou liggaam en jou verstand jou vertel.
- Wees bewus van die seine vir elke besluit en gee dan jou antwoord.
- Hierdie sal dalk eers baie selfsugtig voel, maar dit is eintlik respekvol, vir jouself en ander.

Byvoorbeeld, as jy na 'n partytjie gaan en jy wou nie eintlik nie, dink jy nie andere kan dit aanvoel nie? Liggaamshouding spreek volumes!

Dit word gesê dit neem 21 dae om 'n nuwe gewoonte te vorm - gedurende die volgende maand, beoefen selfsorg op nuwe maniere, wees bewus van jouself en erken elke manjifieke selfsorg stap wat jy neem.

Wees ekstra gaaf teenoor jouself, en onthou om jou masker op te sit!

- Jy is die enigste een wat in jou behoeftes kan voorsien.
- Dit is jou taak on jouself eerste te stel in jou lewe, wetende dat jy dan voller kan  konnekteer met almal om jou.
- Dit bedoel jy is 'n beter eggenote, vriend, ouer, ens.

Deur meer vrede in jou lewe te bewerkstellig, is daar meer vrede in die wêreld.

Red die wêreld vandag deur uitstekend vir jouself te sorg!

::

Saturday, August 22, 2015

Thursday, June 25, 2015

Dankverklaring 4 - Ek is dankbaar ek is gebore (Affirmasie)


Ek is dankbaar dat ek gebore is - 
Ek is dankbaar vir my huis, my motor, 
my familie, my vriende, my gesondheid 
en die gevoel van genot wat ek elke dag beleef.

::

Wednesday, April 22, 2015

Vertroue, Geloof en Hoop



VERTROUE
Eendag het al die dorpsmense besluit on te bid vir reën. Op die biddag het al die mense bymekaar gekom in die dorpsplein - en net een seuntjie het opgedaag met 'n sambreel...
dis Vertroue

GELOOF
Geloof behoort te wees soos die gevoel wat 'n een-jaar oue baba het wanneer jy hom in die lug opgooi, hy lag ... want hy weet jy sal hom vang...
dis Geloof

HOOP
Elke aand gaan slaap ons sonder die wete dat ons die volgende oggend sal wakker word, en tog maak ons planne vir môre...
dis Hoop

.

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...