.

Haai, my naam is Maree!

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Friday, August 13, 2021

Hoe bly 'n mens vreugdevol?


As ons soms na onsself of na ander mense luister, is dit opvallend dat een saak vlak in die harte van baie mense lê: die behoefte aan vreugde! Vreugde is nie net 'n emosie nie. Dis 'n geestestoestand wat ons gereeld aan moet werk om aan die lewe te bly.

Hedendaags is dit so maklik om negatief te wees - die tydskrifte, die koerante, die internet - is almal vol van chaos en pyn en negatiewe verslae van moord en doodslag.

'n Vreugdevolle lewe is iets wat jy vir jouself skep deur elke dag dankbaar te wees vir dit wat jy het. Vreugde is 'n geskenk wat jy aan jouself gee deur jou fokus van jou eie pyn en probleme te verskuif na iets anders en dit maak geleenthede oop om die wêreld positief te beïnvloed.

Onthou, dit waaraan jy gereeld dink, word werklikheid. Een manier om vreugdevol te bly is om te aanvaar dat dinge nooit perfek gaan wees nie. Ons dink alles moet eers perfek wees voor ons waarlik kan leef. Nou ja, dinge gaan nooit 100% perfek wees nie. Om tevrede te wees te midde van jou omstandighede is ’n goddelike ding. Om vergenoegd te leef vra dankbaarheid. Raak vandag bewus van al die seëninge in jou lewe.

En moenie dat seer jou vreugde steel nie. Daar's 'n tyd en 'n plek vir alles - daar's 'n tyd om seer te voel en dit dan te oorleef. Daar's 'n tyd om te lag, en selfs net te glimlag, en die oomblik se vreugde diep te voel sodat dit telkens uit jou onderbewustheid opgegrawe kan word om weer te onthou.

So waak teen daai "klein jakkalsies" wat weer en weer probeer om jou vreugdes te steel. Kyk na binne om te sien of daar enige nare klein vreugdediewe rondsluip en sodra jy hulle geïdentifiseer het - dáárdie vriendin wat gereeld kla - verwyder dit uit jou lewe.



Dit kom neer op wat jy kies om te doen. Dis uiteindelik jou keuse of jy vreugde ervaar of nie.





Saturday, June 26, 2021

Voel jy oorweldig deur die lewe? Verseker jou gevoel van Oorvloed



Is jy moeg daarvoor om gedurig na iets te soek of oor iets te val? Het jy te min tyd om iets daaraan te doen? Hoe kan jy in 'n geestestoestand van Oorvloed verkeer as jy oorweldig voel deur alles om jou? Hier praat ek oor hoe om orde in jou huis te skep met 15 maklike wenke!

WENK 1 Gooi dit uit
As jou huis oorvol is en jy nie meer plek oor het om iets te stoor nie, moet jy dit ernstig oorweeg om sekere items weg te gooi of weg te gee. As jy iets nuut aanskaf, moenie al die ou items in jou garage of pakkamer pak nie. Skenk dit eerder vir liefdadigheid.

WENK 2 Dink binne die boks
Koop houers waarin jy oortollige items kan plaas. Dit is veral handig om kratte vir jou kinders te koop waarin hulle byvoorbeeld speelgoed kan pak.

WENK 3 Maak 'n molshoop van 'n berg
Die meeste van ons kry gedurig gemorspos. Hierdie gemorspos kan vinnig in 'n berg papiere verander, so moenie toelaat dat dit ophoop nie. Lees dit onmiddellik en gooi dit dan in die asblik.

WENK 4 Hou dit bymekaar
Belangrike pos kan net so 'n kopseer soos gemorspos wees. Plaas rekeninge naby jou sodat jy dit nie uit die oog verloor en vergeet om dit te betaal nie. Hou ander belangrike pos soos uitnodigings bymekaar sodat jy daarvan onthou.

