.

Haai, my naam is Maree!

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Friday, May 20, 2022

My Vier Riglyne vir Welvaart in Jou lewe


Ek het vier riglyne wat ek glo 'n lewe vol oorvloed verseker... vir my werk dit perfek en verseker dat ek nooit iemand onnodiglik seermaak of verkeerd opneem nie... 

Wees onberispelik met jou woord. 
Moenie dinge persoonlik opneem nie. 
Moenie veronderstellings maak nie. 
Doen altyd jou beste. 

::

Uiteensetting :

1. Wees onberispelik met jou woord
Om onberispelik met jou woord te wees, is om te sê wat jy meen en te meen wat jy sê. Die manier waarby mense jou waarneem is deur jou gesproke woord asook jou aksies. As jy 'n belofte maak, kom dit so ver moontlik na. As iemand jou vir iets vra of jou vra om iets te doen, dink versigtig daaroor na, want om ja te sê wanneer jy nie seker is nie of dit nie bedoel nie, is seer sekerlik 'n smet op jou integriteit.

2. Moenie dinge persoonlik opneem nie
Wanneer iemand iets sê of doen wat jou omkrap, moenie onmiddellik aanneem dat dit teen jou gemik is nie - nie alles gaan oor jou nie en min mense gee genoeg om om jou spesifiek die teiken te maak, en dié wat dit wel met kwaadwilligheid doen, is nie die moeite werd om ontsteld oor te raak nie.

3. Moenie veronderstellings maak nie
Wanneer iemand iets sê of doen en jy maak 'n veronderstelling dat hulle 'dit of dat' bedoel het, loop jy die gevaar om vir jou 'n hele rits ongeluk op die hals te haal. Byvoorbeeld, as iemand iets belowe het en dit dan nie te na kom nie, en jy 'veronderstel' dat hulle dit nie gedoen het nie omdat hulle nie vir jou omgee nie, maar intussen lê hulle in die hospitaal met 'n gebreekte been, dan het jy jouself onnodige pyn veroorsaak deur 'n veronderstelling te maak sonder om die ware feite te ken.

4. Doen altyd jou beste
Of dit nou iets kleins of groots is, doen altyd jou beste in wat ookal jy aanpak. Nie alleenlik verhoog dit jou self-beeld nie, maar dit spreek ook van integriteit en wys ook aan ander mense dat jy altyd jou beste lewer en derhalwe ook die beste van almal verwag. Hoe mense jou behandel is direk verwant aan hoe jy jouself behandel.

Wees bewus van jou gedagtes; dit lei na houdings. 
Wees bewus van jou houdings; dit lei na woorde. 
Wees bewus van jou woorde; dit lei na aksies. 
Wees bewus van jou aksies; dit lei na gewoontes. 
Wees bewus van jou gewoontes; dit vorm jou karakter. 
Wees bewus van jou karakter; dit bepaal jou noodlot.

::

Wens jou 'n naweek gevul met sonskyn!

::



Die manifestasie van Vreugde

(Foto vanaf Pinterest) 

Wy jouself daaraan om vreugde te manifesteer in alles wat jy doen. 

Geluk het nie net een definisie nie. Dit is verskillend vir elke individu. En geluk is nie net te vinde in die groot dinge van die lewe nie. 

Dit draai nie net om die nuwe motor of die miljoen-rand woning nie. Geluk kan gevind word in 'n oulike grappie wat jou laat lag elke keer as jy daaraan dink. Dit kan gevind word in jou gunsteling rolprent wat jy elke Sondag kyk. Dit verbaas jou in die stem van 'n kind wanneer hy of sy jou vertel van hul dag. Geluk is binne jou en al om jou. Jy hoef nie te ver te soek om dit te vind nie.

Lig deurdring altyd donkerte. 

::
 

Friday, May 6, 2022

'n Voorspoedige en Voldane lewe


Om volkome te lewe is om elke oomblik bewustelik te lewe. Dit is om self-gemaakte lyding te verruil vir vrede deur aanvaarding en om toe te laat dat liefde angs vervang deur stilte en vrede.

Die lewe word nie bepaal deur wat met ons gebeur nie; dit word bepaal deur hoe ons hierdie ondervindings gebruik om hierdie 'n beter wêreld te maak. Ons bestemming word nie bepaal deur die paadjies wat ons ge-erf het nie, maar deur die paadjies wat ons self uittrap.

Binne elke storm van die lewe is 'n sleutel wat nog 'n deur sal oopsluit waardeur jy moet loop.

Om rustig te lewe bedoel nie dat ons wegskram van probleme of die verpligting om hulle op te los nie. Net die teenoorgestelde -- ons vind die helderheid en teenwoordigheid van gees om die daaglikse dinge meer konstruktief en positief te hanteer.

As jy 'n begeerte het wat jy nie kan versaak nie, dan het jy die eerste bestanddeel vir prestasie: 'n droom. Jou droom is al wat jy nodig het om te begin; dit is die bloudruk vir die toekoms.

Voorspoedige mense is in lyn met die lewe op 'n manier wat oorvloed aantrek. Hulle is in lyn met visie en begeerte, en hulle gooi nie tou op nie. Om aan te hou is om in die rigting van harmonie met die lewe te beweeg.

Ons kan kies om in die verlede te bly of ons kan die lewe deur die oë van 'n kind sien -- met nuutheid, vreugde en die opwinding van avontuur. As ons fokus op wat ons dink is 'n toekomstige eindlyn, dan mis ons iets spesiaals: vandag se klein oorwinnings.

Om hierdie oomblikke van vreugde te ontdek is een van die lewe se mees belonende avonture!

.

Friday, April 1, 2022

Ander se Keuses Hoef Nie 'n Bedreiging te Wees Nie



ANDER MENSE SE KEUSES HOEF JOU NIE TE BEDREIG as jy die magtige wette van die Heelal verstaan nie. As jy dit eers verstaan, sal daar nie die nodigheid wees vir verskansings, leërs, oorloë of tronkselle nie, want jy verstaan dat jy vry is om jou wêreld te skep soos jy dit wil hê terwyl andere hul wêreld skep soos hulle dit wil hê— en dat hulle keuses jou nie bedreig nie...

Daar is daardie dinge waarmee jy in harmonie is en daardie dinge waarmee jy nie in harmonie is nieen alles tussenin.  Jy het nie hierheen gekom om die dinge waarmee jy nie saamstem te onderdruk of te vernietig nie, want daardie dinge verander aanhoudend. Jy is hier om te identifiseer, van oomblik tot oomblik, wat dit is wat jy wil hê en om die mag van jou gedagtes toe te laat dat die Wet van Aantrekkingskrag vir jou werk.

::

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...