.

Haai, my naam is Maree!

Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.


Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!

dankbaar vir - die reuk van blomme vroeg in die oggend :: hierdie perfekte koppie stomende tee :: 'n taak wel gedaan :: Muesli en piesangs vir ontbyt :: 'n paar uur om te doen net wat ek wil :: 'n venster vol sonlig :: JOU!

::

Friday, April 1, 2022

Ander se Keuses Hoef Nie 'n Bedreiging te Wees Nie



ANDER MENSE SE KEUSES HOEF JOU NIE TE BEDREIG as jy die magtige wette van die Heelal verstaan nie. As jy dit eers verstaan, sal daar nie die nodigheid wees vir verskansings, leërs, oorloë of tronkselle nie, want jy verstaan dat jy vry is om jou wêreld te skep soos jy dit wil hê terwyl andere hul wêreld skep soos hulle dit wil hê— en dat hulle keuses jou nie bedreig nie...

Daar is daardie dinge waarmee jy in harmonie is en daardie dinge waarmee jy nie in harmonie is nieen alles tussenin.  Jy het nie hierheen gekom om die dinge waarmee jy nie saamstem te onderdruk of te vernietig nie, want daardie dinge verander aanhoudend. Jy is hier om te identifiseer, van oomblik tot oomblik, wat dit is wat jy wil hê en om die mag van jou gedagtes toe te laat dat die Wet van Aantrekkingskrag vir jou werk.

::

Saturday, January 15, 2022

Begin ‘n Dankbaarheidsjoernaal

Joernaal-aantekeninge is maar net die daaglikse skrywe van jou gedagtes en idees op papier. Dit kan ‘n grootse ondervinding wees. Hierdie proses kan jou ondersteun in die soektog na byvoorbeeld waaroor jy angstig voel, of waarvoor jy ‘n passie het en waaroor jy droom


Koop vir jouself ‘n pragtige notaboek en gebruik ‘n pen waarvan jy hou om mee te skryf. Ek gebruik ‘n ”Moleskine” notaboek (wat by enige goeie boekwinkel beskikbaar is in verskeie formate). Vind 20 stil minute of so in jou dag en ek stel voor jy maak dit ‘n roetine – ek doen myne net voor bedtyd of vroeg in die oggend – maar enige tyd wat jou sal pas is gaaf.


Skryf asof jy met jouself praat – skryf oor al jou gevoelens, wat jou pla of waaroor jy opgewonde voel, die dag wat voorlê of belangrike gebeure van die verlede en wat jy graag wil onthou. Ek sit alles in soos datums, plekke, die tyd, ens. Dit hoef nie meesterstukke te wees nie – hierdie is JOU joernaal en vir jou oë alleenlik. Ek plak ook sommer goeters of teken prentjies.

Ondersoek het duidelik bewys dat, om ‘n Joernaal te gebruik, stres verminder en die immuunstelsel versterk, sowel as die volgende voordele:

– dit laat jou beter voel oor die lewe
– dit maak jou meer optimisties oor die toekoms
– dit spoor jou aan om andere te help met hulle probleme
– dit verbeter jou gesondheid
– dit  gee rigting en helderheid

Daar is so baie dinge in hierdie lewe om voor dankbaar te wees dat ‘n mens honderde joernale kan volmaak en nog steeds nie alles genoem het nie. Leef met ‘n dankbare hart – leef met ʼn fokus op wat jy het eerder as dit wat jy nie het nie. Dan waardeer ʼn mens klein dingetjies in die lewe. Dan is jy ʼn tevrede mens wat oorloop van dankbaarheid. Daardie dankbaarheid in jou hart spoel oor  na ander mense en verryk alles en almal om jou.


Tuesday, September 14, 2021

Wanneer laas...?


::
Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander afspraak. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is. 

Hier buite was dit effens toegetrek met 'n ligte en aangename briesie. Lente is hier.

Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie. 

Hoekom nie? Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees? 

Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons omgaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het. 

Wanneer was die laaste maal dat jy 'n stil oomblik ervaar het? Net gesit het in niks doen nie, na die see gestaar, gesien hoe die wind in die blare speel, na die voëltjies geluister het, gekyk hoe 'n kers flikker of kinders dop gehou het terwyl hulle speel...? Hoekom dit nie vandag doen nie?


::

Friday, August 13, 2021

Hoe bly 'n mens vreugdevol?


As ons soms na onsself of na ander mense luister, is dit opvallend dat een saak vlak in die harte van baie mense lê: die behoefte aan vreugde! Vreugde is nie net 'n emosie nie. Dis 'n geestestoestand wat ons gereeld aan moet werk om aan die lewe te bly.

Hedendaags is dit so maklik om negatief te wees - die tydskrifte, die koerante, die internet - is almal vol van chaos en pyn en negatiewe verslae van moord en doodslag.

'n Vreugdevolle lewe is iets wat jy vir jouself skep deur elke dag dankbaar te wees vir dit wat jy het. Vreugde is 'n geskenk wat jy aan jouself gee deur jou fokus van jou eie pyn en probleme te verskuif na iets anders en dit maak geleenthede oop om die wêreld positief te beïnvloed.

Onthou, dit waaraan jy gereeld dink, word werklikheid. Een manier om vreugdevol te bly is om te aanvaar dat dinge nooit perfek gaan wees nie. Ons dink alles moet eers perfek wees voor ons waarlik kan leef. Nou ja, dinge gaan nooit 100% perfek wees nie. Om tevrede te wees te midde van jou omstandighede is ’n goddelike ding. Om vergenoegd te leef vra dankbaarheid. Raak vandag bewus van al die seëninge in jou lewe.

En moenie dat seer jou vreugde steel nie. Daar's 'n tyd en 'n plek vir alles - daar's 'n tyd om seer te voel en dit dan te oorleef. Daar's 'n tyd om te lag, en selfs net te glimlag, en die oomblik se vreugde diep te voel sodat dit telkens uit jou onderbewustheid opgegrawe kan word om weer te onthou.

So waak teen daai "klein jakkalsies" wat weer en weer probeer om jou vreugdes te steel. Kyk na binne om te sien of daar enige nare klein vreugdediewe rondsluip en sodra jy hulle geïdentifiseer het - dáárdie vriendin wat gereeld kla - verwyder dit uit jou lewe.



Dit kom neer op wat jy kies om te doen. Dis uiteindelik jou keuse of jy vreugde ervaar of nie.





LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...