WENK 5 Mooi sonder moeite
As jy versamelaars-items het wat jy graag in jou huis wil uitstal, plaas dit in 'n vertoonkas van glas. As dit op 'n gewone tafel of kas staan gaan dit vinnig stof vergader en veroorsaak dat jy meer tyd daaraan spandeer om dit af te stof as om dit te bewonder!

WENK 6 Gaan groot
Indien jy nog nie al die meubels gekoop het wat jy nodig het vir jou huis nie, of as jy van ou meubels ontslae wil raak en nuwe meubels wil koop, oorweeg dit om 'n paar groter stukke te koop eerder as 'n versameling kleintjies. Dit sal op die oog af lyk asof jou huis heelwat spasie het.

WENK 7 Volkome voorbereid
As jy sekere items nodig het wanneer jy uitgaan, sorg dat dit betyds by die voordeur is sodat jy nie daarna hoef te soek nie. Voorbeelde hiervan is klere wat na die droogskoonmaker toe moet gaan, winkel-items wat omgeruil moet word en items wat reggemaak moet word.

WENK 8 Goedkoop koop is duur koop
Moenie in die versoeking kom om gedurig iets by 'n uitverkoping te koop nie. Vra jouself of jy dit regtig nodig het, want die kans is goed dat dit jou huis net nóg voller gaan maak.

WENK 9 Skep herinneringe
Neem ander mense se huise ook in ag wanneer jy vir hulle geskenke aanskaf. Moenie iets koop wat waarskynlik net 'n wit olifant gaan wees nie. In plaas daarvan om 'n geskenk te gee kan jy hulle uitneem vir ete, 'n fliek of 'n teaterstuk.

WENK 10 Oos, Wes, Tuis Bes
Maak seker dat alles in jou huis 'n spesifieke "tuiste" het en sorg dat almal wat in die huis woon daarvan weet en daarby hou. As 'n mens 'n item altyd op dieselfde plek bêre, sal dit nie maklik wegraak nie.

WENK 11 Geraamtes in die (klere) kas
Maak jou klerekas oop en wees eerlik met jouself: dra jy alles en hou jy van alles daarin? Dit help nie om kaste vol klere te hê wat nie gebruik word nie. Gee dit eerder vir iemand wat dit wel sal dra.

WENK 12 Haal die chaos uit wasdag
Wasgoed wat ophoop kan vinnig 'n kopseer word. Sorg dat elke gesinslid weet presies wanneer jy wasgoed was sodat hulle sorg dat al hulle wasgoed betyds by jou is. As dit klaar gewas is, kan elke gesinslid hulle eie klere self gaan haal en wegbêre.

WENK 13 Skottelgoed sonder sukkel
Die sleutel tot 'n skoon kombuis is om nie skottelgoed te laat ophoop nie. Was dit so gou as moontlik of gebruik 'n skottelgoedwasser. Gesinslede kan beurte maak om skottelgoed te was.

WENK 14 Wat geld vir die huis, geld vir die res
Moenie net aandag daaraan skenk om jou huis te orden nie, maar pas ook hierdie wenke op jou garage, pakkamer en tuinskuur toe. 'n Mens is geneig om te vergeet van daardie areas omdat jy nie soveel tyd daar spandeer nie.

WENK 15 Onthou om te onthou
Hou aan om hierdie wenke te volg. Dit moet 'n permanente ingesteldheid word. Om elke dag tien minute te spandeer om seker te maak dat alles op hulle plek is, gaan jou ure se moeite op 'n latere stadium spaar.

Groete,

MAREE

.

Tuesday, June 15, 2021

Waar kom jou hulp vandaan?



Selfhelp is ’n populêre sindroom eie aan ons tydsgees van kitsoplossings en gemak. Daar is wel tye wanneer jy jouself kán help. Soos wanneer jou kar se wiel pap is. Maar as jou psige se wiele afblaas, is dit beter om ’n sielkundige te raadpleeg.” Só glo André Grundling, sielkundige met ’n privaatpraktyk in Uitenhage.

Sielkundige hulp
Die mens is n komplekse wese. Die buiteblik van ’n professionele, neutrale persoon help jou om beter perspektief te kry oor wat jou pla. Boeke en tydksrifte kan wel troos, maar dis soos ’n pleister op die wond. Selfhelpboeke vereenvoudig probleme en bied onrealistiese kitsoplossings. Terapie breek deur die komplekse lae van jou psige. Jy het soms nodig om jouself te hoor praat.”

Wanneer gaan klop jy by ’n sielkundige aan? Jou liggaam, emosie en denke stuur dikwels boodskappe in die vorm van simptome: ’n gevoel dat jou lewe betekenis verloor het of iets meer fisies soos ’n angsaanval. Dit tas jou menswees aan en skielik voel Dr Phil vreeslik ver weg.

Wat jy nodig het voor jy ’n sielkundige besoek is waagmoed, eerlikheid, geduld en ’n bereidwilligheid om te verander. Sáám ontgin ons dan die probleem. Daarna is dit ’n stap vir stap proses. Eers herken jy jou probleem, dan erken jy jou probleem en dan takel jy hom. Hoewel ’n probleem soms nie opgelos kan word nie, kan dit wel beter bestuur word.

Terapie n veilige hawe waarbinne elke mens groei en ontwikkel. Daar’s niks vreemd of mal daaraan nie. Dis ook gemik op lewenskwaliteit en persoonlike verryking. Sokrates het immers nie verniet gesê die lewe wat nie ondersoek word nie is nie die moeite werd om geleef te word nie!

Selfhelp
Om jouself te help is bemagtiging op sy beste, só glo ek. As jy op ander staatmaak om jou probleme op te los, raak jy afhanklik. Jy moet leer om keuses te maak en besluite te neem oor jou eie lewe. Deur die proses van selfhelp leer jy om jouself te vertrou en dit beteken groter eiewaarde en selfvertroue. Is dit nie iets om na te streef nie?

Elke persoon kán homself help. Wees eerlik met jouself. Soms verkry ons onbewustelik voordeel uit ’n probleem en dis wat maak dat probleme voortduur. Vra jouself: ‘Hoe graag wil ek hierdie probleem oplos?’ en ‘Wat kry ek uit die probleem?’” As jy byvoorbeeld nooit nee sê nie, mag dit onderliggend wees tot die gevoel dat jy spesiaal is vir iemand of daardeur voel mense het jou nodig.

Hoekom het so party mense drama in hulle lewe en ander nie? Ons gedagtes beïnvloed elke deel van ons lewe. Wees bewus van gedagtes in jou kop en die woorde wat jy praat. Dít bepaal jou realiteit.

Die selfhelpproses behels die neerskryf van gedagtes. Wanneer jy jou gedagtes in swart en wit voor jou sien, help dit om die probleem duideliker te sien. Herskryf jou gedagtes positief. Werk met jou nuwe gedagtes en onthou verandering neem tyd.

Henry Ford het gesê het: “Of jy dink jy kan of jy kan nie, jy is reg.”

Dis só waar. Besluit self, hoe jy na die lewe wil kyk.

"Ek moet bewus wees van slegte dinge..."
Baie mense glo, "Ek moet bewus wees, en waak teen, slegte dinge en ek moet uitkyk vir slegte dinge en myself net na goeie dinge lei."

Jy kannie albei terselfdertyd doen nie. Jy kannie op die uitkyk wees vir slegte dinge en dan probeer toelaat vir net goeie dinge nie. Dit is vibrerend onmoontlik... 

.

Thursday, June 3, 2021

Sewe dae, en sewe belangrike lewensaspekte

Dis al wat jy nodig het om jou lewe te herskep – van jou beeld tot jou finansies en selfs jou verhoudings. Dit is moontlik!


DAG 1: Begin in jou kop
Jy hoef nie jou bankrekening leeg te maak vir ’n nuwe voorkoms nie - jy moet begin by wat in jou kop aangaan. Sê vir jouself jy is suksesvol en gelukkig. Leef dit uit. Glimlag meer. Begin jou nuwe voorkoms van binne.

Eers dan kan jy aandag aan jou uiterlike gee. Net iets kleins soos ’n nuwe haarstyl of haarkleur kan ’n groot verskil maak. Jy het nie ’n hele nuwe klerekas nodig nie. ’n Paar mooi onderkleertjies en een verruklike uitrusting kan jou klaar soos ’n prinses laat voel.


DAG 2: Luister na jou emosies
Ons emosies is soos ’n barometer want dit wys ons wat in ons lewens aangaan. Leer hoe om na jou emosies te ‘’luister’’. Dink na oor die dinge in jou lewe waarmee jy nie tevrede is nie. Soms kan jy nie die situasie verander nie, maar jy het beheer hoe jy dit gaan hanteer. “Let op die goeie dinge in jou lewe, die verhoudings wat jy gebou het en hoe maklik dit is om te lag” – ’n vars blik op die lewe sal jou emosionele toestand verbeter.


DAG 3: Wys jy waardeer mense
Knap jou verhoudings met mense op - jou verhoudings kan beskadig raak as jy nie genoeg erkenning en waardering aan mense gee nie. Wys dat jy jou verhouding met hulle en hulle as mense waardeer. As jy by iemand is, wys jy wíl daar wees. Al is jy hoe besig, moenie wys jy wil so gou moontlik wegkom nie.

DAG 4: Soek die positiewe
Ongeag in watter situasie jy jouself bevind, daar is altyd positiewe en negatiewe keuses. As dit eers ’n gewoonte is om te kies om positief te wees, sal dit later tweede natuur word. Ongeag watter negatiewe dinge rondom jou plaasvind of hoe maklik jy dinge in ’n negatiewe lig sien, dis altyd moontlik om positiewe denke te ontwikkel – niemand is ’n gebore pessimis nie!

DAG 5: Doen iets vir andere
Eerder as om net elke dag te probeer oorleef en heeltyd oor alles te kla, moet jy liefs optimisties wees en ander help. Nie net laat jou goeie daad iemand anders glimlag nie, maar jyself sal ook sommer baie beter voel oor die lewe. Fokus op die nou en nie op die probleme van môre nie. Geniet vandag en benut elke geleentheid wat oor jou pad kom.



DAG 6: Kry beheer
Die grootste verskil wat jy binne een dag aan jou finansies kan maak, is om die probleem-areas te identifiseer en te besluit hoe jy dit gaan regstel. Dit kan ’n moeilike proses wees, maar jy gaan nêrens kom as jy nie ’n begin maak nie.

DAG 7: Gee dit oor aan die Heelal
Jou omstandighede speel ’n groot rol in wie jy is. Dalk kom jy uit ’n gebroke huis, het ’n geliefde aan die dood afgestaan of is mishandel. Omstandighede kan jou kwaad en verbitterd maak. Jou taak as mens is om hierdie dinge te laat gaan deur die persone wat jou seergemaak het – sowel as jouself – te vergewe.

Teen die einde van die week sal jy baie meer in voeling wees met dié sewe aspekte van jou lewe. En hoewel ’n mens nie alle probleme binne ’n dag kan regstel nie, is ’n klein verandering reeds genoeg om te begin vordering maak – selfs met die grootste uitdagings!

Voorspoed aan almal!

MAREE


.

Saturday, May 15, 2021

Wees lief vir jouself

''Jy kannie 'n ander liefhê totdat jy jouself waarlik liefhet nie.''

 
Tot in my dertigs het ek nooit veel aandag gegee aan wat hierdie gesegde eintlik bedoel nie. Ek het van een aktiwiteit na 'n ander beweeg, probeer om 'n leemte wat daar was te vul maar ek het nie geweet hoekom nie. Ek het altyd probeer om in te pas, probeer dat almal van my hou, probeer om almal se goedkeuring weg te dra. 

Derhalwe het ek nooit die tyd geneem om agter te kom wat spesiaal en uniek omtrent myself was nie.

Self-liefde is 'n vibrasie.
As ek myself lief het en ek dink ek is cool, dan wys dit. As ek skaam voel oor wie ek is, of as ek fokus op wat ek 'moet doen' of wat ek 'moet wees', dan wys dit ook.

As jy al ooit in die teenwoordigheid van iemand was wat baie self-bewus is, sal jy weet wat ek bedoel.

Ek was eers daardie persoon.

Ek was so behep met hoe ek lyk aan die buitekant, wat eintlik net 'n weerspieëling was van hoe ek binne gevoel het, dat ek seker baie self-betrokke voorgekom het.

Ek kon nêrens behoorlik teenwoordig wees nie, en ek is seker almal om my het gedink ek is nie in hulle geïnteresseerd nie - wat nie so was nie.

Ek was net ellendiglik ongemaklik in my eie vel.


"Ons is almal gebore met een ware liefde... onsself. As jy jouself liefhet, dan sal almal!"

Die fokus van hierdie artikel is Self-Liefde en verduidelik maniere om op jouself verlief te raak en maniere om daardie liefde uit te spreek.

Miskien is jy soos ek en sien die skoonheid in ander mense. Ek hoop nadat jy hierdie artikel gelees het en rond gespeel het met die verskillende konsepte, jy jou eie unieke betowering net so maklik sal sien!

Stap Een:
Wat vind jy innemend omtrent jouself? Wat het jy lief omtrent jouself?

Dalk het jy hierdie vraag nog nooit voorheen gehoor nie. Jy sal dalk liewer wil dink, "Wat kan ek verbeter omtrent myself?" maar ons bêre dit eers tot later. . Elkeen van ons is uniek op betowerende maniere. Sommige van ons besit fisiese skoonheid, sommige is artisties, sommige het die IK van 'n genie, sommige is ontsettend sterk, ens. Sommige van ons het miskien "minder duidelike" eienskappe, maar op 'n aardse vlak speel elkeen van ons 'n belangrike rol met die kwaliteite wat ons verpersoonlik.

Ons is spesiaal. Ons almal word benodig. Ons is betowerend!

Neem 'n oomblik en skryf neer wat jy omtrent jouself lief het.


1. .........................................................................

2. .........................................................................

3. .........................................................................

4. .........................................................................

5. .........................................................................

6. .........................................................................

7...........................................................................

8. .........................................................................

9. .........................................................................

10. .........................................................................

11. .........................................................................

12. .........................................................................

13. .........................................................................


14. .........................................................................

15. .........................................................................

Loop na die spieël, kyk diep in jou oë en sien of daar iets is wat jy tot nou nie opgemerk het nie. Vra 'n getroue vriendin vir hulp. Dink aan 'n tyd toe jy regtig vol self-vertroue gevoel het en skryf daaroor. Dink aan jou 'snaaksighede' wat jou vir jouself laat lag. Jy het vele wonderlike fasette - sien hulle raak!

Dra hierdie lys vir 'n paar dae saam met jou, en elke keer as jy jouself inspireer met jou uniekheid, sit dit by jou lysie. .

Teken aan enigiets wat jou aandag trek omtrent jouself... miskien laat jy altyd iemand voor jou gaan in verkeer, miskien glimlag jy vir vreemdelinge, miskien haal jy kwotasies aan in gesprekke en laat almal dus lag.

As jy dink aan Die Wet van Aantrekkingskrag wat sê, "ewebeeld trek ewebeeld", as jy jouself ten volle lief het, sal dit weerspieël word in diegene met wie jy in aanraking kom.

Ek neem aan hierdie is 'n moeilike taak vir meeste mense. Ons word dikwels geleer om nie ons eie beuel te blaas nie. Ek kan jou verseker niemand het nog 'n arm gebreek deur hulself op die rug te klop nie!

Die doel van hierdie oefening is om maar net te begin. Ek glo dat teenwoordigheid 85% van alles is.

Wees teenwoordig vir jouself deur jouself lief te hê. Begin vandag!


Stap Twee: 
Werk liefdevol met enigiets wat in die pad staan van totale, passievolle Self-Liefde. . As jy dalk in jou spore gestop is deur Stap Een, ondersoek dit 'n bietjie meer. Vra jouself, "Wat staan in die pad van om myself totaal lief te hê?" en vereer dit wat te vore kom.

Dis dalk net 'n ou oortuiging in jou onder-bewussyn - dalk is dit iets groter.

Vir my, voordat ek pens en pootjies in self-liefde kon induik, was dit dat ek eers my eie storie moes verstaan, wat 'n trauma van my kinderdae ingesluit het en wat ek onderdruk het. Totdat ek dít erken het, en derhalwe opgeklaar het, het ek soos 'n halwe persoon gevoel, wat sin maak aangesien daar so 'n groot stuk van my lewe weg was.

As iets vir jou tevore kom, klein of groot, kry ondersteuning vir jouself. Dit help geweldig met die opklaring van ongedane sake van die verlede.

Stap Drie:
Vier Self-Liefde met Self-Sorg.

As jy 'n geliefde in jou lewe het, is ek seker jy het vir hulle 'n geskenk of kaartjie gekoop vir 'n spesiale geleentheid. Doen jy dieselfde vir jouself?

Self-sorg is 'n verpligtende stap in enige poging of strewe. As jy dit oorslaan, dan gaan dinge gewoonlik verkeerd.


Sonder self-sorg kan jy eenvoudig net nie teenwoordig wees vir ander mense of verpligtinge nie. .

Dit is hoekom die lugrederye aanbeveel dat JY eerste jou suurstofmasker aansit voordat jy andere probeer by staan. As jy nie kan asemhaal nie, kan jy dood eenvoudig niks anders doen nie.

Dink aan alles wat jy vir almal doen. As jy kinders het, dan weet jy die liefde wat jy voel en tot watter lengtes jy sal gaan vir hulle.

Nou gaan tot dieselfde lengtes vir jouself.

Dis hoe eenvoudig dit is!

Wanneer jy jouself lief het en jouself uitstekend versorg, vibreer dit uit na ander. Jy sal gloei! Jy sal reverbireer! Jy sal inspireer!

Mense sal vra, "Wat is anders omtrent jou?" Vertel hulle asseblief!

Wees van diens deur almal te laat weet hoe lief jy vir jouself is. Leer hulle hoe. Hoe meer liefde daar op die planeet is, hoe meer vrede sal daar wees.

Om af te sluit, los ek by jou hierdie inspirerende woorde van Marianne Williamson, wat baie spesiaal vir my is. Ek hoop dit inspireer jou om vandag jou Self-Liefde te ontwikkel en uit te brei en jou eie unieke prag te betree!
- Maree


Let Your Light Shine
Our deepest fear is not that we are inadequate.
Our deepest fear is that we are powerful beyond measure.
It is our light, not our darkness, that most frightens us.
We ask ourselves, who am I To be brilliant, gorgeous,
Talented and fabulous?
Actually, who are you not to be?

You are a child of the Universe.
Your playing small doesn't serve the world.
There is nothing enlightened about shrinking
So that other people
Won't feel insecure around you.
We were born to make manifest
The glory that is within us.
It's not just in some of us; it's in everyone.
And as we let our light shine,
We unconsciously give other people
Permission to do the same.
As we are liberated from our own fear,
Our presence automatically liberates others.
- Marianne Williamson



.

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...